Skoliere glo aangeval omdat hulle ooggetuies was

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 11 hoërskoolseuns is Vrydagmiddag in Cedara naby Pietermaritzburg beseer toe seuns hulle op ʼn skoolbus met messe aangeval het.

“Twaalf seuns het by die skool opgedaag, in ʼn bus geklim en die skoliere met messe begin aanval,” het ER24 in ʼn verklaring gesê. Die skoliere het geringe tot ernstige beserings opgedoen.

Die Hilton-polisie het intussen vier skoliere, tussen 16 en 19 jaar oud, vir poging tot moord in hegtenis geneem. Van die ander vermeende aanvallers is steeds op vrye voet.

Die polisie is omstreeks 14:40 na die skool ontbied. “Vier skoliere, tussen 17 en 18 jaar oud, is erg beseer,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê. “Slagoffers is na die hospitaal gehaas en een van die slagoffers was in ʼn kritieke toestand.”

Zwane sê die polisie het beslag gelê op van die messe wat vermoedelik in die voorval gebruik is.

Een van die verdagtes in die voorval is die beskuldigde in ʼn saak van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig wat in Augustus 2013 plaasgevind het. Van die slagoffers is glo ooggetuies in daardie saak.

Twee van die beskuldigdes is in die sorg van hul ouers vrygelaat, omdat hulle nog minderjarig is.

Die ander twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal aangekla word van poging tot moord en sal binnekort in die landdroshof in Pietermaritzburg verskyn.

Lt.genl. Mmammonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes vereer vir hul spoedige reaksie. “Ons sal seker maak dat daar behoorlik opgetree word teen hierdie tieners wat die pad van misdaad gevolg het,” het sy gesê. “Ons sal nie toegeeflik wees nie, want hulle het gekies om kriminele te wees. Die ander verdagtes sal binnekort aangekeer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.