Skole mág oop bly, sê hof  

Leerders aan die Laerskool Pierneef staan in rye. (Foto: Verskaf)

Skole kan oop bly. Dit volg nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof die Educators’ Union of South Africa (EUSA) se aansoek dat die skole moet sluit, van die hand gewys het. Solidariteit het tot die regsgeding toegetree en aangevoer dat skole wat aan gesondheidsvereistes kan voldoen oop moet bly. Solidariteit het die uitspraak verwelkom.

“Dié uitspraak is ʼn oorwinning vir leerlinge en onderwysers in die land in die lig daarvan dat hul toegang tot onderrig en reg om te werk deur dié oorwinning bevorder word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Die hof het bevind dat EUSA se aansoek wesenlike gebreke bevat wat daartoe gelei het dat die saak van die hand gewys is. EUSA het einde Mei besluit om die hof te nader om die departement van basiese onderwys se besluit om leerders terug te stuur skool toe tydens die pandemie te laat hersien, ter syde gestel of gewysig te kry.

“Dit bly betreurenswaardig dat daar, benewens hierdie aansoek, nog steeds pogings aangewend word om die skoolprogram tot stilstand te dwing. Solidariteit en Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) sal alle moontlike regsweë volg om te verseker dat die skoolprogram kan voortgaan,” het Hermann gesê.

Die meeste skole het op 8 Junie heropen. Skole moes aanvanklik op 1 Junie weer heropen het, maar onderwysvakbonde het kapsie gemaak aangesien meeste skole nie die nodige beskermingstoerusting en reinigers gehad het om te verseker Covid-19 verprei nie onder leerders en onderwysers nie.

“Die benadering om álle skole te sluit indien ʼn gelyke vlak van gereedheid nie by álle skole bereik word nie, is onhoudbaar en ongrondwetlik. Beheerliggame is die liggame wat getaak is om besluite in die beste belang van die skool en leerlinge te neem,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling van die SOS.

“Om skole te sluit het verder ʼn enorme negatiewe impak op leerders, onderwysers en die gemeenskap. Dit is nie slegs die reg tot onderrig wat geskend word nie, maar dit hou ook wesenlike praktiese gevolge in soos die skoolprogram wat nie voltooi sal kan word nie en dat afleggings van beheerliggaamposte ʼn werklikheid sal word,” het Buys bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Onnie ·

Dankie tog. Ek is bang ek verloor my inkomste indien dinge verder so aangaan.

Alexander ·

Welgedaan Solidariteit. Dis nou hef aanlê vir die skole om weer op datum te kom. Hierdie slag het die loodswaaiers aan die kortste end getrek.

Sakkie ·

Okey wie gaan volgende probeer om ons kinders ongeletterd te hou

Cleopatra69 ·

Waarom moet skole in elk geval makers voor sien want jy het n masker nodig om in elk geval by die skool te kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.