Skool in rou ná geliefde onnie by skool inmekaarsak

Ollie Ollewagen (Foto: Facebook/ KHS Klersdorp)

’n Ervare onderwyser is Saterdagoggend by die Hoërskool Klerksdorp in Noordwes aan ’n hartaanval oorlede.

Mmaphefo Matsemela, provinsiale LUR van onderwys, sê in ’n verklaring hy het met skok verneem van Ollie Ollewagen (63) se onverwagse dood.

Volgens Matsemela het leerders en personeel vroegoggend by die skool bymekaargekom om saam te vertrek na ’n sportbyeenkoms in Vereeniging waaraan leerders sou deelneem. Ollewagen het omstreeks 05:30 in die parkeerterrein van die skool stilgehou waarna hy uit sy motor geklim en skielik inmekaargesak het.

Luidens die verklaring het ander personeel Ollewagen te hulp gesnel. Sy familie en ’n ambulans is na die skool ontbied, maar Ollewagen is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.

Leerders het ten tyde van sy dood reeds met ’n bus vertrek en nie die voorval aanskou nie.

Jappie van Rooyen, waarnemende skoolhoof, sê Ollewagen het meer as 40 jaar lank skoolgehou en was die hoof van rugby en hokkie by die skool. Hy het ten tyde van sy dood lewensoriëntering by die skool gegee.

“Hy sal altyd onthou word vir sy rustigheid, sagmoedigheid en grappies. Sy fyn sin vir humor sal ons altyd mis. Dit was vir ons ’n voorreg om hom te ken en sy heengaan laat ’n enorme leemte,” het die skool Saterdag op Facebook geskryf.

Matsemela het sy meegevoel met Ollewagen se familie en die skoolgemeenskap betuig. “’n Nasie sonder onderwysers is ’n gedoemde nasie. My hart is gebreek om so ’n hardwerkende en toegewyde onderwyser te verloor, want hy het verlede jaar 126 onderskeidings in die vak lewensoriëntering behaal,” het die LUR gesê.

Ollewagen word oorleef deur ’n vrou en kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

My innige simpatie aan almal wie se lewens hy geraak het. Ek vertrou Lesufi stuur beraders ook na dié skool om leerlinge en kollegas by te staan in hul smart.

Kakamiet

Sjoe, innige simpatie aan die familie, vriende en natuurlik die skool se onnies en kinders. Sterkte vir almal.

Jaco

Het by skoolgegee of skoolgehou? Sover ek weet is skoolgehou die korrekte Afrikaans.
As maroelamedia.co.za wil opstaan vir die behoud van Afrikaans, skryf dit dan tog net reg asseblief.

Hetteke

Taalversorger vir Maroela? Ek doen dit graag.