Skolegodsdienssaak: ‘Uitspraak raak alle gelowe’

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Uitspraak tussen die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) oor die beoefening van godsdiens in skole is Woensdag voorbehou in dié hofsaak.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die regsproses in dié saak – wat die afgelope drie dae in die Suid-Gautengse hoë hof aangehoor is – as van die grootste belang vir alle Suid-Afrikaners beskryf en glo dat Fedsas en verskeie ander vriende van die hof die belang van godsdiensbeoefening oor die algemeen en Christelike godsdiensbeoefening in die besonder in skole deeglik beklemtoon het.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is vir Suid-Afrikaners noodsaaklik om van jongs af wedersydse erkenning en respek aan te leer vir mense wie se kulture en sienswyses van hul eie verskil.

“Hulle moet ook leer om met hul eie identiteit gemaklik te wees, insluitend hul geloofsoortuigings. Dít is waarom ’n godsdienstige etos in skole behou moet word,” meen Bailey.

Sy sê ook godsdiensbeoefening moet nie, soos Ogod voorstel, bloot tot aktiwiteite beperk word wat kinders in pouses, of voor of ná skool, soos ’n stokperdjie beoefen nie.

“Dit vorm die waardes en dus ook daaglikse optrede van die individu; daar moet vryheid wees om dit te beoefen en kinders moenie met die idee grootword dat hulle of hul onderwysers gestraf mag word as geloofaksies nie tot sekere tye en ruimtes beperk word nie. Godsdiensvryheid is immers een van die regte wat die Grondwet duidelik omskryf.”

AfriForum beklemtoon dat die saak alle gelowe en dus die totale gemeenskap raak – die uitspraak gaan nie alleen die toekoms van openbare skole bepaal nie, maar ’n veel wyer impak hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

MCH ·

Wat ons kon het ons gedoen. Dis nou buite ons beheer. Groot waardering aan Afriforum vir hul insette.

Nico ·

As jy glo is dit altyd in God se beheer. Openbaring voorspel hierdie dinge.

svs ·

Ja nou bid ons. Wat my verder pla, is dat die Evolusie teorie in ons skool konders se silabus ingrsluit is, en dit word op kinders afgedwing.

Franco Scheffer ·

Ek kan onthou hoe die Moses storie in ons koppe ingehammer was in std 2 & 3. Ek kan onthou hoe ek nie kon glo dat God die onskuldige kindertjies en diere doodgemaak het nie. Hoekom het hy die Farao se hart verhard, as hy dit nie gedoen het nie sou die Farao hulle mos laat gaan het. Die Farao was ‘n goeie ou, hy het hulle dan gehelp en hulle kos gegee toe hulle nie gehad het nie. En toe steel hulle nog die Egiptenare se juwele. En toe hou hulle elke jaar ‘n fees om dit te herdenk. Later het ek dit maar aanvaar omdat almal dit aanvaar het. Nou weet ek dit was kindermishandeling. Leer die kinders eerder feite as mites.

Jaco ·

Die farao en Moses? In die hele Egipte en Sinaïwoestyn is daar geen teken dat die Israeliete ooit daar was nie. Die hele storie van Moses en tien plae en droogvoets deur die Rooi see en gebooie op ‘n klip en intog in ‘n beloofde land is bloot ‘n fiksie.

Nico ·

‘n Waardevolle les vir elke ouer. Skole leer jou kind akademie en sekere menseverhoudinge. Maar dit kan NOOIT die opvoedingstaak by jou oorneem nie. As jou kind God in jou huis sien en beleef, kan geen skool, regering of hof dit wegneem nie.

Katje ·

Godsdiens hoort in skole. Hoekom kan daar nie n periode wees waar alle gelowe bespreek word en sodoende leer die kinders van ander gelowe se sienings. En leer hulle om ander mense se sienings te respekteer.

Dee ·

Ek is geskok om hierdie komentaar te lees! Die verdraaing van die bybel. Ek het nie woorde nie! Al wat ek kan se en vra is, ons Hemelse Vader, vergewe hulle, wees hul genadig, laat hul U grootheid aanskou en hul vout besef.

