Skool in rou ná ongeluk seun se lewe eis

Die bus wat omgeslaan het. Foto: Verskaf

’n Hoërskoolseun is Dinsdagmiddag dood en 47 medeleerders beseer nadat ʼn skoolbus van Michaelhouse op die N3-snelweg in KwaZulu-Natal omgeslaan het.

Michaelhouse is ʼn hoërskool vir seuns. In ʼn verklaring wat deur die skool uitgereik is, dui hulle aan dat die ongeluk Themba Dloti se lewe geëis het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het tussen Hilton en Pietermaritzburg plaasgevind. Die bestuurder van die skoolbus het beheer oor die voertuig verloor waarna dit omgeslaan het. Die presiese oorsaak van die ongeluk is egter onbekend en word ondersoek.

Maharaj Coaches, die maatskappy wie se bus dit was, het sy diepste medelye met Dloti se familie betoon en gesê die voorval is ʼn vlek op hul onberispelike veiligheidsrekord. “Ons kan die publiek die versekering gee die bestuurder was hoogs ervare en die bus was goed onderhou. Ons sal ons volle samewerking aan die owerhede gee tydens die ondersoek en aanhou om die families van die slagoffers by te staan en enige spesiale versoeke te akkommodeer,” het die verklaring gelui.

“Die bus is op sy sy in die pad aangetref toe paramedici van verskeie nooddienste by die toneel opgedaag het,” het Meiring gesê. “Baie van die kinders het reeds uit die bus geklim en het op die toneel rondgeloop.”

Owerhede het die pad vir verkeer gesluit terwyl paramedici die kinders ondersoek het. “Twee kinders het kritieke beserings opgedoen en 46 ander het geringe tot ernstige beserings opgedoen.”

Die kinders is op die toneel behandel en na verskeie hospitale in die omgewing geneem vir verdere behandeling.

Volgens die verklaring op Michaelhouse se Facebook-blad het die leerders Woensdag ʼn gedenkdiens vir Dloti en die ander kinders wat tydens die voorval beseer is, gehou. “Dit was ʼn baie somber geleentheid met die uitsondering van die skoollied; alhoewel dit baie emosioneel was, het dit amper die kapel se dak gelig,” het die verklaring gelui.

Die seuns kry die geleentheid om oor die ongeluk te praat en vrae te vra en daar sal ook berading beskikbaar wees.

Die skool het verder sy dankbaarheid uitgespreek aan al die partye wat hul ondersteuning en liefde aan die skool betuig het.

Volgens die verklaring is die meeste van die beseerde leerders uit die hospitaal ontslaan. “Daar is wel steeds 13 leerders en een personeellid in die hospitaal.”

Daar sal Vrydag 8 September om 12:00  ʼn gedenkdiens by die Michaelhouse-kapel gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Santie ·

Daar moet veiligheidsgordels aangebring word in busse. As ‘n bus in ‘n ongeluk kom, is die bus so groot, dat mense rondval en uitval.

Bee ·

Dis omrede 99.9% van die busse nie padwaardig is nie… Ekt al van hul gesien wat lyk of al die wiele in sy eie spoor ry.

neels ·

Ek het al in van die busse van Maharaj Coatches gery hulle het veiligheids gordels die drywer bestuur redelik versigtig , maar die ongeluk het teen Townhill gebeur. Dit is n baie steil afdraande en menigte swaarvoertuie het al daar buite beheer geraak. Moontlik was die betrokke drywer nie vertroud met die pad nie en het op die remme gery wat veroorsaak het dat dit oorverhit het en werk dan nie meer nie.

Geen bus vir my ·

Ek het jare terug my rug gebreek in ‘n bus ongeluk. Daar is absoluut niks wat keer dat jy deur die lug trek nie. Daar was 2 busse betrokke, die een waarin ek was, was onskuldig, maar die ander bus wat oor ‘n rooi verkeerslig gery het, was onpadwaardig. Daar het niks met daardie bus maatskappy gebeur nie.

madels ·

Sterkte vir die ouers, dit moet verskriklik wees om die nuus te hoor dat jou kind oorlede. Ek kan my nie dit indink nie :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.