Skool brand ná weerlig tref

Argieffoto

Sowat sewe klaskamers van ’n skool in Barberton, Mpumalanga, is Donderdag in ’n brand wat deur weerlig veroorsaak is, verwoes.

Klaskamers by die Barberton Sekondêre Skool is in ligte laaie gehul toe die weerlig die skoolgebou getref het. Die weerlig het glo die boonste verdieping van die skoolgebou in die vroeë oggendure getref. Só het Sakkie Dednam van die Hi-Tech Security-maatskappy in Barberton aan Die Laevelder gesê.

Weens die slag is die skool se elektriese kabels glo aan die brand gesteek wat veroorsaak het dat die boonste verdieping in vlamme gehul is. Volgens Dednam het die grondverdieping waterskade.

Jasper Zwane, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, sê die departement het reeds ’n tegniese span na Umjindi, Mbombela, gestuur om die presiese oorsaak van die brand te ondersoek.

Volgens Zwane sal die departement gevolglik alles in sy vermoë doen om die skade aan die klaskamers te herstel voordat die skool sy deure weer in die nuwe jaar open.

Barberton Sekondêre Skool word beskou as een van die beste skole in Mpumalanga en is bekend vir leerders se goeie uitslae. Dié gegoede skool het sowat 800 leerders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.