Skole toenemend in spervuur oor sportbeserings

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaanse skole is toenemend in die spervuur weens beserings wat leerders tydens die beoefening van skolesport opdoen.

Só sê prokureurs wat deesdae gereeld eise namens beseerde leerders teen skole hanteer.

Kirstie Haslam, vennoot by DSC Prokureurs, sê boonop baie sportbeserings by skole kan verhoed word en dat dit dikwels onnodig tot eise vir vergoeding lei.

“Beserings tydens skolesport is ontstellend algemeen en baie daarvan is voorkombaar indien skole aandag gee aan veiligheidskwessies,” sê Haslam.

Sy sê die praktyk ontvang maandeliks minstens een of twee navrae oor persoonlike beseringseise. “Hoewel die aantal gevalle wat ons jaarliks hanteer nie met ander areas van praktyk, soos padongelukke en mediese wanpraktyke, vergelyk kan word nie, is dit steeds baie.”

“Onvoldoende volwasse toesig, mediese nalatigheid, onbevoegdheid, onbruikbare toerusting asook beskadigde of onbehoorlike speeloppervlaktes is alles voorkombare redes wat dikwels tot beserings in skolesport lei.”

Sy verwys na ʼn hofsaak vroeër vanjaar waar die klaer, Izak Foster, die LUR van onderwys vir miljoene rande gedagvaar het weens ʼn rugbybesering wat hom 17 jaar gelede verlam gelaat het. Die hof het bevind Foster se hoërskool het nie behoorlike stappe gedoen om te keer dat hy tydens die wedstryd seerkry nie. Ongekwalifiseerde paramedici wat deur die skool in diens geneem is, het verder tot die erns van sy besering bygedra.

Volgens data wat deur die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds ingevorder is, het vier skolerugbyspelers verlede jaar ernstige spinale beserings opgedoen. Dié spelers sal egter na verwagting volkome herstel. Een sterfte weens ʼn traumatiese breinbesering is aangemeld. Tussen 2012 en 2022 is tussen drie en vyf beserings en sterftes jaarliks aangemeld. In 2017 is twee sterftes, albei weens hartverwante oorsake, aangemeld.

Navorsing wat die afgelope jare gedoen is, wys ook dat rugbyverwante beserings by skoolseuns in Suid-Afrika skrikwekkend hoog is.

ʼn Navorsingsverslag wat in 2017 deur die Universiteit van Kaapstad gepubliseer is, lui dat rugbyverwante beserings by skoolseuns in Suid-Afrika meer algemeen as in ander groot rugbylande soos Engeland en Ierland is.

Hiervolgens het die helfte van die 400 laerskoolleerders wat aan die navorsing deelgeneem het, ten minste een keer harsingskudding opgedoen.

Nog ʼn navorsingsverslag wat in 2019 gepubliseer is, het ondersoek ingestel na rugbybeserings gedurende ʼn hoërskool-rugbyseisoen. Hiervolgens word byna 30 beserings in elke 1 000 spelerblootstellingsure opgedoen.

Haslam meen kontaksportsoorte soos boks, rugby, hokkie, sokker en netbal het almal ʼn hoër risiko vir beserings.

“Rugby is vir die meeste ernstige beserings en sterftes verantwoordelik, hoewel hokkie, waterpolo, netbal en ander balsporte tot die syfers bydra.”

Sy sê beserings vind ook meestal by kleiner skoolbyeenkomste plaas weens onvoldoende toesig asook die afwesigheid of tekort aan behandelingsprotokolle.

Elke sport het sy beserings

Foto ter illustrasie. (Foto: Philippa Rose Tite/ Unsplash)

Bobby McLeod, uitvoerende direkteur van die NWU Super 16-sportreeks, sê kontaksport het ongelukkig altyd die risiko vir beserings.

“In die 35 jaar wat ek by skolesport betrokke is, was daar een geval waar ʼn seun later in sy lewe baie ernstige probleme weens rugbybeserings opgedoen het en daarvan dood is.

“Dit sal altyd by ʼn mens spook, maar dit is ongelukkig deel van die sport.

Hy sê wel atlete wat aan Amerikaanse-voetbal deelneem, boks of selfs roei se kanse is baie groter om ernstig seer te kry of te sterf, as wat dit is as hulle rugby sou speel.

Hy wys ook daarop dat die BokSmart Nasionale Rugbyveiligheidsprogram – ʼn gesamentlike inisiatief van SA Rugby en die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds –  maatreëls getref het om beserings in skolesport so ver moontlik te probeer vermy.

Dit behels onder meer dat skole se velde deur ʼn BokSmart-verteenwoordiger ondersoek word om enige risiko’s te identifiseer. Die program stel ook maatreëls vir die bestuur van rugbybeserings en die gebruik van beskermende toerusting voor.

“Skole word verplig om aan die Boksmart-program deel te neem en elke afrigter en skeidsregter moet elke twee jaar sy lidmaatskap by BokSmart hernu.

Hy sê dié program – wat sedert 2009 bedryf word – speel ʼn groot rol in die vermindering van beserings op skoolvlak.

“As ek moet dink aan 35 jaar gelede toe ek begin afrig het, was ons almal maar nog baie onkundig oor harsingskudding en meer ernstige beserings.

“Afrigters word deesdae so goed as moontlik opgelei om spelers te leer om gevaarlike tegnieke te vermy en daar word konstant na die reëls in skolerugby gekyk om te verseker die sport is so veilig moontlik vir kinders,” sê McLeod.

Stappe vir vergoedingseise in skoolsportbeserings

Haslam meen eise vir sportbeserings is kompleks en dikwels moeilik om te bewys omdat die beseerde party “vrywillig aan die aktiwiteit deelgeneem het” en dikwels in die normale gang van die sportaktiwiteit beseer is.

“Deur aan hoë risiko sportsoorte soos rugby en hokkie deel te neem, stem spelers effektief daartoe in om beserings op te doen.”

Haslam meen dié “stilswyende toestemming” is die vernaamste rede waarom persoonlike beseringseise nie suksesvol is nie.

“Tensy die optrede van die ‘oortreder’ teenstrydig is met normale sportaktiwiteite, is dit onwaarskynlik dat ʼn persoonlike beseringseis sal slaag.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russ1 ·

Jip, daardie kan ek glo. Daar is nie genoeg afrigters wat die sport ken by die skole nie, en dan is daar ook heelwat wat nie enige opleiding het in die sport wat hulle afrig nie. BokSmart is bitter goed, maar ek dink nie skole vat dit ernstig genoeg op nie en SARU volg ook nie op dat wat hulle voorskryf wel toegepas word nie. ‘n Heleklomp skole se rugby velde is nie op standaard nie en daar wag lelike beserings.

Niks teen vroue afrigters wat gewoonlik met die kleiner spelers O/6 ens werk nie, maar hulle dra nie altyd die kennis om die regte (veilige) tegnieke vir die spelers te leer nie. Nou word daardie verkeerde tegniek tweede natuur, kom op die veld waneer hulle baie sterker is en dis waar die beserings plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.