Skole huiwerig om ‘sensitiewe’ haarstyl-debat te bespreek

skoolskoene-2

Argieffoto.

Verskeie skole in Port Elizabeth swyg oor die hersiening van sy gedragskode, veral wat betref haarstyle.

Skole oor die land heen het die afgelope paar maande onder skoot gekom vir beleide oor haarstyle wat, volgens leerlinge, swart kinders uitsluit.

Die African News Agency (ANA) het verskeie skole gekontak om meer uit te vind oor die vordering wat gemaak word wat betref die hersiening van beleide oor haarstyle en gedragskodes, maar skole wou nie kommentaar lewer nie en het ANA na die departement van onderwys verwys.

Collegiate High School het vroeër vandeesmaand onder skoot gekom toe ouers ʼn stille betoging buite die skool gehou het. Ouers voer aan die skool het ʼn gebrek aan transformasie, en het kwessies uitgelig wat verband hou met die aanstel van meer swart onderwysers en beweerde rassistiese uitsprake deur leerlinge en onderwysers.

Toe ANA die skool gekontak het oor die transformasieproses van haarstylbeleide en beweerde rassisme, het die sekretaris van die skool ʼn boodskap van die skoolhoof aan ANA oorgedra en gesê “weens die sensitiwiteit van die saak het die departement [die skool] versoek om nie kommentaar te lewer nie”.

Knipe Joubert, adjunkhoof van Lawson Brown High School, het by navraag aan ANA gesê ʼn komitee is deur die departement en skoolbeheerliggaam aangestel en het vroeër vandeesweek terugvoer gegee aan ouers.

Leerlinge het verlede maand die skool tot stilstand gedwing toe hulle oor beweerde rassistiese uitsprake oor “egte swart hare” betoog het. Leerlinge voer aan hulle word “poue” genoem en mag nie hul hare vleg (“braid”) of afro-haarstyle dra nie.

“Die komitee het sy bevindinge voorgehou nadat alle betrokke partye, van onderwysers tot leerlinge die geleentheid gebied is om hul aanbevelings te maak oor dit waarvan hulle hou en nie hou nie. Dit was nie net oor haarstyle nie, maar sommer oor alles,” het Joubert verduidelik.

“Die volgende stap wat moet gebeur, is dat die voorgestelde wysigings na die ouers geneem moet word en eers wanneer dit deur hulle goedgekeur is, kan ons die wysigings aanbring. In hierdie stadium het die beleid dus nog nie verander nie, maar ons het voorgestelde wysigings.”

Hoërskool Despatch se gedragskode bepaal dat vals hare en vlegsels (“braiding”) nie toegelaat word nie en meisies mag nie henna op hul naels gebruik nie.

Haarvlegwerk is gewild in die Afrika-kultuur en henna of mendhi is gewild in die Indiër-kultuur.

ANA het die skool verskeie kere gekontak vir kommentaar, maar die sekretaris het aangedui die skoolhoof en adjunkhoof is nie beskikbaar nie.

Volgens Sydenham Primary School se haarstylbeleid mag hare slegs “natuurlik drooggeblaas of reguit gemaak word”. Adjunkhoof Edmund Lourie was aanvanklik huiwerig om kommentaar te lewer, maar het gesê ʼn hersiening word vir seuns se hare gedoen om Afrika-hare in te sluit.

Mali Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys, het gesê daar was bewerings van rassisme en die departement is besig met ʼn ondersoek by die betrokke skole. “Daar is ook gesprekke tussen ʼn aantal belanghebbendes. Ons vertrou dat ons ʼn vreedsame oplossing sal vind wat leerlinge en onderwysers betref,” het Mtima gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nita ·

Die haarstorie is aanhitsing tot chaos in die land. Daar word gemaak of net swart kinders geteiken word deur die reels. Kan die wit meisies maar haarstukke insit? Hulle hare pers kleur? Hulle hare half-pad teen hul rug af dra? So moenie hierdie reels n rassisme ding maak nie. N skoolkind moet die skoolreels volg en BASTA!

Marianne ·

Hare? Werklik? Julle moan oor hare????
Die moderne kinders wel as mens hulle so kan noem het GEEN WAARDES NIE!!!!! Die sogenaamde kinders kom swanger skool toe, hul rokke sit net bo kant hul onder klere se rekke. Hulle hemde hang uit, dasse hang skeef, hulle rook in skool drag, hulle vry dat die spoeg spat!!!!
Hulle hare is dus ‘n nietigheid.
Die gelowe laat meisie neus rings dra en seuns baard groei….
ONS LAND SE SKOOL WAARDES EN REELS VAN 1980 IS INBDIE DREIN IN!

CHRISTA ·

Die meisies wat daardie wilde haarstyle wil dra moet agter mekaar in die klas sit! DAN sal hulle GOU agterkom hoe moeilik en ontwrigtend dit is om die onderwyser voor in die klas raak te sien verby so ‘n boskasie!!!

John ·

‘Ons’ is 3 milj en die res meer as 60 milj. Wie gee om wat ons dink of vra, buiten ons. Ons moet eerlikwaar nie een grys haar kry oor ander volke se nonsens nie. Skool en na-skoolse opleiding is vir leer/studeer vir opvoeding en ‘n loopbaan. Dis al. Diegene wat die lewe soos ‘n akteur in ‘n rolprent speel, is niemand nie, net iemand wat wag op ‘n volgende goed betaalde rolletjie…

Doris ·

Ek dink hierdie storie van die hare van skooldogters moet by die skool se reels insluit want toe ons dogters op skool was moes ons aanpas by die skole en nie die skole by die kinders nie dit is hoekom daar vandag geen dissipline in die skole is nie, want as ons nie maak soos ons moet maak nie dan kom die mammies aan gehardloop skole toe en daar word een helse storie van gemaak smeer daardie hare gel en maak hulle vas want dit is mos hoe die skooldogters moet lyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.