Skool kry tjop-tjop slaggatvrye pad

Die herstelwerk aan Deystraat is die afgelope naweek deur lede van die burgerregteorganisasie AfriForum behartig en het sowat R85 000 beloop om te voltooi. (Foto: Verskaf)

Ná talle pleidooie uit die gemeenskap is die vervalle pad wat voor Laerskool Anton van Wouw in Nieuw Muckleneuk verbyloop, uiteindelik slaggatvry – en dit sommer binne net twee dae.

Die herstelwerk aan Deystraat is die afgelope naweek deur lede van die burgerregteorganisasie AfriForum behartig en het sowat R85 000 beloop om te voltooi.

Die organisasie het ingegryp nadat versoeke deur die skool aan die plaaslike owerhede glo al geruime tyd op dowe ore val.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is 15 ton teer op ’n algehele oppervlakte van 154 m² gebruik om die pad sowel as dele van die sypaadjies voor die skool, te herstel.

Die herstelwerk aan Deystraat is die afgelope naweek deur lede van die burgerregteorganisasie AfriForum behartig en het sowat R85 000 beloop om te voltooi. (Foto: Verskaf)

Chris Henning, skoolhoof van Laerskool Anton van Wouw, sê die skool sukkel al lank om die vervalle pad te laat herstel, al het hulle al die “regte kanale gevolg”.

Die pad is egter nou weer veilig vir motoriste – en veral leerders – wat elke dag daarvan gebruik maak.

“Dit is vir ons ’n voorreg om Laerskool Anton van Wouw te kon help in dié verband en sodoende die waarde van selfdoen te beklemtoon,” sê Steinberg.

“AfriForum sal voortgaan om gemeenskappe by te staan en projekte van dié aard van stapel te stuur.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lettie ·

Baie dankie Afriforum en Solidariteit. Saam sal ons aan die regering wys hoé hou oplossings kan geskied.

Wakkerslaper ·

Als goed en wel, maar dan moet daardie R85 000 op ‘n manier van die munisipaliteit verhaal word. Ek is moeg daarvoor dat ons self sal regmaak en opbou en onderhou, maar steeds belasting moet betaal…

Jandup ·

Ons het hier by ons (Trichardt) ook self sowat 400 sakkies teer op ‘n Vrydag middag en Saterdag oggend in ‘n straat gebruik.
Danksy verskillende ondernemings het ons die takie voltooi. Om die res van die straat op tot by die hoofstraat te doen kort ons nog ongeveer 800 sakkies teer om die hele projek af te handel.
My voorstel is dus om maar ‘n bydrae te maak en te help. Dit help ook nie om van jou rusbank kommentaar te lewer en te verwag alles gebeur vanself nie.
Sluit aan by jou plaaslike tak en raak betrokke, hetsy finansieel of fisies. Jy is nooit te oud om te help nie. Tannie Sarie kan toebroodjies maak vir die werkers. Tannie Sannie kan aanmaak koeldrank aanmaak en skenk, Oom Koos en Oom Gert kan help om die verkeer te reguleer weerskante van die werk.
So is daar altyd iets om te doen en te help. Hoe gering ookal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.