Skool gesluit weens koronavirus dán weer oop  

Die OR Tambo-lughawe.

Die laerskool in Johannesburg wat Maandag sy deure gesluit het nadat ʼn onderwyser kontak gehad het met Suid-Afrikaners wat positief getoets het vir die koronavirus, sal weer Woensdag open.

Ché McKay, hoof van Grayston Prepatory School in Morningside, het Maandagaand gesê die skool se bestuur het deur die loop van die dag met belanghebbendes en kenners vergader, waarna ooreengekom is dat die skool weer Woensdag sy werksaamhede sal hervat.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n onderwyser by die skool vermoedelik kontak gehad het met een van die groep van tien Suid-Afrikaners wat sowat ’n week gelede vanuit Italië teruggekeer het. ’n 38-jarige man van dié groep het dae later die eerste pasiënt in Suid-Afrika geword om positief vir Covid-19 te toets. Ses ander mense het intussen positief getoets, onder wie die man se vrou.

“Die betrokke personeellid sal steeds in isolasie wees vir die aanbevole kwarantynperiode, hoewel sy op dié stadium nie enige simptome van die virus toon nie,” sê McKay. “Ons herhaal dat die personeel en leerders van die skool slegs sekondêr aan die virus blootgestel is en die kans dat hulle sal aansteek is dus minimaal.”

McKay sê die skoolkampus sal Dinsdag intensief skoongemaak word. “Ons sien uit na leerders se terugkeer Woensdag. By hul aankoms sal die leerders leiding van onderwysers ontvang oor algemene higiëne en voorkomende maatreëls om infeksie te voorkom. Soos die skool se beleid bepaal, is dit beter om jou kind tuis te hou indien hy siek is.”

Intussen is ʼn vrou van Noordwes gehospitaliseer nadat sy simptome van Covid-19 getoon het. Die 26-jarige vrou is Maandag in die Tshepong-hospitaal in Klerksdorp opgeneem. “Sy word tans versorg deur hospitaalpersoneel en die hospitaal doen al die nodige veiligheidstappe om die betrokke saak te hanteer,” sê ʼn woordvoerder van die Noordwes- departement van gesondheid.

Hy het die gemeenskap gemaan om kalm te bly totdat die nodige toetse bevestig het of die vrou die virus het, al dan nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan Venter ·

Wat skrikwekkend is as mens na die aantal sterftes aan die virus in Sjina kyk, dan sien mens oor dieselfde tydperk is daar meer mense in Suid-Afrika vermoor.

Ons het nie hier ‘n virus nodig nie, ons doen dit sommer self.

NetM ·

“Ons” doen dit nie. Maar ja, baie meer mense op ‘n dag wat hier vermoor word.

SomeOne ·

” skool slegs sekondêr aan die virus blootgestel is”, is primer en sekonder nie maar dieselfde as dit by aansteeklikheid van ‘n kiem kom nie, jy was blootgestel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.