Skool in hof oor oorvol klasse

Hoërskool Ellisras (Foto: ECJ Photography via Hoërskool Ellisras, Facebook)

Die skoolbeheerliggaam van die Hoërskool Ellisras gaan Dinsdag die hooggeregshof in Polokwane nader om die provinsiale onderwysdepartement te keer om bykomende leerders by die skool te plaas.

Dié parallelmediumskool in Lephalale, Limpopo, kan volgens ’n veiligheidsevaluering net sowat 400 leerders inneem, maar het reeds meer as 800 ingeskrewe leerders. Nou wil die provinsiale onderwysdepartement die skool onwettig dwing om nóg 44 leerders in te neem.

Volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas), is die provinsiale departement se optrede strydig met wetgewing, wat bepaal dat ’n skoolbeheerliggaam toelatings hanteer.

Naas hierdie aspek is daar ook strukturele probleme met die skoolgebou wat vererger word deur oorvol klasse.

Die strukturele uitdagings is reeds ná die tragiese gebeure by die Hoërskool Driehoek in 2019 uitgewys. Vier leerders is dood toe ’n brug by dié skool ineengestort het.

“Volgens ingenieursverslae moet leerdergetalle by die Hoërskool Ellisras dringend verminder word weens die infrastruktuur-uitdagings. Dié verslae word reeds die afgelope drie jaar aan die provinsiale onderwysdepartement voorgelê, maar daar word niks daaraan gedoen nie,” sê Deacon.

Deacon sê in Februarie verlede jaar het die provinsiale onderwysdepartement ook sy mag misbruik om bykomende leerders onwettig by die skool te plaas. Eers ná ingryping en mediasie deur die nasionale departement van basiese onderwys het die provinsiale departement van plan verander. Boonop ontken die provinsiale departement nou dat die vergadering ooit plaasgevind het, ten spyte van dokumentêre bewyse.

“Hierdie magsvergryp is maar net nog ’n voorsmakie van wat voorlê indien die voorgestelde wysigings aan skolewetgewing (Bela) deurgevoer word. Ouers, voogde en gemeenskappe moet van elke geleentheid gebruik maak om kommentaar op die Bela-wetgewing te lewer. Anders is die nagevolge van sulke magsmisbruik elke skool se voorland.”

Deacon sê ná byna drie dekades begryp talle staatsamptenare steeds nie dat daar nie staatskole in Suid-Afrika is nie. “Dit is openbare skole wat deur gemeenskappe bestuur word. In die geval van die Hoërskool Ellisras het die staat dus die gemeenskap versaak en plaas nou kinders se veiligheid op die spel ter wille van ’n politieke agenda.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Erika ·

Laat my toe om my opinie te lig rakende oorvol-klasse \ skole, en dit is my beskeie mening, daar is te min skole vir al die kinders, kinders is deesdae net ‘n nommer in ‘n klas. Oral, en ek praat nou spesifiek van Pretoria Noord, om elke hoek en draai is daar ‘n Mall, ontwikkeling, die een ontwikkeling na die ander, maar daar word geen skole gebou vir al die ontwikkeling nie. Kinders word weggewys wat in spesifieke area bly, en kinders wat verder weg bly, word aanvaar! Komplekse word oral gebou, maar nêrens sien mens dat daar ‘n skool aangebou word nie. Die skole in die Noord is te min vir al die kinders. Vir wat daar om elke hoek en draai, ‘n Mall gebou moet word, gaan my vestand te bowe. Bou eerder nog laerskole en hoërskole, duidelik is daar oral ‘n tekort aan skole!

Sandra ·

Die probleem is dat die malls deur private instansies gebou en finansier word, die onderwys dept. het nie daai tipe geld nie, of liewer, hulle het, maar wil dit nie bestee waar dit hoort nie.

Jacobus ·

Sandra jy slaan die spyker op die kop. Daar is mense wat nie die verskil ken tussen privaat en provinsiaal en nasionaal nie.

