Skolesportbyeenkomste nou weer toegelaat

Sportbyeenkomste by skole mag voortgaan, maar sonder enige toeskouers. (Foto: pixabay)

Skolesport- en kultuurbyeenkomste mag ingevolge gewysigde regulasies nou weer hervat word – maar sonder enige toeskouers.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Saterdag nuwe regulasies in die Staatskoerant aangekondig. Ingevolge die regulasies mag skole se sportbyeenkomste, liggaamsopvoeding, kultuuraktiwiteite, buitemuurse bedrywighede en interskole-, distrik-, provinsiale en nasionale skoolsporttoernooie hervat word.

Dieselfde geld vir alle ander buitemuurse bedrywighede soos kooroefeninge, mondelinge toesprake, spelwedstryde, kamma-hof, redenaarskompetisies, debatte en skoolklubs se aktiwiteite. Ook hier mag geen toeskouers teenwoordig wees nie.

Die bedrywighede is vroeër alles opgeskort in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Verskeie streng veiligheidsmaatreëls geld ingevolge die gewysigde regulasies. Dit sluit in ʼn Covid-19-voldoeningsbeampte vir elke venue, ʼn enkele beheerde toeganghek na die plek waar die byeenkoms gehou word, gesondheid- en temperatuursifting asook die beskikbaarstelling van ontsmettingsmiddels.

ʼn Volledige register van almal wat die betrokke byeenkoms bygewoon het moet ook 21 dae lank gehou word. ʼn Lys met name van alle amptenare, leerders en enige ander persoon moet minstens drie dae voor die tyd aan ʼn besoekende skool verskaf word.

Daar is ook ʼn beperking oor die getal mense wat ʼn byeenkoms mag bywoon. ʼn Perk van 100 mense word op binnenshuise byeenkomste geplaas en ʼn maksimum van 250 mense vir byeenkomste wat buite gehou word. Dit sluit in alle deelnemers, skeidsregters, tegniese beamptes, vrywilligers, mediese spanne, die media en stadionwerkers.

Almal moet die perseel dadelik verlaat sodra hul pligte afgehandel is.

ʼn Sosiale afstand moet ten alle tye gehandhaaf word en gesigsmaskers is verpligtend.

Toerusting moet ook voor en ná gebruik ontsmet word.

Kampioenskappe, toernooie en interskoolbyeenkomste wat van leerders vereis om na ander skole of provinsie te reis mag ook weer sonder toeskouers hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bernard ·

Die waansin duur voort. Drie weke word toe ‘n jaar, en ons val in gelid soos skape op pad na die kraal.

Misky ·

Dis mos belaglik verby dat ouers nie kan gaan kyk en ondersteun nie. As ek ontsmet en gemasker na die mall gaan, kan ek nie sien hoekom dieselfde nie gedoen kan word by die ingang van die skool en ek staan langs die groot rugbyveld en in die buitelug nie

Hennie J ·

Kan jy glo! Nou word van ons verwag om ons aan n nuwe klomp grille en giere te onderwerp en geduldig,gedienstig en gedwee daarmee saam te leef.
Hoedman en sy makkers gaan verseker binnekort Afrikaanse skole se rugby en hokkie wedstryde bywoon. Ek sou ook graag wou weet wanneer is jy n toeskouer en wanneer dien jy as toesighouer en/of ondersteuner van jou kind?
Eish, die menester…..die denke hy es gelimit!

Thom ·

Ook die denke van mense wat nie wil verstaan dat die virus oor kort afstande oorgedra word nie .

Cornel ·

Oh what a circus oh what a show!!! Dit is blerrie belaglik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.