Skool verloor nog ʼn leerder: ‘Hy was ʼn lewenslustige kind’

Janco du Toit (Foto: Facebook)

ʼn Tienerseun van Middelburg in Mpumalanga is Sondagoggend dood toe hy sy oom gehelp het om klein vissies met ʼn net in ʼn swembad by ʼn huis in dié dorp te vang.

Dié swembad is tydelik in ʼn dam omskep waarin kurpervissies geteel is. Janco du Toit (15) sou later die dag saam met sy pa en oom na hul plaas buite die dorp gaan waar hulle die vissies terug in die plaasdam sou gooi en vir die res van die middag sou kuier en braai. Sy pa, Johan, was reeds op pad plaas toe.

Só verduidelik Johann Hattingh, Janco se ander oom en die familie se woordvoerder, ná die tragedie.

Volgens Hattingh was die swembad so te sê leeg met die laaste water, van sowat ʼn meter diep, wat met twee dompelpompies aan’t uitpomp was terwyl Janco die vissies uitgeskep het. Sy oom André het buite gestaan.

“Dit het gelyk of Janco skielik sy balans verloor en hy het half in die vlak water geval. Hy het opgekom en toe weer ʼn ent verder in die water geval.”

Hattingh vertel dat André met Janco se tweede val in die swembad ingespring het en hom tot by die swembad se trappies gehelp het. Janco het in dié stadium nie asemgehaal nie.

André het om hulp geskree waarna die buurman oor die muur gespring en hand bygesit het om Janco te probeer bybring terwyl sy vrou hulp op die plaaslike veiligheidsgroep ontbied het.

“André het vir Johan gebel en gesê daar is moeilikheid. Hy het teruggedraai en inderhaas huis toe gejaag.”

Johan en sy vrou, Corné, het opgedaag waar hulle saam met Janco se sussie se vriend om die beurt noodhulp op hom toegepas het totdat paramedici opgedaag het. Die tienerseun het egter geen polsslag gehad nie.

Volgens Hattingh dui ʼn voorlopige nadoodse ondersoek daarop dat Janco dood is weens verdrinking.

“Janco was ’n lewenslustige kind. Hy was altyd besig met iets. Hy was ook ’n natuurkind en altyd buite. Hy was ’n baie gewilde kind en het baie maats gehad. Hy was ’n mooi kind,” sê Hattingh.

Muller Steyn (Foto: Facebook)

Die Hoër Tegniese Skool Middelburg waar Janco ʼn gr. 10-leerder was, is ook in rou gedompel.

“Dit is geweldig tragies. Dit is die tweede jong mens wat van ons af weggeneem is. ʼn Mens het nie altyd ʼn antwoord op hierdie dinge nie,” sê die skoolhoof, Hoppie van Jaarsveldt.

Janco se dood volg maar ʼn maand nadat Muller Steyn (17) tydens ʼn vakansie saam met sy gesin in die see in Mosambiek verdwyn het. Sy liggaam is enkele dae later gevind.

Muller sou vanjaar ʼn matriekleerder aan dié skool gewees het.

Volgens Van Jaarsveldt is dit ʼn baie traumatiese tyd vir sy leerders.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ekke ·

Dis baie hartseer. Klink regtig onwerklik. Sterkte aan die familie.

VanAfrika ·

Ag nee, wat gaan aan dat al die kinders net verdrink? My innigste meëgevoel aan al hierdie ouers. Mag onse Liewe Heer julle teen sy bors hou en julle vertroos.

Ronel ·

Hi Maroela Media. Net n regstelling. Janco se oom is Johan Hattingh en nie Neetling soos jul berig het nie.
Dis so hartseer! Dis ons seun , my stiefseun, se neef gewees en hy en Janco was soos boeties. My kind se hart is stukkend oor Janco se afsterwe . Sterkte aan Johan en Corne en die familie.

Megan Swart ·

Dagsê Ronel
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

DS ·

My innige innige meegevoel. Ek weet hoe dit voel om ‘n kind aan dood af te staan. Mag die Here julle styf vashou in die moeilike “verewig” wat voorle. Julle is in my gebede.

Rochelle Carstens ·

My gebed is dat die Here hierdie famielie vertroos in hierdie hartseertyd. Wat n tragedie!! Sterkte

RS ·

MY HART EN GEBEDE GAAN UIT NA OUERS EN FAMILIE. DIS TRAGIES EN BAIE HARTSEER.

Deloris ·

Ons innige simpatie aan die ouers familie vriende en skool. Mag julle vrede in julle Harte kry en krag van ons Here af om julle deur hierdie vreeslike hartseer tyd te dra.
RIV Janco

AP ·

Verstaan dit nie, miskien was daar ‘n mediese toestand of kon hy geskok het in die swembad en sy bewussyn verloor het, baie eienaardig, sterkte aan sy familie, sjoe dit is erg.

CK ·

Ai tog dis tragies. Mens ken nie die kinders nie, maar treur saam met die familie. Sterkte aan die gesin.

Lee ·

Nog n berig wat nie lekker sin maak nie…. Hoe verdrink iemand as jy twee keer staan en kyk hoe hy inval??

Keelvol ·

Wat sommige van die mense se kommentaar aan gaan dat die berig nie sin maak nie…

Wow daar is n tiener seun dood en julle sit en wonder wat nie sin maak nie…
wat wel nie sin maak nie is dat ouers hulle kinders verloor…
dit is tragies en my innige meegevoel met die ouers en die familie en vriende van die kind :-(

n stukkie informasie aan die mense wat dink die berig maak nie sin nie; n mens van watter ouderdom ookal kan verdrink aan net n druppel water en dit in n paar sekondes wanneer daardie druppel water in die lug pyp in gaan.

Princelka ·

Ai dis n swaar tyd van die jaar vir baie van ons mense,sterkte daar aan die famillie en vriende van die 2kinders wat hulle lewe af gestaan het.Weet dat God u trane sal afdroog en hartseer sal stil maak.

Isobel ·

Baie Tragies, mag God almal bystaan en vertroos In hierdie tyd rou? Asb Mense … kom ons Bid saam vir sy geliefdes, Familie en vriende. So iets kan enige iemand tref. Sterkte????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.