Skool se adjunkhoof doodgeskiet

(Argieffoto: ANA)

ʼn 50-jarige adjunkhoof van die Phomolong Secondary School in Tembisa is Vrydagmiddag doodgeskiet.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die vrou is aangeval toe sy by die skoolhek uitgery het. “Drie gewapende mans het haar skielik oorval en na bewering drie keer deur die passasiervenster op haar geskiet.”

Die vrou het uit die motor probeer klim om verdere skote te probeer ontvlug, maar sy het langs haar motor inmekaargesak. “Een van die mans het haar na bewering twee keer geskiet toe sy op die grond gelê het en daarna van die toneel gevlug sonder om enigiets van haar te steel.”

Die polisie ondersoek die omstandighede rondom dié aanval.

Die departement se beradingspan sal Maandag die skool besoek vir ondersteuning en berading.

“Volgens inligting was sy ʼn hardwerkende en toegewyde onderwyseres wat geliefd was onder die skoolgemeenskap.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het sy innige meegevoel met die familie en skoolgemeenskap betuig. “Die motief is nog onbekend, maar ek is gerus dat die saak na die provinsiale polisie oorgeplaas is. Ons is vol vertroue dat die oortreders aangekeer sal word.”

Lesufi sal die skool Maandagoggend om 09:00 besoek om gerugte op sosiale media oor die voorval te verifieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek het gehoor die rede was glo omdat een van die matrieks gedruip het?

Waarnemer ·

En die polisie is gerus dat die “oortreders” aangekeer sal word!!!!WOW@!!!Wat n wonderlike gerusstelling….hulle soek na “oortreders”…nie MOORDENAARS nie.So ek is ook gerus dat die “oortreders” slegs so n paar jaar,dalk vyf jaar,gevonnis sal word indien hulle ooit aangekeer word.

Wanneer n polisie beampte VERMOOR word,word die MOORDENAARS en nie die “oortreders” gesoek nie.Hoe rym dit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.