Skole: Gebrek aan regulasies bring verdere onsekerheid

ʼn Skool word ontsmet teen Covid-19 (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Minister Angie Motshekga het versuim om die regulasies te publiseer van die “gebrekkige” aankondiging Donderdag, dat skole vir vier weke gesluit sal wees.

Prof. Belinda Bozzoli, DA-skaduminister van hoër onderwys, het gesê die departement van hoër onderwys het dus weereens die onderwysstelsel in onsekerheid gedompel. “Terwyl [onderwysersvakbond] Sadou en sy juniorvleuel, Cosas, mompel oor hoe hulle van plan is om seker te maak dat privaat skole ook gesluit word en dat skole vir langer as vier weke gesluit moet bly, is die wettige status van die opdrag deur die president, dat staatskole gesluit moet word, nog nie duidelik gemaak nie,” het Bozzoli in ʼn verklaring gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy toespraak gesê skole sluit vir ʼn tydperk van vier weke, maar klasse vir gr 12’s word slegs vir ʼn week opgeskort en hulle keer terug op 3 Augustus.  Gr 7’s keer terug op 10 Augustus. Die president het ook gesê die skooljaar sal nie, soos tradisioneel gedurende Desember eindig nie, maar oorloop na 2021 soos dit tans vir universiteite geld. Hy het gesê minister Motshekga sal spoedig verdere regulasies hieroor bekend maak.

Bozzoli het gesê die versuim, om regulasies te publiseer, is in skrille kontras met die herinstelling van die drankverbod op 12 Julie 2020 toe die regulasies ʼn uur ná die president se aankondiging gepubliseer is.

“Alhoewel die Demokratiese Alliansie nie die besluit steun om skole te sluit as ʼn doeltreffende strategie teen die verspreiding van Covid-19 nie, is ons ook duidelik daaroor dat, direk ná die aankondiging gemaak is, die regulasies wat dit binne ʼn formele raamwerk plaas, dringend gepubliseer moet word. Die woord van die president is nie wet nie en tegnies moes die skole nie vandag gesluit gewees het nie, omdat daar geen wetlike vereiste was om te sluit nie.”

Sonder regulasies is die skole in ʼn toestand van onsekerheid. “Hulle het geen sekerheid wanneer, vir hoe lank, en vir watter grade, die skole gesluit moet bly nie. Die onsekerheid dra by tot die algemene angs wat reeds die bedryf teister,” het Bozzoli bygevoeg. “Dit sal ʼn domino-effek hê op die gehalte van onderrig aan leerders en die werksekerheid van ouers wat nie kan terugkeer werk toe nie. Dit is presies die tipe gemors wat plaasvind wanneer die kabinet sy besluite baseer op die nukke en grille van vakbonde, en nie die raad van wetenskaplikes en kenners nie.”

Sy het gesê die departement se versuim om omvattende en rasionele regulasies te publiseer is ʼn klap in die gesig van miljoene kinders, ouers en onderwysers wat ernstig geraak word deur die sluiting van skole. “Die voortgesette onsekerheid is ʼn bewys van die ANC-regering se arrogansie wat al sedert die aanvang van die afsonderingsperiode duidelik blyk.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het gesê omdat die skool slegs vir ʼn week vir die Gr 12’s sluit, behoort dit steeds moontlik te wees om op 6 November 2020 met die NSS-eksamen af te skop.

Volgens hom is daar steeds baie onsekerheid oor die impak van die besluit. “Die oorvloei van die akademiese jaar na 2021 het gewis implikasies vir die inskrywing van Gr 1’s en Gr 8’s. Die tradisionele aanvang gedurende Januarie sal by wyse van ʼn aangepaste 2021-skoolkalender bepaal moet word,” het hy gesê. “Die aandrang dat daar met onderrigprogramme voortgegaan moet word, is teenstrydig met die stelling van ʼn breek van een week vir Gr 12’s en twee weke vir Gr 7’s. Duidelikheid sal bekom moet word om onnodige wrywing uit te skakel.”

Klopper het ook daarop gewys dat 10 Augustus ʼn openbare vakansiedag is en dit sal dus steeds as aldus geag moet word.

