Skolewet: ‘Grootste duwweltjies verwyder’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Partye is tevrede dat die voorgestelde wysigings aan die Skolewet nou heelwat anders daaruit sien as toe dit aanvanklik in 2017 gepubliseer is en dat die meeste omstrede kwessies hanteer is.

Die kwessie van skole se taalbeleid wat deur die hoof van die provinsiale onderwysdepartement goedgekeur moet word, skep egter nog ongemaklikheid in sekere onderwyskringe en wek kommer dat dié bepaling gebruik sal word om skole onder druk te plaas om te verengels.

Die departement van basiese onderwys het Maandag in ʼn verklaring aangekondig dat die proses van openbare deelname nou voltooi is en dat Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys nou in die parlement voorgelê sal word.

“Die konsepwysigings lyk nou baie anders as toe dit die eerste keer in 2017 gepubliseer is, en ons is tevrede dat die grootste duwweltjies nou verwyder is,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie vir Skolebeheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas).

Die oorspronklike konsepwysigings het die beheerliggaam se magte aansienlik beperk wat betref die aanstel van skoolhoofde en die bepaling van die skool se toelatingsbeleid.

“Ons is veral nou tevrede dat die nuwe weergawe aandui dat skole nie meer hoef te wag vir goedkeuring van hul provinsiale departement alvorens hul toelatingsbeleid geldig is nie. Skole moet wel nog hul toelatingsbeleid aan die departement voorlê, maar tensy die departement anders aandui, is die toelatingsbeleid afdwingbaar.”

Hy sê daar was aanvanklik groot kommer oor dié spesifieke bepaling, aangesien skole in die Noord-Kaap en Gauteng besonder lank wag vir terugvoer van hul provinsiale departement af in dié verband.

dr-jaco-deacon-fedsas

Dr. Jaco Deacon van Fedsas. Foto: Facebook.

ʼn Advokaat van Pretoria, wat spesialiseer in onderwysreg, sê hy is egter steeds bekommerd dat die beheerliggaam se magte uitgedaag word deur die bepaling dat die hoof van ʼn onderwysdepartement die mag het om ʼn skool se taalbeleid tersyde te stel. “Die wet maak reeds voorsiening daarvoor dat die hoof van ʼn bepaalde onderwysdepartement in gesprek kan tree met die beheerliggaam, sou hy meen dat leerders op grond van ʼn skool se taalbeleid uitgesluit word. Die beplande wysigings skep die moontlikheid vir konflik tussen twee staatsdepartemente, naamlik die beheerliggaam en die onderwysdepartement.”

Deacon meen egter die onderwysdepartement het steeds nie die reg om sy besluit oor ʼn taalbeleid goedsmoeds af te dwing nie en die partye moet steeds in gesprek tree daaroor. “Dit sal veral van toepassing wees op enkelmediumskole in hoëdrukgebiede waar kinders sukkel om plek in skole te kry.”

Volgens Deacon is daar wel nog ander bepalings wat vreemd voorkom, soos dat ouers en onderwysers aanspreeklik gehou kan word indien ʼn leerder van skoolgaande ouderdom nie in die skool is nie. “Ek vermoed egter die parlement sal nog ʼn ronde van kommentaar toelaat, al is dit dan net die geleentheid om ʼn voorlegging in die parlement te maak, juis omdat die konsepwetgewing so drasties van die oorspronklike konsep verskil.”

Deacon is wel verheug oor die feit dat die voorgestelde wysigings gr. R as verpligtend beskou. “Dit sal die departement dwing om sy verpligtinge na te kom wat die voorsiening van hulpbronne vir gr. R-klasse aan laerskole betref.”

Die advokaat sê hoewel hy saamstem dat dié wysigings positief is, dit ʼn aantal implikasies vir die departement se finansies en infrastruktuur inhou.

Die advokaat en Deacon beklemtoon albei egter dat dit nog ʼn lang proses is alvorens die voorgestelde wysigings goedgekeur word en daar kan nog enkele geleenthede vir kapsie wees, sou bepaalde groepe meen dat hul belange nie deur ʼn spesifieke bepaling bevoordeel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrew

Yip. Kobaai afrikaans model c

Oom Hennie Pennie

Kommerwekkend! Die staat mag nie volle segenskap he nie, meer magte moet vir beheerligame gegee word

Johann

Wie het nou ‘n probleem dat die inheemse taal, engels, in ons hoofstroom Afrikaanse skole afgedwing word?

Johnny

Graad O – Ontvangsjaar (letter O – nie ‘n nul nie)
Grade R – Reception year