Elma ·

As privaat mense bereid is om uit hulle sakke te betaal vir skole, sal dit nie gebou word nie. Komplekse en malls word deur ontwikkelaars met hulle eie geld betaal.

Henry ·

Laat hulle meer skole bou. Maar dit is te maklik om kinders oor n groot afstand te vervoer na skole wat oorvol is

Eugene ·

Hierdie regering glo ek, kan niks bou nie. Bou hulle iets, stort dit in mekaar. Wat hulle well kan bou, is kinners, dis hoekom die skole oorvol is.

melaney ·

Een probleem minder vir my. Maar nogsteeds kry ek families jammer wat daagliks sulke probleme in die oë moet staar.

Misky ·

Ek vertrou julle sal suksesvol wees, Hoërskool Ellisras. Wys hulle en baan die weg vir ander skole in soortgelyke situasie.

Johann ·

Mags mal. Ras behep. Totaal onbevoegd. Moedswillig. Presies wat jy NIE moet wees as jy jouself uitgee vir iemand wat skool opleiding en die veiligheid van kinders voorstaan nie.

Corne ·

Wanneer maak julle jul https certificate issue reg, dis noual hoe lank ?

domheks ·

cANCer kan nie beplan nie! Daar gaan plakkerskampe oral op – dan voorsien munisipaliteite water – op wie se onkoste? Daar is geen spoeltoilette nie m.a.w. hulle maak puttoilette! of doen hulle ding in die veld. Die kinders word jaarliks meer en meer – dan moet daar mos meer en meer skole gebou word!

anko ·

cANCer het geen idee en balans op grondvlak van kinders en skole nie. Kinders kry kinders en dit gaan alles oor kinderonderhoud. Sodra dit afgeskaf word of beperk word tot een kind met ‘n ma ouer as 18, sal daar hopelik minder kindertjies gemaak word. Tot dan is daar nie veel hoop nie

Marius ·

Tog is daar Engels medium hoërskool en Laerskool in Ellisras wat sukkel om getalle te kry. Nou waarvoor die skool wat Afrikaans is dooddruk met Engels?
Almal verloor….

Delia ·

Afrikaanse skole het dalk die beste en mees toegewyde leerkragte

Shakespeare ·

Nou moet ons staatmaak op onbevoegde arogante Lepoefie en kaders………. Jammer maar hierdie kanker is terminaal….was gewees….is hudiglik….en sal altyd so wees want…….hulle het oordonderende getalle ….. en dis al rede hoekom hulle aan bewind is.

anko ·

En stemme word verkry deur KFC, kep, t-hemp, geld in die hand

Kokkie ·

Ek hoor julle pleidooi vir meer skole. Maar daar is nie gekwalifiseerde onderwysers om die kinders te onderrig nie.

anko ·

Dis hoekom almal na die goeie skole aangery word, omdat dit wil voorkom dat hul eie skole in hul eie gebiede, van die straat af onnies het

Renier ·

Skole wat gebou word word afgebrand deur die gemeenskap sodra die gemeenskap ongelukkig is oor enige iets.

Matmiet ·

Soos met baie probleme in Suid Afrika, wil die regering nie die ooglopende oplossing aanvaar nie, nl. dat hulle ‘n klomp nuwe skole sal moet bou in plaas daarvan om te teer op bestaande skole.

Lillian ·

Nog ‘n krisis wat ek voor die deur van hierdie onbevoegde regering lê.

Waarheid2020 ·

Daar is n paar belangrike aspekte wat nie in die berig genoem is nie…
Daar is ook n hele paar belangrike karakter eienskappe wat nie genoem is nie.

Moet nie n held probeer maak van mense,of gedeeltes van n groep mense, wat nie werklik helde is nie. Wat definitief nie helde is wanneer dit in die alledaagse lewe nodig is of by hulle werknemers kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.