Skool rou ná plaashek seun doodval

Juan was ‘n penkop van die Voortrekkers in die Vrystaat (Foto: Verskaf)

Hoërskool Heilbron is in rou gedompel ná die dood van Juan Janse van Rensburg, ’n gr. 6-leerder aan dié Vrystaatse skool.

Juan (12) is Saterdagaand op slag dood toe ’n plaashek op hul plaas digby Heilbron meteens op hom geval het. Hy het die hek gaan oopmaak, soos hy altyd gedoen het, terwyl sy ouers vir hom in hul voertuig gewag het.

Hoërskool Heilbron, wat só bekend staan hoewel dit ‘n gekombineerde laer- en hoërskool is, het in ‘n verklaring op Facebook sy medelye aan Juan se ouers, Jacques en Nadine, en suster, Jané, betuig.

“Ons is skielik in groot hartseer gedompel toe ’n gewilde en beminde leerder van ons af weggeruk is, en ons gaan nog lank rou oor ons groot verlies.”

Die skool sê dit gaan moeilik wees om hierdie groot trauma te verwerk omdat Juan so ’n groot rol in baie leerders en onderwysers se lewe gespeel het. Die skool was Donderdag gesluit vir Ruan se begrafnis wat 11:00 by die NG kerk Suid-Heilbron plaasvind.

Juan was ook ’n kranige rugbyspeler en het graag vir die skool se rugbyspan op die veld uitgedraf. Hy was baie lief vir jag en was ook ’n lid of “penkop” van die Voortrekkers in die Vrystaat.

Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Voortrekkers in die Vrystaat, het namens die Voortrekkers sy hartseer uitgespreek ná Juan se fratsongeluk.

“Juan het ’n groot hart vir die Voortrekkers gehad. Juan se spanoffisier beskryf hom as ’n opgeruimde kind wat die hart van die span was. Hy was ’n goeie seun met goeie waardes. Weekliks het hy sy hand opgesteek om die Voortrekkersessies met gebed te open – dan het hy gewoonlik uit sy hart uit gebid,” vertel Engelbrecht.

Juan se mede-Voortrekkers en van sy rugbymaats gaan deel vorm van die erewag by sy begrafnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Namgrl ·

So hartseerlik. Ouers, alle sterkte word julle toe gewens. Ons dink aan julle – en hou jul in ons gebede. :(

Smurf ·

Ongelooflik hartseer….sterkte en genade vir al die familie en vriende…

Leon ·

Het daar nie ‘n ruk gelede ook ‘n hek ‘n kind doodgeval nie? Is hekke deesdae so gevaarlik?

Toy ·

Ai dit is verskriklik hartseer, so ‘n pragtige kind. Innige simpatie aan die ouers en familie x

Niklaas ·

Tragiese gebeure en so onnodig. Hoe swaar moes daardie hek dan gewees het? Simpatie met arme ouers wat dit nog moes aanskou het.

Brakenjan ·

‘n gewone motor hek kan maklik meer as 500kg weeg. Plaas gekke hoef nie swaar te wees nie, maar dit tref jou kop of nek.

Melanie ·

Plaashekke is gewoonlik om wild of uit of in te hou dis hoekom dit so stewig gebou moet word.. dis n frats ongeluk… so hartseer.

RS ·

Baie hartseer. Selfde ouderdom as my kind en selfde naam ook. Dis wat n mens hel noem. Mag God vir julle verstroosting bring.

Cornelia ·

Dit is so hartseer, baie sterkte aan die ouers, familie en vriende ons harte gaan uit na julle , ons hou jul in ons gebede.

Danny ·

Hoe tragies.. Gebede saam met sy gesin, familie, naasbestaandes en vriende. Mag God julle toevou in hierdie moeilike tydperk!!

Brakenjan ·

Ek was 10 jr oud toe ‘n motorhek wat ek opgestoot het, reg op my geval het. Dit het my femur op 3 plekke gebreuk en my enkel verbruisel, twee ribbene gekraak en die vel aan my linker kant van my gesig was afgeskuur op die grond. Die motor was dood en my Pa moes die hek oplug wyle my Oom – wie ons help trek het – my uitgesleep het. Dit het my twee jaar gevat om fisiek te herstel, en na 23jr is dit nog steeds net soos gister en soms voel ek nog die skiet pyn deur my been. Nou is ek so versigtig dat my kind naby ‘n hek moet staan óf selfs ‘n hek oop ry… Hou jou kinders weg van motorhekke en veral van karre wat intrek en uit ry uit tuis parkering, maar so ver jy moontlik kan. Hierdie familie het my innige simpatie.

Leonie ·

Baie baie sterkte aan sy ouers en sussie in die hartseer tyd. Rus Sag Juan xx

Mariaan ·

Ek huil sommer saam..hierdie is absoluut tragies! My seun net so oud…ek sal so iets nie oorleef nie…dit breek ouers vir altyd….woorde is daar nie

Melanie ·

Ek huil vir julle almal wat geraak is… Mag Jesus jul nou toevou met kalmte .. dis so so seer.. so jammer.

mOOiOOm ·

“O, die pyn gedagte, my kind is dood.
Dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense die weet daar niks nie van
en die Here alleen die weet wat ek ly.”

Ons innige medelye. On sken die pyn.

isabelle ·

HOENDERVLEIS……ongeluk is so vinnig En so kom almal se tyd en niemand het regtig n idee hoe en waar nie :( ”The good ones go 1st…may angels lead you home,jongman.”

VannieBaai ·

Dis nie lekker om te hoor van kinders wat sterf nie, ongeag van die situasie. Baie sterkte aan die ouers en die geliefdes. Nog ‘n jongeling té vroeg verlore…… RIV jongman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.