Skool glo in gedrang weens pensioene vir predikante

Inwoners beskuldig die gemeente se predikant dat hy met ʼn ontwikkelaar konkel . (Foto: Susan Purén)

ʼn Landelike skool met 330 leerlinge sal moet sluit as die Wes-Kaapse onderwysdepartement en die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) nie ʼn huurooreenkoms kan bereik nie. Die VGK wil glo die skool verkoop omdat geld vir predikante se pensioene benodig word.

Die VGK besit sedert 2005 die grond waarop die Franken VGK Primêre Skool gebou is. Indien dié skool sluit, sal leerders meer as 40 km ver moet reis om skool toe te gaan. Die skool is net buite Herold, ʼn dorpie noord van George.

Inwoners beskuldig nou die gemeente se predikant, ds. David Elias, dat hy met ʼn ontwikkelaar konkel wat beplan om Herold in ʼn historiese toeristeaantreklikheid te omskep en boonop ʼn groot aantal huise daar te bou. Daarom, glo inwoners, sloer hy om ʼn formele huurooreenkoms met die onderwysdepartement te bereik wat jare reeds betaal vir die huur van die grond waarop die skool staan.

Franken VGK Primêre Skool bestaan sedert 1933 op plaasgrond wat grens aan die dorpie Herold, op die noordelike punt van die Montagu-bergpas tussen George en Oudtshoorn. Die dorpie het minder as 20 bewoonde huise en die leerders is meestal plaaskinders wat met die skool se eie busse aangery word.

Harold in die Wes-Kaap. (Foto: Susan Purén)

Die skool is eiehandig deur die arm bruin gemeenskap omskep in ʼn spogskool wat nou tot gr. 9 onderrig gee.

Van die ouers en voogde van die kinders, sowel as lidmate van die gemeente en lede van die gemeenskap het aan Maroela Media gesê dat die skool vir hulle ʼn eie trots gegee het.

“Goeie bestuur, beplanning en harde werk deur die prinsipaal, die beheerraad en die ouers het hierdie skool moontlik gemaak en ons sal nie toelaat dat dit van ons kinders weggeneem word nie,” sê ʼn persoon wat nou gemoeid is by die skool maar verkies om anoniem te bly.

“Sien ons kommer asseblief raak,” smeek nog ʼn lid van die gemeenskap in ʼn brief wat aan Maroela Media gegee is.

“Dit sal vir ons ʼn groot teleurstelling en geldelike las wees as ons kinders George of Oudtshoorn toe moet gaan,” skryf sy.

“Hy het ʼn volhoubare inkomste uit die huurgeld en die kerk lewer geen bydrae tot die skool nie behalwe om toestemming vir die uitbreidings te gee,” beweer nog ʼn erg omgekrapte lid van die gemeenskap.

“Die skool betaal selfs die kerk se elektrisiteitrekening sedert dit afgesny is omdat ds. Elias dit nie betaal het nie.”

(Foto: Google Earth)

Toegang tot die skool en die kerk kan slegs verkry word deur middel van ʼn serwituut-pad van 5 meter wyd wat in die transportakte van 1931 beskryf is toe die grond destyds aan die kerk geskenk is.

Dié stukkie niemandsland is nou, byna 90 jaar later, die spilpunt van probleme tussen die skool en die dominee.

Elias beweer die skool se siersteen-ingang is oor die serwituut se grens gebou en moet eers afgebreek word voordat hy ʼn huurkontrak met die Wes-Kaapse onderwysdepartement sluit.

Hy beweer verder daar was nie toestemming by die kerkraad verkry om ʼn boorgat by die skool te sink nie. ʼn Kragkabel wat voorheen elektrisiteit aan werkershuisies verskaf het en waarvoor die afgetrede plaaswerkers betaal het, moes ook verwyder word omdat dit van die kerk af onder die ontwikkelaar se grond geloop het.

Al die bewerings word bevestig in prokureursbriewe wat nou oor en weer vlieg tussen die skool, die onderwysdepartement, die VGK en die ontwikkelaar.

Een van hierdie dispute het selfs ʼn draai in die Wes-Kaapse wetgewer gemaak. ʼn Lid van die ANC, Muhammad Sayed, het die provinsie se LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, gevra of haar departement en die kerk al ʼn formele ooreenkoms oor die verkoop van die skool bereik het.

Sayed wou ook weet wie by die onderhandelings betrek word en waarom daar nie voorheen ʼn geldige huurooreenkoms was terwyl die departement al die jare die huurgeld betaal het nie.

Die gemeenskap het die skool eiehandig tot spogskool opgebou. (Foto: Susan Purén)

Schäfer se geskrewe antwoord was dat die departement nie onderhandel om die skool te koop nie omdat hy ʼn beperkte begroting het. Die huurkontrak kon ook nie gefinaliseer word nie omdat daar ʼn “belangrike probleem met ʼn grensmuur is wat oor die aangrensende plaas se grond gebou is”.

Maroela Media het self gaan kyk waaroor die klagte gaan en die probleem blyk toe nie ʼn grensmuur te wees nie, maar ʼn enkele losstaande hekpilaar wat ʼn halwe baksteen diep oor die grens in die serwituut staan.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het aan Maroela Media gesê hy is steeds besig om ʼn langtermynkontrak met die kerk te beding.

Elias het dit onomwonde gestel dat hy slegs bereid sou wees om Maroela Media se vrae te beantwoord as hy die name van die klaers kon kry.

“Eers as ek eerlike antwoorde van u kry sal ek u te woord staan. Ek word betrek en het ook regte. As u so eerbaar en opreg is, het (u) mos niks om te vrees nie,” het hy in verskeie WhatsApp-boodskappe laat weet.

Nie die sinodale regskommissie van die VGK of die skriba van die ring van Zoar waaronder die De Villiers-gemeente val, het op navrae gereageer nie.

Intussen het Regslui vir Menseregte gesê dat hulle ondersoek instel en die gemeenskap moontlik gaan bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Die Bybel sê “die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad”. Die Bybel sê ook “dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te kom”.
Ek wonder baie, wat maak al die geldgierige predikante met dié 2 Bybeltekste? Plak hulle dit toe, krap hulle dit uit, tippex hulle dit dood of sê hulle “dis verkeerd vertaal.

Cherokee ·

Jaco, myns insiens het jou kommentaar nie betrekking op die situasie in die berig nie.

gatgogga ·

Jaco, dit is onmoontlik vir ‘n kameel om deur die naald se oog te gaan.
Dus, geen ryk man sal dit ooit maak nie.
Wat van ‘n ryk vrou, wonder ek?

Michael ·

Hoekom boikot hul nie die kerk en hou hius selle dan sal hy n ander heen koms moet gaan soek.

Niklaas ·

Dit klink asof daar net een gewenste oplossing is t. o. v. hierdie probleem/krises. Verplaas hierdie Ds Elias. Dis mos nie onmoonlik nie.

Simon ·

So die skool word verkoop. Hoe lank gaan dit die predikante se pensioen verseker dan is daai geld ook op?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.