
Dezere Lawrenson was ‘n gr.8-onderwyseres aan Hoërskool Dr. Malan (Foto: Hoërskool Dr. Malan, Facebook)
“Dezere was geliefd onder al die personeellede, kinders en ouers.”
Só sal die personeel van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, Gauteng, vir Dezere Lawrenson (23), ʼn gr. 8-onderwyseres, onthou nadat sy die afgelope naweek in ʼn motorongeluk dood is.
Rossie Briers, skoolhoof van Hoërskool Dr. Malan, vertel hy het Sondag omstreeks 00:45 ʼn oproep oor die ongeluk ontvang. Hy sê die ongeluk het op die Stokkiesdraai-pad naby die Kompas Gemeente in Vanderbijlpark, Gauteng, plaasgevind. Hy weet egter nie wat presies gebeur het nie.
“Die polisie het vraestelle met die skool se naam daarop in die pad aangetref. Hulle het my toe gekontak en ek is na die ongelukstoneel toe. Op pad na die ongelukstoneel het hulle aan my bevestig dat dit Dezere is wat in die ongeluk dood is. Toe ek by die toneel aankom, was haar pa en kêrel reeds daar,” vertel Briers.
Briers vermoed die ongeluk moes rondom 00:00 plaasgevind het. Sy het ʼn Volkswagen Polo gery en was die enigste insittende in die motor toe die ongeluk gebeur het.
Lawrenson het verlede jaar aan die Noordwes-Universiteit (NWU) afstudeer en in Januarie as gr. 8-onderwyseres by Hoërskool Dr. Malan begin. Sy het ook hokkie afgerig.
“Dezere se skielike dood is ’n groot skok vir die skool. Ons harte is stukkend.
“Sy het in vier maande diep in ons harte gekruip. Ons kan nie glo sy is nou weg nie,” het Briers gesê.
’n Roudiens is Maandagoggend by die skool gehou. Pastoor Gerhard Le-Maitre van die Midvaal Christian Centre in Meyerton het die diens gelei.
“Die gr. 8’s en personeel het so gehuil by vanoggend se diens. Dezere het elkeen van ons aangeraak met haar sprankelende persoonlikheid,” het Briers gesê en hulde gebring aan Lawrenson as ʼn baie toegewyde, geliefde en georganiseerde onderwyser.
“Sy was gebore om ’n onderwyser te wees. Ek glo sy gee nou skool in die hemel.”
Maroela Media het navraag oor die ongeluk by die polisie gedoen en wag nog vir terugvoer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Sterkte aan John en Doret met die afsterwe van julle dogter, ons dra julle in ons harte op.
Dis vreeslik hartseer en sy was so mooi jong dame en haar oë is opvallend en vriendelik. Sterkte aan die familie en in besonder haar ouers.
Ai hoe verskriklik hartseer…
Wat n pragtige kind. Jammer oor julle verlies. RIV jonge dame
Arme ma en Pa. Geen ouer moet n kind bgrawe nie. Dis hel. Jy kom net nooit daaroor nie. Hoekom was sy so laat op daai pad. Dis vol slaggate