Skool in Wes-Kaap weens Covid-19 gesluit  

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het bevestig dat ʼn skool in dié provinsie sy deure as voorsorgmaatreël teen verdere verspreiding van die nuwe koronavirus gesluit het.

United Herzlia, ʼn onafhanklike groep skole, het self besluit om sy agt kampusse te sluit, het die LUR vir onderwys in die provinsie, Debbie Schäfer, Donderdag gesê.

Een van die ouers verbonde aan die skool het simptome van Covid-19 ná ʼn internasionale reis getoon. Daar is gevolglik besluit om die skool as voorsorgmaatreël tot verdere kennisgewing te sluit.

“Die skool is in verbinding met my en ek sal verdere besluite neem wanneer die uitslae van die toets bekend is,” het Schäfer gesê.

Die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Suid-Afrika staan in dié stadium op 17. Een daarvan is in die Wes-Kaap. Dié persoon word in isolasie gehou.

ʼn Toeris met ʼn gesigmasker tydens ʼn besoek aan Buckingham-paleis in Londen. (Foto: Frank Augstein, AP)

“Daar is geen rede tot paniek nie. Die Wes-Kaapse regering hou die situasie in samewerking met die nasionale regering fyn dop en sal die nodige voorkomingsmaatreëls tref. Die departement sal ook alle skole op die hoogte hou van verwikkelinge wat hulle raak,” het Schäfer gesê.

Volgens haar is daar tans geen rede vir skole om te sluit nie en kan bedrywighede normaalweg voortgaan.

Intussen gaan die interministeriële taakspan na verwagting vroegaand meer besonderhede bekend maak oor waar die 122 Suid-Afrikaners wat uit Wuhan, China, na Suid-Afrika gerepatrieer word, in isolasie gehou gaan word.

Die spesiale huurvlug wat hulle in China gaan haal het, kom Vrydag in Suid-Afrika aan.

Die taakspan sal vanaand ook die Covid-19-toetsuitslae bekend maak van ʼn groep studente uit Limpopo wat onlangs na China gereis het en intussen weer teruggekeer het na die provinsie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.