Skokvideo: Polisieman op kortafstand doodgeskiet

'n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot uit die video. Die video volg onderaan die berig.

WAARSKUWING: Dié video bevat geweld en is nie geskik vir sensitiewe kykers of kinders nie.

Die Noordwes-polisie is warm op die spoor van ʼn groep verdagtes wat Woensdag helder oordag ʼn winkel in Mooinooi beroof en ʼn polisiekonstabel koelbloedig doodgeskiet het toe hulle gevlug het.

Die skietvoorval is deur kringtelevisiekameras afgeneem en ʼn kopie daarvan, wat op ʼn selfoon afgeneem is, is kort daarna op sosiale media gedeel waar dit soos ʼn veldbrand versprei het.

Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 15:00 by ʼn plaaslike winkelsentrum in die dorp plaasgevind.

“Die slagoffer, konst. Johannes Mokotedi, en sy kollegas was op roetine-patrollie in die omgewing toe hulle niksvermoedend op die toneel afgekom het,” het Ramaloko gesê.

Hy het gesê ʼn groep verdagtes het pas ʼn plaaslike klerewinkel in die sentrum beroof en was besig om te vlug toe hulle Mokotedi en sy kollega in hul amptelike polisievoertuig sien.

“Twee van die groep het op Mokotedi losgebrand toe hy wou ondersoek instel. Hy is op ʼn kort afstand in die kop geskiet en is op slag dood. Daarna het die verdagtes weggejaag.”

Niemand anders is in die voorval beseer nie.

Die verdagtes is steeds soek. “Die polisie is besig om verskeie positiewe leidrade op te volg en hoop om die verdagtes spoedig aan te keer.”

Genl.maj. Jacob Tsumane, waarnemende polisiekommissaris van Noordwes, het Donderdag Mokotedi se familie gaan besoek om meegevoel te betuig.

“Mokotedi is die eerste polisiebeampte wat vanjaar in die Noordwes-provinsie doodgeskiet is terwyl hy aan diens was. Hy word oorleef deur sy vrou en twee kinders, onderskeidelik ses en agt jaar oud,” het Ramaloko bygevoeg.

Die  voorval kom te midde van ʼn mediaherrie wat losgebars het nadat drie polisiebeamptes glo ʼn vermeende rower in Krugersdorp koelbloedig doodgeskiet het.

Die beamptes het hulself Maandagoggend by die Krugersdorp-polisiestasie oorgegee, nadat beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wat deur die Sunday Times bekom is, wyd op sosiale media gedeel is.

Die beeldmateriaal wys hoe die vermeende rower, Khulekani Mpanza, op die polisiebeamptes losbrand terwyl hy vlug van ʼn rooftoneel. Die polisie skiet terug en Mpanza word gewond en val op die grond neer.

Terwyl hy op die sypaadjie lê tussen ʼn heining en ʼn afleweringsvoertuig, stap ʼn polisiebeampte nader en skop die bloeiende Mpanza. Dan stap die konstabel wat hom glo die eerste keer geskiet het, nader. Hy praat vlugtig met sy kollega voordat hy sy vuurwapen op Mpanza rig en hom oënskynlik koelbloedig doodskiet.

Vier polisiebeamptes het Dinsdag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.

Een van hulle, Dipuo Chipu, ʼn vrouepolisiebeampte wat van regsverydeling aangekla is, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak teen haar medebeskuldigdes, Titus Mabela, Jason Segole en Puleng Sebetwa, is tot 10 November uitgestel wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Dié drie word van moord sowel as regsverydeling, aangekla.

WAARSKUWING: Dié video bevat geweld en is nie geskik vir sensitiewe kykers of kinders nie.

[wpvideo FaxFWzZq]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Skattie ·

Dis verskriklik. Wat ek net nie verstaan nie is hoekom sy kollega in die vangwa klim en wegry – en dit in die teenoorgestelde rigting as wat die skieter gery het. Los hom net daar in die pad. Innige meegevoel vir sy vrou en twee klein kindertjies

BoereBikerBaby ·

ja nee die land is in sy dinges! wat ek net wonder is, as jy na die video kyk, waar kom die ander polisie man vandaan, en hoekom het hy nie eers gekyk of sy kollega ok is voor hy die bakkie vir een of ander rede wegtrek???

Genis ·

Kan iemand die video nie na die presidensiële amfiteater te Nkandla stuur om besigtig te word nie asseblief.

BoereBikerBaby ·

die ene wat die polisieman doodgeskiet het was in sy voertuig. en daar ontsnap hy toe die ander polisieman die saps bakkie wegtrek / ry. ek weet nie, dis bietjie snaaks.. iets is nie lekker daar nie.

Skim ·

Ek kan verstaan dat polisiebeamptes soms die reg in eie hande neem en rowers op sypaadjies doodskiet…….. Die polisieman in die video het nie eens n dreigende houding gehad teenoor die moordenaar nie. Dis juis omdat hulle bang is hulle word afgeneem en gekruisig in die media. Dis ook die rede dink ek dat hy nie met sy vuurwapen getrek op hulle afgestap het soos hy veronderstel was om te doen nie.

Dirk ·

Opleiding, opleiding en opleiding. Hy het als oorboord gegooi en met sy lewe geboet. Polisiemanne vergeet hulle is ook vlees en bloed.

SNEL ·

Dis vreeslik, dis skokkend! My hart is sommer baie seer vir sy familie, ek weet nie hoe hulle moet voel om dit te sien gebeur nie. Hierdie land is in sy m… en ek weet nie of hy ooit weer reg sal kom nie, want dit voel of dinge die laaste tyd net erger geword het.

GESKOK ·

En dit lyk of die wit bakkie oor hom ry ook nog!! En die swart vrou wat naaste aan die skerm staan – dit lyk of sy n sekuriteits uniform aan het. Sy staan net en kyk!!! Die voertuie mag mos nie geskuif word nie!!! Dit is deel van die ondersoek!!

Johan v H ·

En dan wonder ons hoekom die polisie somer skiet al bly die verdagte le

Hettie ·

Ag nee arme sy familie. So vinnig gebeur! Dis jammer dat hy op slag dood is. Sterkte aan sy familie.

Sumari ·

Ek wonder of dit alles nie dalk beplan was nie, wil nie my eie afleidings maak nie, maar hoekom word hy nie gehelp nie en hoekom ry hulle weg?

Linda ·

My vraag ook hoekom het sy kollega weggery die boef het heeltyd in sy bakkie gebly sit??

Lorraine ·

Die skuldige ry koel en kalm weg ……want hul kom mos weg met moord in ons land want ons regering doen niks………….

Mari ·

Ek wil graag weet hoekom daar video daarvan is? Was dit net ‘n toevalligheid dat iemand die spesifieke plek afgeneem het of wat?

Christie Joubert ·

Ek het die video oor en oor gekyk. Wat my pla is die volgende:
Karre ry verby asof niks gebeur het nie.
Die verdagtes ry rustig om die polisie voertuig weg.
Die polisie voertuig ry weg in die teen oorgestelde rigting. Is hulle nie veronderstel om die verdagtes agterna te sit nie?
Die mense rondom reageer nie eens regtig nie.
Is ons so vêr afgestomp met geweld en misdaad dat dit SO alledaags raak?
Ek het nie woorde hiervoor nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.