Skool geruk deur matrikulant se dood

Cassie en Armand Carstens (Foto: Verskaf)

Hugenote Hoërskool in Wellington is geruk ná die dood van een van sy matrikulante, Armand Carstens. Die 19-jarige Carstens is vanoggend (Vrydag) in ’n motorongeluk op die dorp dood. Hy was die jongste seun van Cassie Carstens wat tot onlangs uitvoerende hoof van Boland Rugby was.

Die ongeluk het vroeg Vrydagoggend op die hoek van Kerk- en Cummingsstraat in Wellington plaasgevind.

Rudi Ferreira, ʼn vriend en woordvoerder van die familie, het gesê die bakkie waarin Carstens en ʼn vriend gery het, het gerol.

“Die bakkie het weer op sy wiele te lande gekom. Armand, wat aan die passasierskant gesit het, het die hardste impak gekry,” het Ferreira gesê.

Carstens se suster, Bianca, het Ferreira vanoggend omstreeks 02:10 gebel en van die ongeluk in kennis gestel.

“Die vriend het nie te erg seergekry nie,” het Ferreira gesê. “Armand is op slag dood.”

Ferreira sê Armand moes ’n harde slag teen die kop gekry het.

Armand saam met sy suster, Bianca, en broer, Casey (Foto: Verskaf)

Carstens en die vriend was op pad terug na die plaas waar hy by familievriende gewoon het. Die Carstens-gesin het ʼn ruk gelede na Kimberley verhuis waar hulle oorspronklik vandaan kom. Carstens het in Wellington agtergebly om sy skooljaar te voltooi.

“Armand sou vir ʼn paar dae Kimberley toe gegaan het om te begin met voorbereiding vir die matriekeindeksamen. Hulle sou ook dan bespreek het wat hy volgende jaar ná skool sou doen.”

Ferreira het gesê die Carstens-gesin is hard getref deur Armand se dood.

“Cassie het nog gisteraand om 11:00 met Armand oor die foon gepraat om seker te maak alles is oukei.”

Ferreira sê Carstens het sy pa se voetspore gevolg en was self ’n kranige rugbyspeler.

Hugenote Hoërskool het op sy Facebook-blad die skool se medelye met Carstens se familie en vriende betuig.

“Sy humorsin, vriendskap en sportmangees was besonders. Ons sal hom altyd onthou op die terreine waar hy betrokke was in Hugenote,” lui die inskrywing.

Carstens word oorleef deur sy ouers, Cassie en Matty, sy ouer broer, Casey, en sy suster, Bianca Buys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Aijaijai altyd hartseer as’n jong lewe van sy geliefdes weg geneem word. ‘n Ouer behoort nie sy kind begrawe nie
Ons het nie altyd antwoorde nir

Santie Gildenhuys

Min dinge so hartverskeurend soos ‘n matrikulant wat amper amper aan die einde van sy skoolloopbaan en op die drumpel van die grootmenslewe sterf. Ons innige meegevoel.

Misky

So n mooi seun met oë wat net ken van lag….. Sterkte aan julle as familie en naasbestaandes. My hart huil en treur saam met julle as mede matrikulant ouer

Gemaskerde Sopbeen

Tragies. Sterkte