Skole in Oos-Londen, Fort Beaufort sonder water

Argieffoto (Foto: dechatorn, Pixabay)

Die watertoevoer na 167 Oos-Kaapse skole is onderbreek nadat die provinsiale departement van onderwys versuim het om waterskuld van miljoene rande te betaal.

Volgens Yusuf Cassim, DA-lid van die provinsiale wetgewer in die Oos-Kaap, skuld dié departement ongeveer R8 miljoen aan die Amathole-distriksmunisipaliteit vir water wat aan skole gelewer is. Dié munisipaliteit sluit Oos-Londen, Fort Beaufort en King William’s Town in.

“Die departement is reeds ʼn maand gelede oor die dreigende krisis ingelig en het absoluut niks gedoen om dit te verhoed nie. As gevolg hiervan word onderrig van leerders nog verder ontwrig,” sê Cassim.

“Die munisipaliteit het die hoof van die onderwysdepartement reeds op 16 Februarie in kennis gestel van sy voorneme om skole se watertoevoer af te sny indien die skuld nie teen 1 Maart vereffen word nie.”

Cassim sê indien skole nie water het nie, kan hulle nie aan die maatreëls voldoen om die verspreiding van Covid-19 te voorkom nie, en sal hulle dus moet sluit.

Hy sê skole wat koshuise het word nog erger geraak.

Volgens Cassim sal watertoevoer na skole eers herstel word wanneer die volle uitstaande bedrag vereffen is. Die DA gaan nou aan die munisipaliteit skryf om te bepaal of hulle nie ʼn ooreenkoms kan bereik waarvolgens watertoevoer na skole herstel kan word terwyl die skuld oor ʼn tydperk afbetaal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

So gaan dit.Geen water en geen verstand.Geen nagevolge en geen gewete.Die Oos Kaap vir alle praktiese doeleindes en verwysings is dood.Die ander sal volg.

Deon

Die wat veroorsaak dat water afgesny word sowel as diegene wat dit afsny is besig om poging tot massa moord te pleeg in lig van die virus…. Geen gevoel vir hul medemens nie.

Jakes

Gaan kyk watter duur motors hierdie amptenare ry en watse luukse lewensstyl hulle leef?