Skool maak plan met eindeksamen ná brand

brand vuur vlam

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Alternatiewe eindeksamenreëlings is Vrydag inderhaas vir matrikulante getref nadat ’n brand Donderdagaand by Hoërskool Roosevelt in Johannesburg dié skool se eksamenlokaal in puin gelê het.

Volgens ’n verklaring van die skool, het ’n onderwyser Donderdagaand rook geruik toe hy wou seker maak dat ’n ander gebou op die skoolterrein gesluit is. By nadere ondersoek het hy die skoolsaal in ligte laaie gewaar. Op dié stadium was die voorportaal se dak in vlamme gehul.

Die onderwyser het inderhaas ’n ander onderwyser, verantwoordelik vir veiligheid by die skool, van die brand ingelig en die brandweer is omstreeks 21:00 ontbied.

Die twee het egter voordat brandbestryders opgedaag het, self die vlamme met ’n brandblusser begin blus. Hulle is kort daarna deur brandbestryders bygestaan en die brand is binne 15 minute geblus.

Die brand het egter kort daarna weer opgevlam en versprei na die klankkamer en badkamer teen die saal. Die laaste vlamme is omstreeks 22:00 geblus.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het Vrydag die brand bevestig en verseker dat matriekleerders aan dié skool steeds hul geskeduleerde eindeksamenvraestel Vrydag kon aflê.

Die skool het ’n gebeurlikheidsplan Vrydag in werking gestel om te verseker dat die res van die eindeksamen vlot verloop. Vraestelle is nié tydens die brand vernietig nie, aangesien dit in ’n ander lokaal bewaar word.

Die departement van onderwys het Vrydag sy dank uitgespreek teenoor die betrokke onderwysers en brandbestryders wat binne enkele minute reageer het en die brand geblus het voordat die brand verdere skade aan die skool kon aanrig.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Onnie ·

Klink vir my soos iemand wat nie voorbereid was vir die eksamen nie. Om die saal af the brand was seker die enigste uitweg. en toe is sy/haar planne anyway gefnuik want skryf moes hy/sy skryf al was dit nie in die sal nie!

Onnie by dié skool ·

Dit was ‘n elektriese brand wat veroorsaak is deur oond in die kombuis van die saal. AL ons leerlinge het opgedaag om te skryf en is baie hartseer oor die gedeelte van hul skool se geskiedenis wat vernietig is….

Alida ·

Kyk maar wie daag nie op om te skryf nie. Seker dodelik “siek:.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.