Skole spook om ligte aan te hou weens hoë tariewe

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Elaine Krige)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag gesê dat buitensporige verhogings in munisipale tariewe steeds ʼn kopseer vir talle skole bly.

Die SOS het onlangs ʼn opname onder skole gedoen om te bepaal wat die impak van munisipale koste maandeliks op hul begroting is. Altesaam 55% van die 173 respondente het aangedui dat hulle as besighede op hul rekening gekategoriseer word, en daarom meer vir dienste betaal.

Maroela Media het vroeër berig dat talle skole in Johannesburg boonop munisipale rekeninge van tussen ses tot tien keer meer kan ontvang nadat dié metro aanpassings aan sy beleid op eiendomsbelasting gemaak het. Die gevolg is dat spesiale belastingvergunnings wat voorheen aan onderwysinstellings gemaak is, nou van die baan is. Dít glo sonder die wete van onderwysgroepe en belanghebbende organisasies. Regsaksie deur onder andere AfriForum het gevolg en die saak sal in Oktober aangehoor word.

“Skole is soms onseker oor wie verantwoordelik is vir die betaal van munisipale belasting. Hierdie koste is die verantwoordelikheid van die Departement van Openbare Werke, maar dit gebeur dikwels dat dit nie betaal word nie en dat skole se dienste deur die munisipaliteit afgesny word. Uit pure desperaatheid betaal skole dan hierdie rekening uit hul eie fondse net om die ligte aan te hou,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Dié klassifikasie van instellings hang gewoonlik af van munisipaliteite se munisipale verordeninge, oftewel bywette. Dit bepaal die bedrag wat maandeliks vir dienste gehef word. In besighede se geval is dit gewoonlik beduidend hoër.”

Mostert sê skole moet dus seker maak dat hulle reg gekategoriseer is. As die verordening voorsiening maak vir ʼn onderwyskategorie, maar die skool word as ʼn onderneming aangeslaan, kan skole ʼn dispuut verklaar by die munisipaliteit om dit reg te stel.

Die SOS sê skole bestee ongeveer 10% van hulle maandelikse begroting aan munisipale dienste. Hierdie bedrag beloop gemiddeld tussen R40 000 en R70 000 per maand. Altesaam 14% van skole betaal meer as R100 000 per maand aan munisipale koste, waar dit in 2018 8% was.

“Die staat het ʼn verantwoordelikheid om skole se koste te help beperk. Skole maak egter self ook planne om te besnoei waar hulle kan,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, gesê.

“Alternatiewe oplossings soos die gebruik van energiebesparende gloeilampe, sonpanele en slimmeters om water- en kragverbruik te monitor, word ingespan om die koste te verlaag. Daar is ook maatskappye wat skole kan help met die monitor van krag- en watergebruik.”

Skole wat probleme met munisipale koste ondervind, kan Mostert by [email protected] kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.