Skole open dalk twee weke laat

(Argieffoto)

Daar is sterk aanduidings dat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, Vrydagoggend nege-uur by ’n mediakonferensie kan aankondig dat die skooljaar tot soveel as twee weke later as wat beplan is, sal begin.

Dit volg te midde van toenemende kommer oor die gesondheid van onderwysers en skoolleerlinge, met die nuwe variant wat meer geneig is om jonger mense ook te tref as wat die geval was met die eerste golf koronavirus-infeksies in Suid-Afrika.

Motshekga het Vrydagoggend se mediakonferensie belê na omvangryke vergaderings met verskeie rolspelers in die onderwys, en te midde van kommer oor haar eie gesondheid.

Daar blyk veral kommer te wees omdat die nuwe virusvariant mense so jonk as twaalf jaar makliker tref as die eerste variant waarmee die land te doen gekry het. Voorts is daar te min saniteerder in skole. Daar is ook nie genoeg gesigsmaskers vir al die graad eens wat vanjaar hul skoolloopbaan moet begin nie.

Die uitstel van die skooljaar sou, as dit aangekondig word, teen die wense van die DA-beheerde Wes-Kaap gaan, waar die mening nog deurgaans is dat skole wat gereed is om onderrig te gee, toegelaat moet word om dit te doen.

Onderwysvakbonde het die afgelope tyd druk verskerp dat onderwysers onder die voorkeurgroepe moet wees om vroeg al teen die koronavirus ingeënt te word wanneer die entstof in die land aankom.

Daar is selfs in sommige kringe verwys na onderwysers as “noodsaaklike werkers”, hoewel vakbonde jare lank al suksesvol stry teen die verklaring van onderwys tot ’n noodsaaklike diens omdat sodanige verklaring dit baie moeiliker sal maak vir onderwysers om wettig te kan staak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Tyd vir digitale onderrig. Begin wanneer jy reg is en skryf aanlyn eksamens.

Robert ·

Of gee almal, onnnies en kinders Ivermectin en gaan aan met die lewe. Digitaal is nie ‘n plaasvervanger nie maar ‘n hulpmiddel. Daar is niks so opbouend vir ‘n graad 1 as ‘n drukkie van juffrou nie.

Alet ·

Makliker gesê as gedaan. My kind is ongelukkig een van die wat op sy beste presteer wanneer hy in ‘n klaskamer sit. Hy is ‘n gestruktureerde kind wat die rigiede klaskamer nodig het om ten volle te presteer. Ons het verlede jaar by die huis studeer maar ons het net die werkstukke gekry wat afgehandel moet word en nie die volle sillabus nie. Met die gevolg is dat mens weet nie rerig het mens al die werk behandel of nie. Ek sou eerder sê dis nie die skool se verantwoordelikheid om seker te maak kinders saniteer nie. Elk geval moes kinders al van kleins af geleer het om hande te was en oor goeie higiene. Dis die ouers se plig (en ek doen dit self) om seker te maak kinders het maskers en saniteringsmiddels.

Baardman ·

Gaan jy of jou organisasie sorg dat almal die nodige tegnologie kry (laptops, ens) want die regering het nie geld nie. Meeste ouers werk, so hoe beplan jy? Gaan jy dat jou kinders alleen by die huis bly? Of gaan hulle by ‘n sentrale punt bymekaarkom. Dan kan hulle mos net so wel skool toe waar daar bekwame onderrig is. Jy neem ook aan dat almal op dieselfde intellektuele vlak is, blyk dit. So ook dat almal dieselfde toewyding en dissipline het vir selfstudie. ( ??????)

Raakvatter ·

Probleem is, ek en my vrou werk voltyds. Ons het 3 jong rakkers (Gr 1 en Gr 3), wat nie op eie stoom kan aangaan op digitale onderrig nie. Ons moet help. Na lang dag se werk, huis skoon maak, kos maak, ens ens, en dan nog kinders help met skool werk (na hulle ook flou gespeel is en ook moeg is in die aand), is dit ‘n massiewe las.

Pandora1 ·

Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer. Nog ‘n bietjie hande vou om uit te rus. Wat presies het verander vandat die skool gesluit het in Desember tot nou? “Everyone” is going to be left behind… Hoeveel van die onderwysers wat nou bang is om terug te gaan skool toe was weg met vakansie, terug na hulle tuisdorpe ens? Regtig, mense se prioriteite verstom my. Laat die keuse by die ouers om hulle kinders terug te stuur skool toe al dan nie. Maar moenie agter “die virus” skuil om nie julle werk te doen nie.

Anton ·

En wat gaan twee weke help? As ek reg onthou het ons verlede jaar in Maart ook vir twee weke gelockdown om voor te berei en kyk waar loop ons nou

Willie ·

Ek stem.
Ek is ‘n onderwyser en voel dat skole net weer op die selfde manier as verlede jaar werk, roteer klasse, alternatiewe dae ens.
Diegene wat kan, werk aanlyn sover moontlik. Daar IS genoeg opsies om werk by kinders te kry.
En ja, soos u gesê het, laat ouers self besluit.

Karlahari ·

Maar skoliere van Lesotho sal daagliks toegelaat word om die grens te kruis om skool in SA by te woon? Waneer dit eendag open.
Maar werkgewers wat aan 1000’e mense in Lesotho werk verskaf word geblok?…..

Anton ·

En in my dae was ek in die moeilikheid as ek 10 minute laat was

Pieter ·

Mooi man, mooi. Hou die kinders net so oningelig soos hul ouers, makliker om hulle dan al die twak van die anc te laat glo.

Dana ·

Laat die Gr12s ten minste op tyd begin. Dit is al klaar erg dat die skooljaar op 27 Januarie sou begin.

Liza ·

As ‘n skool die nodige maatreels in plek het moet dit oopmaak. Geen Graad is belangriker as ‘n ander nie. Hoekom net sekere Grade voorkeur gee om terug te gaan op tyd. Ons het reeds weer akademiese dae verloor deur dat die skole so laat oopmaak. Die virus is inelkgeval orals en kruip nie net in skole weg nie.

Tanya ·

Ek hoop Angie Motshekga gaan ook fondse beskikbaar maak vir mense wat voltyds werk, wat in gesondheids dienste werk, sodat daar omgesien kan word na ons kinders vir die ekstra lang vakansie want met dit moet ons nog boonop die skool in vol betaal vir skoolfonds ook. Vakansie dagsorg kos tussen R100-R150 per dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.