Skool in Carletonville amptelik gesluit weens reusesinkgat

(Foto verskaf)

Die Relebogile Secondary School in Khutsong in Carletonville moes Donderdagoggend sy deure amptelik sluit nadat ʼn sinkgat onder die ablusieblok gevorm het.

Daar was nie enige skoliere by die skool toe die sinkgat gevorm het nie, aangesien leerders drie dae gelede geweier het om verder klasse by te woon weens die ondraaglike hitte in die tydelike klaskamers.

Die VF Plus is sedert gister op die toneel waar Gauteng se departement van onderwys met die Merafong- plaaslike munisipaliteit en ander belanghebbendes vergader het om ʼn oplossing vir die probleem te vind.

“Tydens ʼn vergadering vandag is besluit om geologiese ingenieurs na die skool te stuur om vas te stel of die grondformasie stabiel is en om alle ondergrondse waterpypleidings te ondersoek,” sê Ben van der Berg, die VF Plus se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid. “ʼn Heining gaan ook om die sinkgat aangebring word.”

Die departement van onderwys sal intussen vergader om oor die toekoms van die leerders te besluit.

“Die VF Plus is bekommerd oor die veiligheid van die leerders en het die departement versoek om die leerders so spoedig moontlik tydelik te hervestig.”

Die party het sy wetgewerlid, Kobus Hoffman, ook versoek om die saak dringend met die LUR vir menslike nedersettings en infrastruktuur, Lebogang Maile, op te neem.

(Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die VF Plus krap al hoe meer op plekke waar dit nie jeuk nie.

Cherokee ·

Is Khutsong nie groot genoeg om ‘n dorp op eie te wees nie? Waarom word dit afhanklik van Carletonville gehou? Onafhanklikheid het ‘n prys. Ek neig te onthou dat 1000 huise ‘n dorp vorm. Khutsong behoort laaankal dorpe te wees. Ek woon baie ver van daar, maar ken die omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.