Skool rou ná skoolhoof se dood

Dr. Johan Kruger is al sedert 2006 aan stuur van sake as Kruinsig se skoolhoof [Foto: Verskaf]

Laerskool Kruinsig in Kemptonpark, Gauteng, is bedroef ná die dood van hul geliefde skoolhoof, dr. Johan Kruger (54). Kruger is Woensdagoggend aan Covid-19 oorlede.

Thora du Plessis, adjunkhoof van Laerskool Kruinsig, sê Kruger het sowat drie weke gelede Covid-19 opgedoen. Hy is in die Life Springs Parkland-hospitaal opgeneem.

“Dit was aanvanklik ’n gesukkel om ’n bed vir hom in ’n hospitaal te kry. Hy is toe eindelik in ’n gewone saal in die Life Springs Parkland-hospitaal opgeneem, maar is verlede week na die intensiewe sorgeenheid (ICU) oorgeplaas weens inflammasie op sy longe,” vertel Du Plessis.

’n Paar dae voor sy dood het Kruger se toestand verbeter, maar toe beleef hy Maandag ’n terugslag.

“Ons het vanoggend omstreeks 09:00 ’n boodskap ontvang dat Kruger se toestand deur die nag versleg het. Hy was op ’n ventilator en onder sedasie geplaas. Ons is ’n halfuur daarna in kennis gestel dat hy oorlede is.”

Kruger sou op 2 Augustus 55 jaar oud geword het. Hy is al sedert 2006 aan stuur van sake as Kruinsig se skoolhoof.

Du Plessis sê Kruger se skielike heengaan voel onwerklik en hy laat ’n groot leemte onder die Kruinies.

“Hy het soveel kennis en onderwyservaring gehad. Hy was welbekend in die onderwyskringe. Daar is nou baie groot skoene om vol te staan.”

Volgens Du Plessis was hy bekend vir sy oopdeurbeleid – sodat enige ouer, kind of onderwyser met vrymoedigheid enige tyd van die dag by hom ’n draai kon maak.

“Hy het die leerders altyd eerste gestel en was baie geliefd onder hulle. Hy het talle se lewens aangeraak en diep spore getrap met sy passie en liefde vir onderwys, die skool en kinders.”

Du Plessis sê Kruger was ook altyd positief en het die skerpste humorsin gehad.

Die laaste projek wat Kruger voor sy dood aangepak het, was die nuwe gr. R-sentrum wat die skool laat oprig het. Die bouers sou volgende Maandag die gebou amptelik aan die skool oorhandig het.

“Dit was een van sy groot drome wat nou realiteit geword het.”

Leerders, onderwysers en ouers het Woensdagmiddag blomme en briewe teen die skool se heinings ter herinnering aan Kruger geplaas [Foto: Verskaf]

Leerders, onderwysers en ouers het Woensdagmiddag blomme en briewe teen die skool se heinings ter herinnering aan Kruger geplaas. Leerders gaan Woensdagaand voor die skool se hoofhek byeenkom om te bid en sing.

Lydia Swarts, ouer van Lyton Swarts, ʼn gr. 6-leerder aan Laerskool Kruinsig, sê Kruger het baie deernis vir die kinders en ’n groot passie vir onderwys gehad.

“Hy was maklik toeganklik en jy kon met vrymoedigheid met hom oor iets praat,” vertel Swarts.

Lyton sê Kruger was hulle held.

“Die kinders wou net altyd om hom wees,” vertel hy.

Kruger word oorleef deur sy vrou, Mariette, en twee kinders, Ané (22) en Johan (20). Ané en Johan volg hul pa se voetspore en studeer tans om onderwysers te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Nie nodig om propoganda te versprei nie. Dit is nie te sê dat hy wel die entstof ontvang het nie, mens het ‘n keuse of jy dit wel wil ontvang of nie. Die entstof is nie 100% effektief nie, maar verminder wel die kanse dat jy sterf of ernstig siek word van covid. Daar is natuurlik ook uitsonderings soos met enige medikasie.

MakersMark ·

Weet jy hy is ingeënt ? Weet jy dat die inenting werk eers na weke vandat die inenting gedoen is ? Dalk moet jy ophou insinuasies maak wat grens aan fopnuus. Mense word toegesluit daarvoor.

loddertjie ·

Dis ‘n jammerte as ‘n gemeenskap se pilare val, my innige meegevoel met die familie, skool en almal wat hom geken het.

SwartBees ·

Moes die Swarts mense nie isoleer nie? Aagesien hulle positief getoets het.

Tong in die kies ·

Ek wil graag ‘n wolf onder die trop skape ingooi. Iets maak nie vir my sin met die skoolhoof se afsterwe nie. My swaer is 17 Julie oorlede agv Covid. Hy het presies dieselfde symptome as die skoolhoof gehad. Die selfde prosedure is ook met hom geneem. Sy vitals was weer normaal, suurstof was besig om na normaal terug te keer, maar hy word gesedeer en op ‘n ventilator gesit en na die MICU toe oorgeplaas. En binne ‘n uur beleef hy ‘n terugslag en sterf. Hy sou die 3de Aug 57 geword het.
Iets broei, want ek weet van min mense wat oirleef het nadat hulle op die ventilator gesit is.

Kan iemand met meer mediese agtergrond ons meer inlig asb

Rosie ·

Daar is baie antwoorde. Die Woord sê soek en jy sal vind. Jys reg iets broei rerig. Gaan soek jou antwoorde op ander media platforms ook, nie net op TV nie.

Zombie ·

Met ander woorde die “Ware Antwoord” is op “ander media platforms”? Dis ‘n diep antwoord, Rosie.

Kiepie ·

My diepe meegevoel met julle verlies Theresia, dit laat mens altyd met meer vrae as antwoorde.
As ek egter die berig reg lees is Dr Kruger op die ventelator geplaas nadat hy Maandag ‘n terugslag beleef en sy toestand verswak het.

Toy ·

Sjoe dis bitter hartseer en eintlik so jonk. My innige meegevoel vir sy gesin en familie.

S ·

RIV, was hy nie gejab nie? As onderwyser moes hy eintlik gespuit gewees het.

Anoniem ·

Ai Ai Ek kan nie glo dat die Wereld se slim geneeshere nog nie ‘n 100% veilinge inspuit of inent middel gekry het vir die Virus Covid 19 nie. Hier gaan nou baie en baie kundige mense a.g.v. Covid dood!!!

Danie ·

Wat n verskriklike siekte.
En dan stap party van ons nog met oogklappe rond.
Innige simpatie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.