Skool was ‘roekeloos, nalatig’, bevind Enock-verslag

Enock Mpianzi (13).

Die forensiese verslag oor die dood van Enock Mpianzi (13) toon dat Parktown Boys’ High School in Johannesburg nalatig en roekeloos opgetree het tydens ʼn skoolkamp wat die lewe van dié leerder geëis het.

Enock, ʼn gr. 8-leerder aan dié skool, het in Januarie tydens ʼn skoolkamp in Noordwes verdrink. Die regsfirma Harris Nupen Molebatsi is ná Enock se dood aangestel om die omstandighede rondom sy dood te ondersoek en hul bevindinge in ʼn verslag saam te stel. Daar word in dié verslag bevind dat sou die skoolhoof, onderwysers en die kampbestuur die situasie anders hanteer het, Enock se dood moontlik voorkom kon word.

Die verslag wys onder meer foute uit met die presensielys, reddingsbaadjies en die beplande wateraktiwiteit waaraan leerders by hul aankoms op die kamp moes deelneem.

Enock se liggaam is twee dae ná die wateraktiwiteit in die Krokodilrivier gevind.

Geen reddingsbaadjies

Die leerders het by hul aankoms op die kamp aan die wateraktiwiteit deelgeneem waartydens hulle vaartuie moes bou en daarmee oor die rivier vaar.

Volgens Anton Knoetze, bestuurder van Nyati Bush waar die kamp gehou is, is die wateraktiwiteit in vlak water en op droë land aangebied. Volgens Knoetze was daar ook verskeie toesighouers wat die seuns tydens die aktiwiteit bygestaan het. Die verslag verwerp egter Knoetze se weergawe.

Dit het aan die lig gekom dat Nyati Bush slegs 12 reddingsbaadjies het. Volgens Knoetze is dié reddingsbaadjies ook nie tydens die wateraktiwiteit gebruik nie.

“Daar word bevind dat Nyati [Bush] aan geen veiligheidsmaatreëls voldoen het nie. Daar was te min toesighouers ontplooi waarvan ten minste een nie kon swem nie. Daar was ook geen reddingsbaadjies aan leerders gegee nie. Dit het alles tot roekelose gedrag aan Nyati se kant bygedra. Die aanspreeklikheid berus in hierdie opsig dus by Nyati,” bevind die verslag.

Die verslag hou ook die onderwysers by die kamp aanspreeklik, aangesien hulle nie die aktiwiteit stopgesit het toe dit duidelik word dat daar geen veiligheidsmaatreëls getref is nie. Hulle het ook nie opgetree toe die rivierstroom te sterk was en van die seuns begin spartel het om uit die water te kom nie.

Paniek in die water

Malcolm Williams, die skoolhoof ten tyde van die voorval, sê hy was bewus daarvan dat die rivier die betrokke dag ʼn stroom gehad het. Hoewel hy nie geweet het hoé sterk die stroom was nie, het hy wel opgemerk dat die leerders nie reddingsbaadjies tydens die wateraktiwiteit gedra het nie. Volgens Williams het hy toe beveel dat die wateraktiwiteit stopgesit word. Talle leerders was in dié stadium egter reeds in die water.

Verskeie leerders is in die ondersoek oor daardie betrokke dag uitgevra. Volgens die leerders was die water te diep om te staan en het die sterk stroom daartoe gelei dat hulle vlotte uitmekaar val en spanne van mekaar geskei word.

Een leerder vertel dat sy kop onder die water gedruk is deur ander leerders wat gespartel het om bo te bly, aangesien sommige leerders nie kon swem nie. Sommige het aan stukke van die vaartuie vasgeklou, terwyl ander mekaar uit die water getrek het. Sommige kon daarin slaag om tot op ʼn eiland te swem waar hulle gestaan het. “Almal was paniekerig,” sê een van die leerders.

