Skole sluit dalk nié in Oktober

Die Oktober-skoolvakansie gaan moontlik geskrap word. (Argieffoto: pixabay)

Planne vir die Oktober-skoolvakansie sal moontlik opsy geskuif moet word om verlore skooldae in te haal.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) het Maandag gesê die departement van basiese onderwys (DBO) beoog om dié skoolvakansie te kanselleer ten einde die vyf skooldae in te haal wat tydens die vroeër sluiting vir die wintervakansie verlore gegaan het.

Die SAOU sê egter dat nie een van die vyf erkende onderwysvakbonde dié voorgenome stap deur die DBO steun nie.

“Die DBO is daaroor gekonfronteer omdat nie een van die onderwysvakbonde hoegenaamd daaroor gekonsulteer was nie.

“Die departement het erken dat die komitee van onderwysministers (KOM) en die komitee van onderwyshoofde (KOH) reeds besluit het dat die vyf dae vanaf 4 tot 8 Oktober benut moet word om verlore skooldae in te haal.

“Die derde en vierde skoolkwartaal sal deur ’n langnaweek geskei word deur 23 September as ʼn skoolvakansiedag te verklaar.”

Die SAOU sê die onderwysvakbonde is hoegenaamd nie daarmee geneë om dít te aanvaar nie en dat eensydige handelinge soos hierdie absoluut onaanvaarbaar is.

Boonop, sê die SAOU, was die vroeër sluiting van skole vir die wintervakansie noodsaaklik om stygende Covid-19-infeksies hok te slaan.

“Die absolute fiksasie om ten spyte van buitengewone omstandighede weens die huidige Covid-19-pandemie die skooljaar as normaal te ag en ten alle koste die 200 skooldae per jaar na te jaag, maak doodgewoon nie sin nie.

“Opvoeders werk tans besonder pligsgetrou en doen alles binne hulle vermoë om die ingekorte kurrikulum te dek.”

Die vakbond benadruk dat talle opvoeders en leerders geestelik moeg is weens die voortdurende spanning wat deur die pandemie meegebring word, die voortdurende risiko van infeksie asook die druk om die kurrikulum te voltooi.

Die SAOU sê voorts dat dit sinneloos is om alle skole oor dieselfde kam te skeer.

“Talle skole is op datum. Die aandagspan van leerders, veral jonger leerders, is beperk en vereis behoorlike rusperiodes.

“Talle opvoeders en ouers het boonop reeds finansiële verpligtinge vir die Oktober-vakansie aangegaan. Wie sal hulle vergoed?”

Volgens die SAOU steun skoolbeheerliggaam-organisasies glo ook nie die voorgenome skrapping nie.

“Die onderwys funksioneer nie in ’n vakuum nie en het ’n plig teenoor die vakansiebedryf wat tans op sy knieë is.

“Die DBO het deeglik van die baie sterk teenkanting van die onderwysvakbonde kennis geneem en onderneem om die saak na die KOM en die KOH terug te verwys.”

Die SAOU sê terugvoering in dié verband sal binnekort deur die DBO gelewer word.

Die DBO het nog nie ’n amptelike aankondiging in dié verband gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Erik

Ek is ‘n onderwyser en wat baie mense daar buite nie verstaan nie, is dat wanneer skole vroeër of later sluit, is dit baie meer werk vir ons as om tradisioneel skool te hou. Die pandemie het baie dinge verander. Die kinders kan nie wegkom van skool nie a.g.v. aanlyn klasse en whatsapp boodskappe en ons kan nie wegkom van hulle nie. Ek kry gereeld boodskappe van leerders oor naweke en dwarsdeur die nag. Natuurlik kan ek dit ignoreer, maar ek kan nie dan afskakel en ontspan nie. Ek oorweeg al ‘n tweede privaat foon. Bo en behalwe dit is… Lees meer »

Hennie J

Ag shame, die vakbond lede is moeg!!!!! Dit is n opperste skande dat vakbonde wie se lede die afgelope twee jaar meer by die huis as die werk was nie 5 dae wil opoffer ten bate van kinders nie. Dit is hoe dit gaan in piesangland…………..vakbonde en kriminele staan aan die roer !!!

Aai

Ek stem vat daai 5 dae kinders het onderig brood nodig hulle sukkel.Elke dag se onderig is baie nodig vir leerlinge.

RS

Ag genade! wat van Jan allerman wat daagliks moet werk, 12 maande van die jaar? Juis die wie skoolfonds betaal. Agnee wat…. Onderwysers hou gans te veel vakansie.

Misky

Daai paar dae wat die skool vroeer gesluit het in Junie, het hulle ook weer vroeer begin in die nuwe kwartaal – wel my seun se skool inelkgeval. My seun in Gr11 die jaar en ek kan sien hoe moeg is hy – definitief emosioneel. Hierdie ongewone en onseker tye werk ook in op die kinders en hulle sien wat aangaan en nie dom nie. Daai paar dae breek is werklik nodig om te rus en kinders voor te berei vir daai laaste rukkie van hard leer en alles insit. Ek sal hom doodeenvoudig tuis hou ‘n paar dae indien… Lees meer »