Skolesluitings het negatiewe uitwerking op gesinne

(Foto: Gautam Arora/Unsplash)

Deur Tanya de Vente-Bijker

Die verlenging van die skoolvakansies om die verspreiding van Covid-19 te voorkom, kan lei tot onsekerheid, verandering in slaap- en eetpatrone, verhoogde irritasievlakke en negatiewe gedrag, meen kenners.

Alhoewel die skole amptelik op 15 Desember 2020 gesluit het, was daar baie skole wat reeds begin Desember klaar was met akademiese werk. Die heropening van skole op 15 Februarie beteken dat kinders effektiewelik agt tot tien weke tuis is.

Hanlie Degenaar, spraak- en taalterapeut by Care2Kids by die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) in Potchefstroom, sê die verlenging van die skoolvakansie het in baie gevalle die hoop dat 2021 ’n beter jaar sal wees, laat verflou. Ouers, kinders en onderwysers kan moontlik energieloos voel sonder die vermoë om oplossings te vind of situasies te bestuur.

Elke gesin ervaar dit anders. Carina van der Hout, ʼn ma van drie kinders in Bellville, sê sy is een van die gelukkige ma’s wat baie hou van die verlenging van die vakansie.

“Dit is vir ons so gesellig en ons doen allerhande goed saam. Ek is baie bevoorreg om tuis te wees met die kinders. Ons doen elke dag iets anders, eet ons maaltye saam en oefen saam.”

Eleanor Cornelius van Pretoria is ook baie rustig daaroor.

“Daar is geen gejaag nie; ons kry tyd met ons kind en kon ons werk rustig hervat sonder die bykomende spanning van skryfbehoeftes gaan koop, boeke oortrek en die rooster vir nauurse aktiwiteite opstel. Sy sê hul dogter is 12 en baie selfversorgend.

Cornelia van Zyl (skuilnaam) sê skool is soos die gom in die gemeenskap. Dit bring uiteenlopende mense bymekaar – nie net ons kinders nie, maar ook ‘n ouergemeenskap. Vir haar gesin is dit bietjie meer van ʼn uitdaging.

“Ons het onlangs na ʼn nuwe dorp verhuis en het uitgesien daarna om nuwe mense te leer ken en vriende te maak. Vir ons was die aankondiging nogal ʼn terugslag.”

Sy is gelukkig tuis by haar kinders om elke dag ʼn huistaak of ʼn uitstappie uit te dink om die lang ure bietjie interessanter te maak.

“My seun oefen al die hele vakansie vir sy eerste huissport, wat nou dalk nie gaan gebeur nie, en dit breek nogal mens se spoed, letterlik. Ek sou wat wou gee om vandag iewers langs die baan met huissport te ‘verbrand’ in die son,” sê Cornelia.

Saskia Meintjes, ’n ma van twee kinders, sê sy en haar man moes al vroeg in Januarie begin werk. Alhoewel sy van die huis af mag werk, moet sy die kinders die meeste van die dag self besig hou.

“Ek kry ook gereeld versoeke vir tee of broodjies in die middel van ‘n Zoom-vergadering. Dis nie regverdig teenoor die kinders of ouers nie; ek wil nie eens weet hoe ouers wat nie van die huis af kan werk, dit doen nie.

“My dogter begin graad 1 dié jaar. Haar hele skoolloopbaan hang af van wat sy nou leer. Ons kry werk vir hulle, maar ek is nie ‘n onderwyseres nie, ek is ongeduldig en ek moet werk. Dus, het ons haar nou maar eerder by ‘n leersentrum ingeskryf om te help met leer lees en skryf.”

Die sielkundige impak op gesinne

stoute-kinders-oorweldige-ouer

(Foto: Parenting.firstcry.com)

Monique de Klerk, ʼn voorligtingsielkundige by Care2Kids by die CHHP sê studies wat in 2020 gedoen is, het die volgende belangrike statistiek bevind: 53% van ouers kry minder slaap omdat hul kinders later wakkerbly; 38% ervaar meer stryery of bakleiery in die huishouding; 38% van ouers voel dat hul kinders die huisreëls verbreek; 33% ervaar dat daar ’n toename in struwelinge tussen ouerpare is; en 28% ervaar ’n toename in bakleiery tussen sibbe.

