Skolekontaksport: Teleurstelling, maar akademie bly prioriteit

Alle kontaksport by skole is weer opgeskort. (Foto: Maroela Media)

As die regering die entstof betyds versprei het, sou Covid-19-uitbrekings nooit ná skolesportbyeenkomste plaasgevind het nie. Só sê die DA ná die departement van onderwys se aankondiging Woensdag dat alle skolekontaksport – vir laer- en hoërskole – opnuut opgeskort word.

Die besluit is gister deur die raad van onderwysministers geneem nadat skolesport gedurende die laaste week van die eerste kwartaal glo verskeie Covid-19-uitbrekings in Gauteng tot gevolg gehad het.

Nie-kontaksportsoorte mag in dié stadium met oefening voortgaan mits die nodige veiligheidsprotokol soos onder meer sosiale afstand gedurende oefening gehandhaaf word en spelers geen fisieke kontak gedurende oefening het nie.

Die regulasies is egter nog nie in die Staatskoerant afgekondig nie. Dit sal na verwagting binnekort gedoen word.

Bax Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê die regering se versuim om die entstof betyds en omvattend te versprei het Suid-Afrika tot op die “rand van die derde golf gelei” en die land in ʼn baie soortgelyke posisie gelaat as wat dit verlede jaar dié tyd was.

“Die regering het duidelik nie sy vinger op die pols van die Covid-19-pandemie nie en die ongedifferensieerde benadering is ʼn duidelike voorbeeld van sy onbeholpenheid.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), meen ook dat skole – waar die vermoë bestaan – toegelaat moet word om hul eie reëlings te bestuur. Sy sê dit was uit die staanspoor die SOS se standpunt.

Ouers kyk van buite die skoolgrond na hul kinders se sportaktiwiteite. (Foto: Maroela Media)

Skole wat vantevore gesukkel het om die nodige protokol in werking te stel, is dieselfde skole wat ook nou weer aan die kortste ent gaan trek.

“Veral die Afrikaanse skole, wat ons lede is, het dit [skolesportbyeenkomste] baie veilig gedoen, maar almal word nou weereens oor dieselfde kam geskeer.”

Buys sê hulle is teleurgesteld oor die aankondiging, maar het begrip daarvoor. “Ons is spyt dat die departement dit deur die bank stopsit, maar ons heel grootste prioriteit is dat die akademie kan voortgaan.”

Sy sê ook dit was vir kinders geweldig lekker om weer ʼn mate van normaliteit by skole met sportbyeenkomste te ervaar.

“Dit is gesond vir kinders wat verlede jaar reeds baie ingeperk was én dit is vir hulle lekker.”

Verskeie organisasies sê die waarde van sportaktiwiteite vir kinders moenie onderskat word nie. (Foto: Maroela Media)

Nodada stem saam dat die positiewe uitwerking van skolesport op kinders nie onderskat moet word nie, terwyl die opskorting daarvan ʼn negatiewe uitwerking op sportontwikkeling en skoolbywoning kan hê.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, meen die besluit om skolekontaksport op te skort was die korrekte een.

Klopper sê volgens die SAOU se navorsing en wisselwerking met sy lede is dit duidelik dat die infeksies uit sportbedrywighede spruit en nie tydens gewone skooltyd opgedoen word nie.

“Tydens sport vergeet mense – leerders, afrigters en ouers – die werklikheid van Covid-19.”

Klopper sê dit is egter uiters belangrik dat die departement die sportsoorte wat geraak word, spesifiek moet aandui.

Nodada sê die departement van onderwys moet saam met sy eweknie by gesondheid werk om te verseker dat onderwysers geregistreer word vir die entstof en dit ontvang. Hy sê strenger maatreëls moet ook by skole afgedwing word sodat kinders veilig aan sport kan deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Samuel ·

Die kinders het inderdaad die terugkeer van skolesport geniet. Nou weer die groot teleurstelling. Ai.

Raakvatter ·

Korrek! My seuntjie sou Saterdag sy eerste Valkie Rugby wedstryd gehad het. Nadat verlede jaar sn gekanseleer was.,Ai tog, die arme kinders. Het ook die hele krieket seisoen gemis.

koos10 ·

Wat vir my wonderlik is DA is julle vermoë om alles te kritiseer, tewyl julle deel vorm van die prentjie. Julle bied amper nooit werkbare oplossings nie, en doen julle posisie as opposisie baie gestand. Opponeer alles. En hoe nader ons aan verkiesings kom, hoe meer laat julle jul (negatiewe?) stemme hoor.
Sport moes nooit toegelaat word nie, maar in SA is sport mos ‘n afgod. Laat 15 seuns sport beoefen en plaas 1500 kinders in gevaar.
Ek stem saam met Chris Klopper, dit was die regte besluit.

Arno ·

Ek stem 100% saam met jou Koos, die DA is meer bek as binnegoed, as die DA hulle mond oopmaak is dit ‘n geblaas van wind, niemand steur hulle meer aan hulle gesanik nie!

Johan ·

Kinders is nie in gevaar nie. Maar ja, wat DOEN die DA nou eintlik.

Hansie ·

Koos, jy bly duidelik nie in die Wes Kaap nie. Ek bly in Wes Kaap en het familie en vriende in Noord Kaap en Vrystaat. Daar is ‘n BAIE GROOT verskil tussen Wes Kaap en ander provinsies. Die rede: DA beheer Wes Kaap en alles is beter hier!!!

Verder moet jy asb nie sport kritiseer omdat jy self nie daarvan hou nie!! Nie almal van ons maak “couch potatoes” groot nie. Kinders wil sport speel. Gaan kyk na die statistieke. Jong mense tot ouderdom 30 word baie min geraak deur die virus!!

SomeOne ·

dit sou nie vreeslik gehelp het nie, kyk maar die lur van gesondheid het dit gekry nadat sy reeds inge-ent was

Johan ·

Maskers het toe nou seker nie gewerk nie, “skokkende” nuus.

Anel ·

Hulle mag nie by die skool speel nie, maar die maatjies kuier bymekaar en speel te lekker saam. Het niemand verkoue en griep gekry in die verlede nie? Ek dink baie meer was siek van gewone verkoue en griep. Dit is ook aansteeklik en meer mense en kinders word siek. Is alles toe tot stilstand gebring? Nee, maar nou ja, paniek is ‘n lelike ding. En ek kan julle wed die inenting nie nie einde van siek word gaan wees nie. Volgende jaar is daar weer iets anders.

Johan ·

En waar was die maskers en twak met varkgriep, dit is baie meer dodelik en net so aansteeklik.

Piet ·

By ons skool en by al die ander 3 byeenkomste moes die kinders deur die nodige COVID protokol gegaan het. Die sport was die 1 ding waarna die kinders uitgesien het, om amper ‘n jaar niks te kon gedoen het nie was baie erg vir hulle gewees. Geen toeskouers en ouers was toegelaat op die skool gronde nie, so ek weet nie hoe kon dit ‘n bydrae gelewer het nie. Tot en met hede hoe hoog of gereeld was daar Covid voorvalle by skole gewees. Net ironies dat die taxi’s en busse maar vol gelaai kan word dag na dag sonder enige maatreels. Maar dit word nie as ‘n gevaar gesien nie. Absoluut belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.