Skokvideo is vigilante, nie xenofobie – polisie

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die polisie in Noordwes het Saterdag gesê ʼn afgryslike video wat soos ʼn veldbrand versprei van ʼn groep jong mans in Suid-Afrika wat lewendig aan die brand gesteek word, hou nie verband met xenofobiese aanvalle nie.

Dit hou glo ook nie verband met ʼn aanval op Zimbabwiërs soos wat op sosiale media aangevoer word nie, maar is vigilante wat uit weerwraak opgetree het na ʼn kroegbakleiery op 7 Maart in die Sondela- informele nedersetting in Rustenburg waartydens een persoon gesterf het.

“Dit het niks te doen met Durban nie en niks te doen met xenofobie nie,” het kol. Sabatha Mokgwabone, woordvoerder vir die Noordwes-polisie, gesê. “Daar is nie ʼn manier hoe ons kan sê dit word aan mekaar verbind nie.” Hy het verwys na aanvalle in Durban vandeesweek op uitlanders. Tydens die jongste voorval is twee Ethiopiërs met ʼn petrolbom aangeval in ʼn houer wat hulle as ʼn winkel en hul slaapkwartiere in Umlazi gebruik het.

Die skokkende video het Saterdagoggend op sosiale media die ronde begin doen, glo as bewys van die geweld teen uitlanders.

Die video wys die voorval in Rustenburg, en nie een van die slagoffers of aanvallers in die video is uitlanders nie.

Sabatha het gesê dit wil voorkom of niemand vreeslik aandag geskenk het aan polisieberigte op 7 Maart oor die vyf jeugdiges wat in Sondela aangeval is nie. Toe die SAUK egter beeldmateriaal ontvang, is die storie wyd versprei.

Volgens Mokgwabone was vyf jeugdiges op 7 Maart in ʼn kroeg in Sondela en hulle het met ʼn 30-jarige man begin baklei. Die bakleiery is stopgesit en almal het hul eie gang gegaan. Die vyf het egter later weer die 30-jarige man in die straat raakgeloop en hom met klippe begin bestook. Hulle het hom glo ook met “voorwerpe” aangerand. Die 30-jarige man is na die Tlabane-kliniek geneem, maar is met sy aankoms dood verklaar.

Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in Durban, het Saterdag gesê alhoewel die video nog nie onder sy aandag gebring is nie, het die polisie wat die gespanne situasie in die suide van Durban monitor, nog nie enige soortgelyke berig die afgelope week ontvang nie, en dit is dus nog ʼn aanduiding dat die voorval nie met xenofobiese aanvalle in Durban verband hou nie. “Ons moet versigtig wees met hierdie dinge, want soortgelyke video’s kan ʼn paniek veroorsaak. Ons het tot dusver nog geen kennis van die voorval nie.”

Intussen het sommige persone in die gebied gehoor van die aanval op die 30-jarige man en het besluit om in hul private hoedanigheid wet en orde te handhaaf, het Mokgwabone bygevoeg. Die jong mans is omsingel, aangerand en aan die brand gesteek. “Die polisie is uiteindelik ontbied en al vyf is na ʼn hospitaal geneem,” het hy gesê. “Vier het erge brandwonde opgedoen. Die vyfde persoon is nie ernstig beseer nie.”

Die polisie het nie in daardie stadium die jong mans aangekla vir die moord op die 30-jarige man nie, omdat hulle so ernstig beseer is. Een van die vyf, ʼn minderjarige, het op 9 Maart aan sy beserings beswyk. ʼn Tweede jeugdige het op 10 Maart gesterf. Volgens Mokgwabone is die ander twee nog in die hospitaal. “Die vyfde persoon is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van moord van die 30-jarige man. Hy het al drie of vier keer in die hof verskyn en moet op 28 April weer in die hof verskyn.”

Die polisie het intussen ook reeds een persoon in hegtenis geneem na die jeugdiges aan die brand gesteek is. Hy het reeds in die Rustenburg-landdroshof verskyn om aansoek te doen om borgtog en moet op 5 Mei weer in die hof verskyn. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord en moord.

Die vyf jeugdiges wat aangerand en aan die brand gesteek is, is Suid-Afrikaners. Volgens Mokgwabone is een van die persone in die Oos-Kaap begrawe.

Die 30-jarige man wat aangerand en gestenig is, was ook ʼn Suid-Afrikaner. Brig. Thulani Ngubane, ook ʼn woordvoerder van die polisie in Noordwes, het gesê hy het hierdie inligting reeds bevestig. “Die feit dat die aanval nie met xenofobie verband hou nie, maak dit egter nie beter nie. Mense moet ophou om die reg in eie hande te neem en toelaat dat die polisie misdaad hanteer,” het hy gesê. “Die polisie se ondersoek kan dalk tot ʼn ander gevolgtrekking kom as dit wat die skare besluit. Daar was ma’s en pa’s wat regtig moes ingegryp het en die aanval verhoed het.”

In die video lyk dit of een vrou probeer ingryp, maar dan tree sy terug tussen die skare.

Die SAUK het skermskote uit die video opgelaai aangesien die volledige video glo te grusaam is om uit te saai.

Bron: Jenni Evans en Jeff Wicks, News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

boer ·

barbaars se ek vir jou,dis barbaars. as hul dit met hul eie mense kan doen,dink net hoe dit lyk op n toneel waar n boerop sy plaas aangeval en gemartel is?
Ons dae is getel in SA, ons geskiedenis word eers vernietig en dan volg volksmoord

Leeutjie ·

Boer ek sit hier met wissellende emosies. Aan die een kant het hulle ‘n man vermoor en voel ek dat hulle erg gestraf is, en aan die anderkant skop my menswees in werking. As hulle eie mense nie reg in eie hande geneem het nie was daardie moordenaars vandag uit op parool…net om weer te moor! Ek voel in my Gees aan dat hulle wel gestraf moes word, maar was dit reg? Wat sou Jesus doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.