Johanna Botha ·

Solank alle gelowe in ander skole ook dieseldse behandel gaan word volgens die uitspraak …..ek sien n dink kom

jaco ·

Ek onthou hoe het godsdiens in die ou SA se wit Afrikaanse skole geluk: die wit Nasionale Party- en Broederbond-gedomineerde NG-Kerk het ‘n monopolie daaroor gehad. Ons het net die NG-Kerk se Psalms en Gesange gesing. Die arme doppers moes dus gesange sing, die happy clappy Pentecostals mors die Here loof op trekkerige 16de eeuse wysies, die baptiste moes hoor net babadoop is reg en grootdoop is verkeerd en die arme Rooms-Katolieke het bitter min van die godsdiensonderrig verstaan. En dan, om alles te kroon, het ons in die godsdiensklas geleer dat apartheid die wil van God was.

Valerie ·

Jaco, hoe bring jy nou die verlede terug. Selfs in my Engelse skool in JHB was dit so. Dit het ons almal altyd so snaaks laat voel, so asof ons aan die staat behoort het. En toe was dit ook so! Jy het ‘n goeie geheue! Ek het eers later in my lewe ‘n wedergeborene geword maar ek was vertel ek was een van die “uitverkorenes” bloot omdat ek blank was. Huh?

Velerie ·

Hierdie is nie ‘n terugslag vir God nie. Inteendeel, laat dit ons aanspoor om die “gospel” (goeie nuus) te vertel waar ons kom, veral op skoolgronde. Mense praat ure oor goed soos sport en goed wat geen ewigdurende waarde het nie, maar selde hoor ek dat ons die goeie nuus versprei. Hier is ons kans. vat dit!
Die wat dink God en die Bybel is deel van ‘n feeverhaal is geregtig op hul menings, en ons kan nie ons geloof afdwing op ander nie. Ander gelowe mag dit doen, en doern ook so deur geweld en diesmeer. Watse “god” is dit? Laat ons dit deel met liefde en laat die heilige gees sy werk doen.
(O, en ek sit op niemand se draad nie, Ai2).

Valerie ·

Ai, kan na tienuur die aand nie eers my eie naam spel nie. Wie is Velerie? Simpel ekke!

Veritas ·

Die enigste oplossing vir dié tameletjie is ‘n demokratiese proses. Laat die ouers van elke leerling stem daaroor. Die minderheid moet dan maar inval of padvat. Ons sal vinnig sien hoe die eind waai.

William ·

Wonderlike idee en volgende kan die hele land sommer so demokraties stem of wit mense eiendom mag besit in suid afrika – daar is n refe vir minderheids regte in n demokrasie oom.

Lemmer ·

Haal godsdiens finaal uit skole en leer die kinders van Evolusie, Biologie, Wetenskap en Astronomie. Kwantum fisika, die fossiel rekord, planete en die wonders van die heelal soos gesien deur die Hubble teleskoop inspireer meer as die stowwerige ou storie van Moses en die brandende bos.
Dis kindermishandeling om vir ń kind te sê dat daardie maatjie waarmee hy soms speel by die skool gaan “hel” toe net omdat hy nie na dieselfde kerk as jy gaan nie.

Aanbid julle gode asseblief tuis of by die kerk en los die kinders sodat hulle ongehinderd iets sinvols kan leer by die skool.
Laat ek maar stil raak voordat iemand my weer die ewige vlamme van die hel toewens…

Johannes Meintjes ·

Ons beleef werklik-strategiese tye. Vir lank is talle aspekte van die samelewing as gegewe aanvaar. Nou, met ‘n belangrike hofsaak soos hierdie, moet sake soos godsdiens, godsdiensbe-oefening en godsdiens gedrewe resutate tot op nasionale vlak oorweeg word. Die tendens van individue wat wil God speel en dink hule kan as arrogante mense sake van baie groot belang uitdaag, dui na mening op onkonstruktiewe en eiesinnige verval in ons samelewing. Waar is die gemeenskapsvrugte van al die jare se Christelike kerk-hou in SA? Waar is al die groot Dominies, Pastore , Reverends, Sinodes en Konferensies?

Jaco ·

Presies. Hoe gouer godsdiens uit die skole en universiteite en staatsinstellings verwyder word hoe beter.

Boerseun ·

Ek hoop van harte die uitspraak is in OGOD se guns. Die godsdienstige indoktrinasie, hetsy christelik, joods, hindoe of islam, moet end kry.

Koos ·

As godsdiens ‘n keuse vak is, kan.ouers besluit oor hulle kinders se opleiding. Wat is volgende, geen wetenskap.meer op skool omdat dit eurosentries is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.