Skool ‘koop’ nuwe been vir leerder

Wian het Woensdag amptelik sy bene ontvang en is oorstelp van blydskap (Foto: Hoërskool Bekker, Facebook)

Wian Hoffmann (17), ’n sportiewe gr. 9-leerder aan die Hoërskool Bekker in Magaliesburg wat sy linkerbeen in ’n fratsongeluk verloor het, spog nou met ’n splinternuwe prostetiese been. Dít danksy ’n geldinsamelingsprojek wat die skool, onder leiding van die hoofseun, verlede jaar van stapel gestuur het om vir Wian ’n nuwe prostetiese been te laat maak. Hy het uit sy prostese begin groei en dié het vir hom probleme gegee.

Genoeg geld is ingesamel om vir Wian ook ’n prostetiese sportbeen te laat maak. Hy het altyd sy gewone prostetiese loopbeen gebruik wanneer hy sport beoefen het.

Wian se linkerbeen is tien jaar gelede ná ’n fratsongeluk op ’n plaas in Hekpoort geamputeer.

“Ek en my broer het buite op ’n perdesleepwa gespeel. Ons het op die sleepwa se deur gesit en ek het gevoel die deur is swaar. Toe gaan die deur oop. Ek het my broer afgestamp en hy het op die grond geval. Ek het ook geval en die deur het op my been geval,” vertel hy.

“Ek het vir ’n paar sekondes my bewussyn verloor en toe ek daarna wou opstaan, het ek gevoel iets is fout. Ek het tot by die huis op my ander been gespring. Die huishulp het my kamer toe gedra en my been met lappe en handdoeke toegedraai.”

Wian se pa het hom hospitaal toe geneem en sy been is ’n paar dae later geamputeer.

Wian het in 2019 die kriekettoekenning gekry vir beste kolwer van die jaar (Foto: Verskaf)

Neil Buitendag (18), hoofseun van Hoërskool Bekker, vertel hy het verlede jaar gesien hoe Wian sukkel om met sy prostetiese been die skool se trappe te klim. Omdat sy prostese al vodde gedra was, het hy al hoe moeiliker daarmee geloop.

“Iets binne my het gesê ek moet iets doen om hierdie outjie te help. Ek sou wou hê dat iemand my moes help as ek in sy posisie was,” vertel Neil.

“In die begin van die jaar het ek ’n besering opgedoen en dit het gevoel asof my hele wêreld inmekaar stort. Maar toe ek vir Wian sien, het ek besef my besering kan herstel, maar syne is permanent.”

Neil het die idee gekry om ’n fondsprojek te begin om geld in te samel om vir Wian ’n nuwe prostetiese been te laat maak. Hy het egter nie geweet hoe om só ’n projek van stapel te stuur nie.

Hy het toe Menique Kies, die bemarker van die skool, genader en sy het die bal aan die rol gesit. Die #WHATchallenge is Desember verlede jaar in die lewe gebring en wyd en syd op sosiale media bemark.

“Enigiemand kon aan dié uitdaging deelneem. Die uitdaging het behels dat jy ’n video van jouself moes maak van hoe jy ’n glas melk en ’n bietjie suurlemoensap saam in jou mond gooi en dan vir 15 sekondes in jou mond hou. Daarna moet jy iemand anders nomineer om aan die uitdaging deel te neem. Elkeen wat genomineer is, kon ’n skenking doen,” verduidelik Kies.

“Ons mikpunt met die projek was om R150 000 in te samel om ’n been vir Wian te laat maak.”

Kies vertel die projek en die bemarking daarvan op sosiale media het ’n ongelooflike groot groep mense se aandag getrek.

Wian is lief vir sport en neem deel aan rugby, krieket, hokkie, atletiek en swem (Foto: Verskaf)

In die proses het Kies se pad met die niewinsgewende organisasie, Operation Healing Hands (OHH), gekruis. Dié organisasie werf hospitale, dokters, chirurge, narkotiseurs en paramedici om gratis chirurgie en rehabiliterende sorg aan behoeftige pasiënte te bied. Die organisasie sorg ook vir bykomende reëlings en betalings van ekstra mediese uitgawes vir dié pasiënte.

“Die organisasie het self ook geld vir Wian ingesamel. Die prostetikus, Gerhard Swart, wat deel van die organisasie is, het toe twee bene vir Wian gemaak – ’n loopbeen en ’n been waarmee hy sport kan beoefen.”

Wian het Woensdag amptelik sy bene ontvang en is oorstelp van blydskap.

“Hy kan nou vir die eerste keer gemaklik met sy sportbeen hardloop,” sê Kies.

Wian is lief vir sport en neem deel aan rugby, krieket, hokkie, atletiek en swem. Hy het oor die jare al dié sportsoorte met sy prostetiese been beoefen.

“Al het hy nie die regte prostese vir sportbeoefening gehad nie, het dit hom nie gekeer om steeds aan al hierdie sportsoorte deel te neem nie.”

Wian het in 2019 die kriekettoekenning gekry vir beste kolwer van die jaar.

“Ons is bevoorreg om Wian as lid van die Bekkerfamilie te hê en vir hom die nodige ondersteuning tydens sy hoërskoolloopbaan te kan bied. Ons is baie trots op wat hy alles bereik het en dat hy nooit toegelaat het dat enigiets in sy pad staan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Joe Olivier ·

Dis nou ‘n inspirerende artikel oor ‘n hoofseun wat sy sout werd is en omgee vir sy medemens. Ek glo Neil gaan nog groot hoogtes bereik en Wian sal hom altyd onthou vir sy groothartigheid.

Ouma ·

Baie dankie Neil Buitendag. Deur jou menslikheid het hy weer n kans om sy droom te volg en uit te leef. Baie dankie ook aan al die ander wie dit moontlik gemaak het.

Kokkie ·

Dis so goed om van sulke positiwiteit en menslikheid te lees. Mooi so, manne. Julle maak van die wêreld ‘n beter plek.

DIABLO ·

Bakgat! Jy is duidelik n man wat nie gaan lê nie. Dankie aan almal wat gehelp het. Nog n lekker artikel om te lees.

Ilze ·

Fantatsies. My man is ook ‘n amputee en ek weet hoe ongelooflik duur ‘n prostese is.

Elinette ·

Wonderlike nuus om te lees. Dankie, Neil, dat jy genoeg omgegee het vir ‘n ander om ‘n helpende hand te kon uitreik. En Wian, ek hoop jy bereik nog groot hoogtes ten spyte van jou “gestremdheid”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.