“Hierdie breek impliseer dat die skoolkalender vir 2020, met spesifieke verwysing na die voorgestelde skoolvakansie vanaf 24 September tot 2 Oktober, na alle waarskynlikheid weer aangepas sal moet word. Een van die hoofmotiverende redes vir die sluiting van skole was die nypende tekorte in ten minste sewe provinsies aan persoonlike beskermingstoerusting (PPE), nievoldoening aan veiligheidsprotokol en ontsmettingsmiddels. Daar is geen blyke in enige verklaring dat dit aangespreek sal word nie.”

Die finale NSS-eksamenrooster vir 2020 is ook nog nie gepubliseer nie.

Klopper het gesê die posisie van naskoolsentra (dagsorgsentra) vir die toesighouding oor leerders van werkende ouers moet ook dringend uitgeklaar word.

“Daar is ook nog niks verneem betreffende ʼn spesiale Covid-19- finansiële hulppakket vir skole nie. Skole wat reeds afwykings (meerdere grade is voortydig ingefaseer) geïmplementeer het, sal ongelukkig moet wag vir die nuwe regulasies om groter duidelikheid te bekom. Geen aanduiding betreffende die posisie van onafhanklike skole en die personeel van onafhanklike skole is voorsien nie. Op hierdie tydstip blyk dit asof die aankondiging nie op hierdie skole van toepassing is nie.”

  • Klopper het gesê uit die SAOU-vraelys insake die welstand van opvoeders, is dit duidelik dat Covid-19 emosioneel uitputtend vir personeel is. “Daarom word aanbeveel om oorweging aan die volgende te verleen:
  • – Om vir Gr 12-opvoeders ʼn volledige breek van ten minste een week te voorsien;
  • – Skoolbestuurspanne wat reeds voluit sedert die begin van die afsonderingsperiode werk, moet ook ten minste een week verlof gegun word;
  • – Alle ander personeel, met insluiting van nie-onderrig personeel, moet ook ʼn skoon breek van ten minste een week gegun word; en
  • – Alle personeel, met insluiting van beheerliggaam-aanstellings, moet eenvormig en gelyk benader word.

Klopper het benadruk die uitoefening van ʼn professionele diskresie teen die agtergrond van billikheid en erkenning van werk oor ʼn periode van 90 dae, asook die finansiële posisie van die betrokke skool, is noodsaaklik. Skoolhoofde van primêre skole moet ook hulle diskresie uitoefen met betrekking tot die plasing van Gr R by hetsy die VKO-sektor of die formele skool. “Dié aanbeveling word gemaak in die lig van die uitgesproke behoefte om VKO-fasiliteite aan ouers te voorsien. Nasorgsentra by skole vorm nie formeel deel van skole nie en oorweging kan verleen word om steeds dié fasiliteit aan ouers te voorsien.”

Klopper het gesê meer gedetailleerde inligting sal voortvloei uit die verwagte nuwe regulasies wat eersdaags gepubliseer word, sowel as die werksaamhede van die beoogde taakspan. “Die SAOU verteenwoordig lede vreesloos in die konsultasieprosesse ten opsigte van die regulasies en ook die werksaamhede van die taakspan. Ons staan nie net op die kantlyn en lewer beterweterige kritiek nie. Sodra meerdere inligting bekom word, sal dit onmiddellik met lede gedeel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leonard ·

Kabinet TOON sy onbevoegdheid deur na Faksies te VOLG & nie KUNDIGE KENNIS van PROFESSIONELE persone

LANA is ELANè ·

Dit gaan als oor beheer, niks meer, niks minder nie.
Die unies wou net die regering weereens herinner het wie is in beheer van hierdie land en die stembusse. Dit gaan geensins oor die kinders nie – agv die unies en ‘n angsbevange korrupte regering gaan die kinders se geestesgesondheid hierna dringende aandag vereis, kinders het struktuur en konstante nodig – hierdie onsekerheid oor die dag van more is als behalwe gesond vir hulle!
Los beheerliggame uit om self te besluit oor die skole wat hulle bestuur en basta met die res!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.