Skoleplasings in Limpopo ook nou aanlyn

Die onderwysdepartement in Limpopo het aangekondig dat leerders vanjaar aanlyn kan registreer. (Argieffoto: ANA)

Die departement van onderwys in Limpopo het Dinsdag aangekondig dat ’n aanlyn registrasieproses vir plasings by sommige skole in dié provinsie tussen 3 Junie en 6 Augustus vanjaar sal afskop. Dié proses is net beskikbaar by bepaalde skole wat aan die departement se loodsprojek deelneem en vir leerders wat volgende jaar vir die eerste keer skool toe gaan of van skool verander.

“Inloopregistrasies sal wel nog toegelaat word en sal tussen 17 Mei en 30 Julie geskied,” sê Tidimalo Chuene, woordvoerder vir die departement.

Die departement sê inloopregistrasies sal in oorleg met Covid-19-regulasies en ‑protokol gedoen word.

Die aanlyn registrasieproses vir skole is reeds in Gauteng en die Wes-Kaap uitgerol, maar het al talle hoofbrekens vir leerders en ouers veroorsaak.

Dit, het die DA Woensdag gesê, is onaanvaarbaar. Dit is onaanvaarbaar dat sommige leerders in Gauteng, vyf maande nadat die skole begin het, nog nie in ʼn skool geplaas is nie.

“Dié leerlinge loop broodnodige onderrig mis terwyl ander leerlinge met die akademiese kurrikulum voortgaan,” sê Khume Ramulifho, DA-lid van die provinsiale wetgewer.

“Ek het talle oproepe van desperate, gefrustreerde en woedende ouers en voogde ontvang wie se kinders sedert die begin van die jaar nog nie kon skool toe gaan nie.”

Hy sê dat talle ouers aangedui het dat hulle aanlyn geregistreer het, maar dat hulle kinders maande later steeds nie geplaas is nie. Die departement beweer almal is reeds beplaas.

“Hierdie leerders is reeds negatief deur die Covid-19-pandemie beïnvloed. Deur by die huis te sit vererger net sake vir hulle,” sê Ramulifho.

Hy sê voorts dat die Suid-Afrikaanse Skolewet dit verpligtend maak vir kinders tussen 6 en 16 jaar oud om skool by te woon.

“Deur dié leerders nie in skole te plaas nie, verontagsaam die departement die welstand van hierdie kinders.

“Die DA doen ’n beroep op Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, om leerders wat nog nie plek in skole het nie, onmiddellik te plaas.”

Die party versoek verder dat die aanlyn registrasieproses vir plasings in skole vir 2022 onmiddellik oopgemaak word sodat dit teen Oktober vanjaar afgehandel kan wees om ’n herhaling van hierdie jaar se gebeure te verhoed. Dit is nog nie duidelik wanneer dié proses in Gauteng sal afskop nie.

“Onderrig is die enigste hoop vir die toekoms van kinders en moet nooit in gedrang gebring word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peetjie ·

Lesufi en sy dept kan nie eens die Gauteng aanlyn skole aansoek reg kry nie, nou wil hulle Limpopo ook deur die drama sit… Daar is nou nog kinders wat wag om geplaas te word!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.