Hannes Wessels, ʼn opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê ʼn Nederlandse studie het bevind dat ʼn familiesisteem se vermoë om onsekerheid te kan hanteer, ʼn baie groot sielkundige impak op die familie het.

“Ouers wat dit regkry om onsekerheid te hanteer, pas vinnig aan en kan dit ʼn positiewe tyd maak.
Maar dié wat nie weet hoe om dit te hanteer nie, gaan waarskynlik deur ʼn baie stresvolle tyd. Die toevoeg van stres veroorsaak ’n algemene negatiewe gemoedstoestand en meer konflik in die huishouding.”

Wessels meen met die vervaag van balans tussen werk en lewe, vind ouers minder ontspanningstyd vir hulself en meer verantwoordelikhede by die huis.

Dr. Tiané Viviers, senior dosent by die STADIO Faculty of Education stem saam.

“Meeste ouers is bekommerd oor hul kinders ten opsigte van wie nou na hulle omsien as hulle moet gaan werk en hoe hulle hul werk (weg) en kinders tuis, of werk van die huis af met hul kinders tuis moet balanseer. Ouers is bekommerd oor kinders wat agter raak in skoolwerk. Al hierdie bekommernisse kan tot angs en/of depressie lei.”

Sy sê vir die graad 1’s was dit waarskynlik ʼn teleurstelling dat hulle nie kon skool toe gaan nie, terwyl ouer kinders dit nóg meer negatief ervaar. Om heeldag by die huis te wees, is nie goed vir hul sosiale en emosionele ontwikkeling nie, sê Viviers.

Degenaar sê die onsekerheid en die aanskuif van die datums waarop die skool heropen, dra by tot slaap- en eetgewoontes, motivering, asook hoë vlakke van irritasie en negatiewe gedrag.

“Ouers kan sukkel om te fokus en produktief in hul werksomgewing te wees. Die versoeking is ook groot om kinders te laat begaan wat huisreëls en struktuur betref.”

Kinders ly ook daaronder

Wessels sê die grootste negatiewe impak van skoolvakansies word gesien in families wat van moeilike sosio-ekonomies omstandighede kom. Vir gesinne met ‘n lae inkomste, beteken vakansies dikwels groter finansiële druk, voedselonsekerheid, swak gesondheid en uitsluiting van kultuurverrykende en gesonde aktiwiteite in.

De Klerk sê vakansietye is kenmerkend aan ’n tekort aan struktuur, wat meebring dat kinders langer ure voor die skerm spandeer, ’n verandering in eet- en slaappatrone ervaar, asook minder fisiek aktief is. Daar is dus ook ’n beperkte deelname in georganiseerde aktiwiteite waar kinders rondbeweeg. As gevolg van sosiale distansiëring, word kinders se geleentheid vir sosiale kontak met hul maats ook beperk, wat definitiewe gesondheids- en psigologiese struikelblokke inhou. Kinders beleef dikwels angstigheid of ’n lae gemoed omdat hulle eerstens geïsoleerd is van hul maats en, tweedens, vasgevang by die huis sit waar hulle ’n afnemende gevoel van persoonlike spasie beleef.

Benader dit só

(Foto: Adam Winger/Unsplash)

Dr. Viviers sê dis belangrik dat die werk wat jou kind tuis doen, ouderdomstoepaslik is, veral wat graad R- en 1-leerders betref.

“’n Mens sien so baie op sosiale media mense wat werkboeke adverteer en dit is nie altyd ouderdomstoepaslik nie. ‘The road to hell is paved with good intentions’, maar mens kan meer skade aanrig as jy té moeilike werk vir kinders gee. Laat die jong kinders speel, en lees stories of laat hulle deur boeke blaai. Laat hulle met klei speel en iets maak en jou vertel daarvan, of bak iets saam met hulle. Hierdie kan so leersaam wees.”

