Skool se kuberkraker kan tronk toe gaan

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die gevare van kuberkraking het vandeesweek weereens onder die loep gekom nadat Hoërskool Waterkloof in Pretoria ʼn slagoffer van kuberkraking geword het. Die skool is rooi in die gesig gelaat toe ʼn kuberkraker Woensdag beledigende, vulgêre en godslasterlike inhoud op die skool se sosialemediarekeninge, waaronder Facebook en Instagram, geplaas het.

Kenners sê ʼn persoon wat hom aan dié soort gedrag skuldig maak, kan van verskeie misdade, waaronder crimen injuria, aangekla en selfs tronkstraf opgelê word.

Chris Denysschen, skoolhoof van Hoërskool Waterkloof, het in ʼn verklaring gesê die skool het omstreeks 11:00 bewus geraak van die onsmaaklike inhoud op sy sosialemediarekeninge. Van die plasings het Hoërskool Waterkloof se buurskole en medeleerders in kru en afstootlike taal beledig.

Luidens die verklaring is al die partye betrokke by die skool se sosialemediaplatforms dadelik van die probleem in kennis gestel en ʼn ondersoek is van stapel gestuur. “Tydens die ondersoek het dit duidelik na vore gekom dat daar onregmatige toegang tot die skool se sosialemediaplatforms deur ’n onbekende party of partye verkry is,” sê die hoof.

Volgens Denysschen het die skool dadelik ʼn verklaring op al sy kommunikasieplatforms geplaas om die ouers en skoolgemeenskap hieroor in kennis te stel. Leerders en personeel is versoek om met enige inligting rakende die voorval na vore te kom. ʼn Saak is kort daarna by ʼn polisiestasie aanhangig gemaak.

Luidens die verklaring is ʼn volledige ondersoek deur die polisie se kubermisdaadafdeling van stapel gestuur.

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum, het aan Maroela Media gesê die skool het reeds ʼn deursoekingsbevel van die polisie bekom om toegang tot alle Facebook- en Instagramrekords te verkry wat hulle sodoende in die ondersoek kan bystaan.

Volgens Buys was die aanval op Hoërskool Waterkloof goed deurdink. Die skuldige het die administrateurs van die skool se sosialemediarekeninge verwyder wat hulle verhoed het om die ongewenste inhoud te verwyder. “Dit was ʼn duidelik beplande en voorbereide aanval.”

Buys meen die skuldige kan heel waarskynlik met die skool verbind word – dit wil sê ʼn leerder of ʼn oudleerder. Sou die skuldige ʼn leerder aan die skool wees, sal daar afgesien van ʼn strafregtelike klag ook dissiplinêre stappe teen die persoon gedoen word.

‘n Skermgreep van een van die plasings wat die kuberkraker op Hoërskool Waterkloof se sosiale media geplaas het.

Buys sê ʼn persoon wat hom of haar aan kuberkraking skuldig maak, kan tot ʼn jaar tronkstraf opgelê word.

Carla de Beer, ʼn regskenner oor sosiale media by The Digital Law Company, verduidelik dat ʼn strafregtelike saak van crimen injuria teen ʼn kuberkraker aanhangig gemaak kan word sodra die persoon se identiteit aan die polisie bekend is.

Volgens De Beer hang die aanklag natuurlik af van die aard van die inhoud wat geplaas word. Sou die inhoud van ʼn seksuele of rassistiese aard wees, kan die persoon van crimen injuria aangekla word aangesien dit ʼn ernstige skending van iemand se menswaardigheid is. In die geval van kru taal of valse beskuldigings, kan ʼn aanklag van haatspraak en naamskending aanhangig gemaak word.

Aanspreeklikheid

De Beer verduidelik dat dit al meer gebeur dat die administrateurs van groepe op Facebook of WhatsApp verantwoordelik gehou word vir die inhoud wat op dié platforms geplaas word.

“Dink daaraan soos ʼn aantekeningbord wat jy oprig en lede van die publiek nooi om kommentaar oor die gemeenskap op die bord te plaas. Dit is jou werk om in beheer te wees van die platform en al die negatiewe kommentaar daarop te verwyder,” verduidelik sy.

Volgens De Beer is enigiemand met ʼn sosialemediarekening ʼn maklike teiken vir kuberkrakers, nié net skole nie. “Dit hang af hoe jy jou privaatheid beskerm en hoe privaat jy alles hou.”

De Beer raai skole aan om slegs ʼn handjievol mense toegang tot hul sosialemediarekeninge te gee.  “Gaan ook slim met jou wagwoord om en verander dit gereeld. Bedryf ook slegs een bladsy op ʼn sosialemediaplatform en moenie ʼn bladsy vir elke aktiwiteit van die skool skep nie.”

Optrede

De Beer verduidelik dat, sou ʼn skool wel onder kuberkrakers deurloop, die skool dadelik skermskote van die inhoud moet neem om bewyse in te win. Die inhoud moet daarna dadelik verwyder word en  die skool moet ʼn verklaring uitreik. “Die skool moet dit in die verklaring duidelik stel dat hulle bewus is van die probleem en ondersoek instel. Dis ook wys om dadelik die wagwoord te verander,” sê De Beer.

Buys sê skole is soms goedgelowig of weet nie altyd van al die risiko’s wat Facebook en ander sosialemediaplatforms inhou nie. “Elke platform het sy eie sekuriteitverstellings. Dit is goed dat wie ook al die administrateurs van ʼn rekening is, kundig en deeglik bewus is van dié risiko’s,” meen Buys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.