Skolesport hervat: ‘Fokus is op verkeerde prioriteite’

(Argieffoto/Unsplash)

Daar word op die verkeerde prioriteite gefokus, meen die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) nadat regulasies oor skolesport en buitemuurse aktiwiteite verslap is.

Angie Motshekga, minister van onderwys, het Vrydag gewysigde Covid-19-regulasies vir skole in die Staatskoerant aangekondig. Hiervolgens mag alle skolesportwedstryde, wat kontak- en niekontaksport insluit, hervat word.

“Geen mens verstaan waarom kinders sonder maskers teen mekaar mag skrum, stoei, boks en so meer nie, maar nie nader as een meter aan mekaar, met maskers aan, mag kom nie,” het Chris Kloppers, uitvoerende hoof van die SAOU, gesê.

Kloppers meen daar word op die verkeerde prioriteite gefokus terwyl die akademie ten gronde gaan.

Die aangepaste regulasies geld vir alle skole en is onmiddellik van krag. Dit sluit in dat alle skolesportwedstryde, liggaamsopvoeding, buitemuurse aktiwiteite en interskole-, distriks- en nasionale skolesporttoernooie hervat mag word.

Daar word egter nie toeskouers toegelaat nie en dit is onderhewig aan die nakoming van higiëne en veiligheidsmaatreëls om Covid-19 en die verspreiding daarvan te voorkom. Maatreëls vir die handhawing van sosiale afstand moet ook by byeenkomste nagekom word.

Die getal mense by byeenkomste, onder wie deelnemers, skeidsregters, beoordelaars, tegniese beamptes, vrywilligers, mediese personeel, media- of uitsaaispanne en stadionwerkers, word beperk tot ʼn maksimum van 250 mense vir binnenshuise plekke en ʼn maksimum van 500 mense vir buitemuurse plekke.

In ʼn lokaal of perseel wat te klein is om 250 mense binnenshuis of 500 mense buite te bevat, mag hoogstens 50% van die kapasiteit opgeneem word, met streng nakoming van gesondheidsprotokol en maatreëls vir sosiale afstand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Wanneer gaan die Covidmalheid eendag stop? die “regulasies” is abs belaglik-daars geen logiese sin daarin nie

JM

Geen logiese denke nie. Stiksienig en saai net verwarring. Red ‘n volk!!

Onnie

Red die akademie eerste. Ek sou sê leerders moet eers weer voltyds skoolgaan voordat sport hervat word. Hulle span die kar voor die perde. Intussen raak die leerplan net meer agter en leerders raak lui omdat hulle meer by die huis is as in die skool. Ouers hoef ook dan nie meer bekkomerd te wees oor toesig by die huis terwyl hulle moet werk nie. Hoekom mag mense reg langs mekaar in n taxi sit, maar leerders moet 1,5m uitmekaar in die klasse sit???

Rottenmeyer

Ons kinders kry emosioneel swaar, en kan nie heeldag agter die boeke sit nie. Sport en ander buitemuurse aktiwiteite doen hulle goed en bring balans. Dat hierdie besluit die risiko vir die verspreiding van Covid verhoog, is definitief so – en ‘n groot bekommernis. Maar die emosionele impak van Covid is geweldig en die depressie onder ons kinders ‘n realiteit.
Daar is nie ‘n eenvoudige oplossing nie. Risikobestuur moet so effektief as moontlik gedoen word. En dan moet ons almal op ons knieë bly.

Dirk Mostert

Volwassenes bedryf al geruime tyd sport, ook kontaksport. Waarom nie skoolkinders ook nie? Wanneer word Parkruns in S.A. hervat? Dis nie ‘n toeskouersport nie en vir alle ouderdomme. Buitelig en oefening is gesond en fiksheid is sinoniem met weerstand teen siektes.