Skole voed net enkeles tydens pandemie

(Foto: pixabay)

Slegs enkele leerders in die Oos-Kaap het baat gevind by die skolevoedingskema tydens die afsonderingstydperk. Die res het honger gely.

Luidens ʼn verslag wat die Oos-Kaapse departement van onderwys verlede week aan die provinsiale wetgewer voorgelê het, het net 3,25% (51 604) leerders kos by hul skool gekry sedert skole die eerste keer op 18 Maart gesluit is om die verspreiding van Covid-19 te verhoed. Dit beteken dat meer as R1,3 miljoen leerders nie die maaltye ontvang het waarvan hulle afhanklik is nie.

Luidens die verslag was die departement veronderstel om steeds aan alle leerders by die skool kos te verskaf, selfs aan dié wat nog nie toegelaat is om terug te keer skool toe nie. Geld is hiervoor is  aan skole versprei om te verseker dat leerders gevoed word. Die departement voer in sy verslag aan dat die verspreiding van voedsel aan leerders baie stadig vorder, omdat baie ouers nie leerders skool toe te stuur om die kos te ontvang nie weens vrese vir Covid-19.

Die DA in die provinsie het nou die provinsiale LUR vir onderwys, Fundile Gade, by die Menseregtekommissie verkla.

Intussen het die departement van basiese onderwys aan die einde van Julie ʼn plan by die hof ingedien waarvolgens hulle sou verseker dat die skolevoedingskema behoorlik in alle provinsies aangebied word. Die drukgroep Equal Education is egter van mening dat dié plan gebrekkig is en sê hulle ontvang steeds klagtes van skole reg oor die land dat kos steeds nie aan elke skool en elke leerder voorsien word nie.

“Ons is bekommerd dat die minister [Angie Motshekga] se plan nie spesifiek en logies genoeg is om dié tekortkominge te takel nie. Haar departement het reeds begin verskonings maak dat daar nie genoeg geld sal wees om leerders in November en Desember van kos te voorsien nie, maar maak geen melding van hoe dié probleem opgelos sal word nie,” het die organisasie verlede week in ʼn verklaring gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacobus ·

Die besigheid neig by die dag na Den Haag. G’n wonder Ace en die ander skerm so.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.