Skole moet ‘binnekort’ vir 2020 hervat – kenners

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. (Foto: @ParliamentofRSA/Twitter)

Skole en onderwysinstellings is vasbeslote dat onderwys in die klaskamer so gou moontlik moet hervat, ten spyte van vrese dat die koronavirus op dié manier sal versprei. Skole pleit ook by ouers om nie op te hou om skoolfonds te betaal nie, al is die skoolvakansie met ʼn paar weke verleng.

Skoolhoofde in Gauteng het voorstelle aan die departement van basiese onderwys (DBO) gestuur oor hoe die skooljaar vir die res van die jaar kan voortgaan. Skole is sedert 18 Maart gesluit en sal weens die verlengde tydperk van algehele afsondering nie voor Mei kan oopmaak nie.

In ʼn dokument aan die departement, wat Maroela Media onder oë gehad het, voer die hoofde aan dat baie leerders nie toegang het tot hulpbronne aanlyn nie en dit daarom belangrik is om terug te keer na die klaskamer. Baie ouers het ook ophou skoolfonds betaal omdat skole toe is. “As skole langer gesluit bly, sal skole selfs minder skoolfonds invorder. Dit kan veroorsaak dat skole dalk van die personeel wat deur die beheerliggaam aangestel is, sal moet afdank. Ouers betaal ook nie meer vir nasorg of kos by die skool se snoepie nie en dié inkomste gaan dus ook verlore,” lui die dokument.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daarom stel skoolhoofde voor dat skole weer op 4 Mei begin en dat slegs twee grade op een dag vir die eerste maand skoolgaan. Daarna kan drie grade per dag skoolgaan. Die voorstelle sluit in:

  • onderwysers moet in besonder op gr. 3, gr. 7 en matriek fokus.
  • byeenkomste van meer as 10 onderwysers of leerders op ʼn slag moet nie toegelaat word nie.
  • sport en ander naskoolse aktiwiteite sal eers in Julie hervat.
  • klaskamers moet slegs tot tussen 25% en 40% van die kapasiteit gevul word.
  • leerders moet nie almal saam pouse hou nie, maar in groepe verdeel word.
  • in die geval waar leerders klasse moet wissel, moet onderwysers eerder van klas tot klas beweeg.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê skole beraam allerhande planne om te verseker dat leer steeds in dié tyd voortgaan. Sy sê ook dat skole ʼn inkomste verloor omdat talle ouers ophou skoolfonds betaal het. “Daar is baie ouers wat swaar kry weens die afsondering en aansoek gedoen het vir kwytskelding, maar ander het net eenvoudig ophou betaal,” sê Buys. Sy het ouers aangemoedig om in dié tyd aan te hou om skoolfonds te betaal, aangesien skole steeds hard agter die skerms werk om leermateriaal aan leerders beskikbaar te stel. Die SOS stel Vrydag ʼn raamwerk bekend om skole te help om ná die tydperk van afsondering so gou moontlik weer op dreef te kom .

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS. (Foto: Verskaf.)

Prof. Jonathan Jansen, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, het aan die SABC gesê die 2020-skooljaar moet na sy mening heeltemal geskrap word. Hy stel voor dat skole leerders bloot na die volgende jaar bevorder, maar ʼn plan gereed hê om leerders te help om verlore werk in te haal. Hy sê dít is nodig ten einde te verhoed dat ʼn bottelnek vorm deur leerders wat nie vanjaar slaag nie, terug te hou.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die DBO, het egter dié voorstel verwerp. “Die harde werk van leerders en onderwysers kan nie bloot verwerp word indien kreatiewe maniere gevind kan word om die jaar te voltooi nie,” sê Mhlanga. Die DBO het die afgelope week ʼn voorlegging aan die kabinet gemaak waarin hulle voorstelle maak van hoe die 2020‑ akademiese jaar gered kan word te midde van langdurige onderbrekings weens die stand van algehele afsondering. Minister Angie Motshekga het vroeër aan eTV gesê dié voorstelle sluit in om die skoolvakansies vir die res van die jaar te verkort of te laat wegval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cecilia ·

Dit is nie ‘n werkbare oplossing vir skole met groot klasse nie. Ek is ‘n onderwyseres by een van die grootste laerskole in die Oos Kaap. Ons het gemiddeld 45 kinders in klasse. Ons graad drie klasse is baie klein waarin ons moet klasgee. Indien die kinders nie saam kan pouse hou nie gaan die in die klas se aandag afgetrek word van die wat pouse hou en sal jy ook nie jouself kan hoor in die klas as gevolg van die kinders wat buite raas nie. Is geensins ‘n werkbare oplossing in die praktyk nie.

Die Wolf ·

Nee. terug na die tekenbord. Ek wonder watter hoofde is so slim? Ek moet my kleingoed aan hulle toevertrou!

Erik ·

Dit is nogal moeilik om deesdae te druip – jy moet regtig moeite doen om te druip. Jy mag bv slegs een keer in ‘n fase druip, daarna gaan jy outomaties deur. Punte mag ook, onder sekere kondisies, aangepas word om kinders deur te sit.

Wessel ·

Hierdie is onnodig, stuur asb. so gou moontlik die kinders terug skool toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.