Sy sê ouers is bekommerd oor die skole wat nou eers later begin, maar die realiteit en vraag is, hoeveel skoolwerk het in die eerste kwartaal vóór Covid plaasgevind as gevolg van sport?

Wessels maan dis baie belangrik vir ouers om meer bewustelik na hul eie emosionele welstand te kyk. Stres op sigself is nie die probleem nie, maar as stres jou sielkundige “repertoire” verminder en jou weghou van jou waardes, is dit sleg. Soos om die heeltyd oor dieselfde goed wat jou laat stres, te dink of die heeltyd wil weghardloop van die dinge wat jou laat stres. Hy gee twee wenke vir ouers:

  • Bly in die oomblik. Moet nie laat jou kop onnodig met jou weghardloop na die toekoms of verlede toe nie. Elke keer as jy agterkom jou kop herkou gedagtes, kom in ’n baie rustige manier terug na die oomblik, en doen dan iets wat vir jou belangrik is.
  • Werk baie aan selfaanvaarding: Moet nie te hard op jouself wees nie. Meestal, as jy te krities teenoor jouself is, veroorsaak dit net meer en onnodige swaarkry. Besef dat jy net mens is – ons almal het dae wat moeilik is, aanvaar die emosie of gedagte waarmee jy sukkel.

Die Care2Kids-span het ’n aantal wenke vir ouers saamgestel:

  • Soek die verassing of ʼn oomblik van genot in elke dag. Maak dit ʼn roetine dat elkeen in die gesin die beste en slegste van elke dag met mekaar deel. Op dié manier kry jul beter insig in elkeen se emosie en belewenis. Dit help ook om betekenisvolle gesprekke te bevorder.
  • Skep familieroetines wat pret is en verband hou met skool. Een voorbeeld is om vir mekaar ʼn kosblik vir die dag te pak, al is dit nie ʼn skooldag nie.
  • Skep spelerige oomblikke in die dagroetine, soos om as ʼn gesin voor aandete saam ʼn dansie te doen of skep ʼn spesiale familiegroet om elke keer te gebruik voor iemand die huis verlaat.
  • Wanneer ouers met vriende, kollegas, hul kinders en ander gesels, is dit belangrik om te let op oogkontak en gespreksbeurte. Gespreksbeurte bevorder positiewe verhoudinge.
  • Ouers moet tyd vir hulself skep.
  • Hou die huisroetine so na moontlik aan die skoolroetine, onder meer slaaptyd, etenstye en skermtyd vir plesier.
  • Let op gesonde eetgewoontes.
  • Gesels oor die skool en, waar moontlik, stel kinders bloot aan interessante video’s, boeke, stories en ander inligting wat te make het met die temas wat hulle in die eerste kwartaal gaan behandel. Jou kind se skool sal kan help met hierdie inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
LANA is ELANè

Die lang sluiting van skole het die gesinsdinamiek vreeslik negatief beinvloed, ouers se onvermoë om die situasie met hoop aan kinders te verduidelik, het angs in hul kinders gebring. Niemand kan met selfvertroue bevestig dat enige iets normaal gaan wees in 2021, behalwe dat ons aan die Here moet vashou. My een kleindogter is baie onseker oor als en verwoord baie van haar vrese by my en haar oupa. Die onsekerheid oor ouers hande in die hare is, en oral alternatiewe reëlings rondom kinders se versorging moet tref agv hul eie beroepe, help ook nie die situasie nie. Ek voel… Lees meer »

Thea

Ons moet alternatiewe probeer kry omdat ons as ouers self moet werk en ons betaal vir die alternatiewe en steeds verwag die skole ons moet 100% betaal aan skoolfonds. Onderwysers kry hulle salarisse vanaf die staat en is nie afhanklik van ons ouers se betalings nie. Daar is niks aanlyn vir my gedoen gedurende die hele “lock down” tydperk nie en steeds moet ek volle skoolfonds betaal. Dit is ‘n grap!