Skool se naamsverandering vir eers gekeer

Hoërskool DF Malan (Foto: Facebook)

Die naamsverandering van die Hoërskool DF Malan in Bellville, Kaapstad, word vir eers agterweë gehou.

Dít volg nadat die drukgroep Trots DF Malan ʼn ooreenkoms met die beheerliggaam van die skool aangegaan het om die naamsveranderingsproses vir eers te staak, sodat ʼn volledige hersieningsaansoek by die hooggeregshof ingedien kan word.

Ouers het tydens ʼn vergadering in Oktober gestem dat die skool voorts DF Akademie moet heet.

Die drukgroep is egter van mening dat die beheerliggaam die afgelope paar maande ʼn oneerlike, ondemokratiese en onbillike proses gevolg het. Die groep moet nou ʼn volledige hersieningsaansoek teen 18 Desember indien.

Maroela Media het vroeër berig dat die drukgroep ʼn hofaansoek teen die Wes-Kaapse onderwysdepartement en beheerliggaam ingedien het om die naamsveranderingsproses stop te sit, nadat die skool aangekondig het dat die naam hangende die departement se goedkeuring eersdaags na DF Akademie sal verander. Die aansoek sou op 18 November voor die hof gedien het.

As deel van die ooreenkoms wat nou tussen die partye gesluit is, sal Trots DF Malan die beheerliggaam se regskoste dra, terwyl die beheerliggaam intussen geen verdere stappe sal doen om die naam te verander nie.

Johan Smit, verbonde aan die drukgroep, sê dít is opgeweeg teen die koste van ʼn dag in die hof met advokate. Die huidige stand van sake is dus heelwat goedkoper, terwyl die groep steeds sy doel kan nastreef.

André Roux, beheerliggaamvoorsitter, sê deel van die ooreenkoms vereis ook dat die applikante hul volle samewerking moet gee sodat daar geen onnodige vertragings sal plaasvind nie.

“Sou die applikante nie ʼn hersieningsaansoek teen 18 Desember 2021 van stapel stuur nie, sal die beheerliggaam voortgaan met stappe om die skool se naam na DF Akademie te verander. Sou die applikante wel teen 18 Desember 2021 die hersieningsaansoek indien, sal dit die verandering van die skool se naam aansienlik, en waarskynlik met minstens ses maande, vertraag. Die beheerliggaam se regspan het wel opdrag gekry om toe te sien dat die aansoek so gou moontlik voor die hof dien,” sê Roux.

Trots DF Malan sê die ouergemeenskap is nooit die geleentheid gegun om teen of vir die naamsverandering te stem nie.

“Uiteindelik is deelnemers verplig om tussen twee voorgestelde nuwe name [DF Akademie en Protea Akademie] te kies. Verder het voorafgaande beloofde gesprekke oor ʼn naamsverandering nooit plaasgevind nie. Tydens gesprekke wat wel plaasgevind het, het net ʼn paar (sowat 15 tot 20) deelnemers aangedui dat hulle ʼn naamsverandering steun.

“Dit is juis hierdie optrede, wat na ons mening neerkom op subtiele maar doelbewuste en volgehoue misleiding van die breër publiek, wat aan die kern is van hierdie groep se opposisie teen die optrede van die beheerliggaam,” sê Smit.

Die drukgroep het ook intussen versoek dat die beheerliggaam ontbind of bedank.

Trots DF Malan meen voorts die verandering van die skool se naam sal uiteindelik aanleiding gee tot ʼn verval van die skool se Christelike etos en diskriminasie teen Afrikaanse, Christelike leerders teweeg bring. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

Dit is vreeslik hoe die Afrikaner moet veg om sy kultuurerfenis te behou

WILLEM ·

Hoekom al die naams verandering in ons land. Hoekom moet ons verlede nou skielik uitgewis word? Het ons Afrikaners dan geen plek meer in RSA nie – ons mense het die land opgebou en geontwikkel.
Wat se bydrae het gekom van die anders denkendes??

Anel ·

Die lot wat nie van die naam hou nie, moet dan nie daar skoolgaan nie. Niemand dwing julle om daar te wees nie. Julle het aansoek gedoen om daar skool te gaan. Bou vir julle ‘n skool wat julle kan vernoem na wie ook al. Hoe oud is die skool al? Baie ouer as 27 jaar! Los ons erfnis uit.

Jaco ·

In 1961 het die SAUK se seintoring in Brixton, Johannesburg, die naam Hertzog Toring gekry; vernoem na daardie jare se minister van pos-en telekommunikasie, dr Albert Hertzog. In 1969 het dr Hertzog stry gekry met die Nasionale Party, die Party verlaat en die verregse Herstigte Nasionale Party gestig. Feitlik onmiddellik daarna is die naam van die Herzog Toring verander na Brixton Toring. So naamsveranderings op grond van hoe die politieke wind waai, kom toe sowaar uit die ou SA…

JohanR ·

Wim de Villiers is seker al klaar aan die dink vir ‘n nuwe naam…..en hy is blykbaar ‘n Afrikaner!

JohanR ·

Wie word een more wakker en besluit die naam van ‘n skool moet verander. Is dit een persoon, 10 persone, 50 persone. Ek bly in ‘n woonstel blok. Ek kan nie een more wakker word en besluit die naam van die woonstel blok moet verander. Party hoerskool skoolhoofde het net te veel mag!

Josua ·

Dit is omdat die kinders snert op skool geleer word dat hulle nie meer die werklike geskiedenis ken nie en ja daar is swart kinder wat baie respek het vir die ou geskiedenis en die werklikheid en belangrikheid daarvan verstaan ongeag wat in SA voor en na 1994 gebeur het, hoeveel witmense het nog al die jare hul vee, diere, plase ens swart name gegee selfs restaurante, kampeer plekke, besighede ens en hier praat ek nog van voor 1994 om nie eens van na die tyd te praat nie, so wie is nou eintlik die probleem geslag hier beslis nie witmense nie. Ja ons mense kla maar waarom plekke se name verander wat n deel vorm van die geskiedenis en ja die ou regering het ook name verander maar nie honderde strate, plek selfs dorp name ens verander nie. Wat sal gebeur as iemand wat n baie bekende skool wat n swart naam gehad het skielik wil verander na n engelse of afrikaanse naam dan was die rasse kaart lank al uitgepluk en was daar n debat in die parlement hieroor.

Frank John ·

Hoekom die naam verander? Die Malan ou het mos die skool begin. Wil jul nou sê hy het nie? As die naam verander is sê mos nie hy het dit nie gedoen nie. Dit sal altyd iewers in die argiewe sê hy het. Of wil die persoon ook nou geskiedenis maak en sy nasate kan spog dat hy dit laat verander het. Soos kinders wat nie hul sin kry nie. Kinder agtig sê ek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.