Polisieduikers het Enock se liggaam in die rivier gevind. (Foto: Panyaza Lesufi/Twitter)

Geen presensielys

Williams het ná die wateraktiwiteit omstreeks 17:30 die eerste presensie geneem. Dit nadat toesighouers aangedui het dat al die seuns veilig uit die water is. Die leerders moes in spanformaat sit en niemand het aangedui dat ʼn leerder vermis word nie.

Luidens die verslag het een van die busse wat leerders die betrokke dag na die kamp vervoer het, met die enigste presensielys teruggery Johannesburg toe. Die skool moes noodgedwonge ʼn nuwe presensielys van die skool aanvra. Dié lys het egter die name van al die gr. 8-leerders by die skool ingesluit en nié slegs diegene wat die kamp bygewoon het nie.

Die eerste presensie is toe met die nuwe lys geneem en uiteraard was daar 11 name tydens dié presensie uitstaande. Enock Mpianzi was een van dié name.

Volgens Malcolm het hy aangeneem dat dié leerders nie op die kamp was nie.

Alex Meintjes, gr.-8-hoof, het gesê dat daar die spesifieke middag ook ʼn probleem met die halaal-kos was wat by die kamp afgelewer is, en hy eers die volgende dag kon aandag gee aan die presensielys. Daar is dus eers op 16 Januarie vasgestel watter van die 11 uitstaande name op die lys wel op die kamp moes wees.

Enock se ouers is dié oggend gekontak en hulle het aangedui dat hul seun by die kamp afgelaai is. Daar is toe omstreeks 14:00 weer presensie geneem en dié presensie het bevestig dat Enock vermis word. ʼn Inspeksie is gedoen en Enock se sak is op die kampterrein gevind.

Meintjes hou egter vol dat dit voor daardie middag se presensie nooit onder sy aandag gebring is dat ʼn leerder vermis word nie.

“Sou die korrekte presensielys gebruik word, sou personeel geweet het Enock word vermis en ʼn soektog sou van stapel gestuur word,” bevind die verslag.

Luidens die verslag was Meintjes en Williams in dié opsig roekeloos en nalatig.

Malcolm Williams. Foto: Facebook

Geen toestemming

Om sake te vererger bevind die verslag dat Williams nie die nodige toestemming van die Gautengse departement van onderwys verkry het om leerders op die kamp te neem nie. Daar was ʼn probleem met die skool se aansoek.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het Williams vroeër vanjaar geskors. Die verslag beveel aan dat dissiplinêre stappe teen Williams en die ses onderwysers wat op die kamp was, gedoen word.

Luidens die verslag het vier leerders al voorheen by Nyati Bush verdrink. Die voorvalle het in 1999, 2002, 2009 en 2010 plaasgevind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chantel ·

Ek is baie bly hierdie verslag het albei as aanspreeklik gehou. Hoop nie dit word hier gelaat nie.

lollapot ·

Hierdie kon MY of jou seuntjie gewees het. . .
Waarom neem almal aan dat ALLE kinders kan swem? Was dit nie eerste prioriteit om uit te vind, VOOR die kinders in ‘n rivier ingestuur is nie? Reeds 4 verdrinkings en Nyati Bush kon NOG nie 2 en 2 bymekaar tel en besef , ONS KORT VEILIGHEIDS BAADJIES nie? Verbied asseblief skole om kampe daar te gaan hou! Hierdie pragtige seun kon dalk nog gelwe het as daar beter beplanning en meer omgee was . . .

Chantel ·

Dis wat vir my ook bitter hartseer is. Hierdie is ook nie die eerste keer dat dit by die kamp gebeur nie, volgens ander berigte. Dit bring die kind nie terug nie, maar dit gaan hierdie mense laat wakker skrik. Ek hoop werklik tronkstraf word opgedien.

summie ·

Dis ‘n onnodige tragedie wat plaasgevind het, en dit agv nalatigheid. Wonder by hoeveel ander skoolkampe gaan dit so.

popsa ·

As daar reeds voorheen vier kinders by hierdie oord verdrink het, waarom is ALLE aktiwiteite vir ALLE leerlinge by daardie oord nie tóé reeds summier deur die Departement van Onderwys gestop nie? Is daar ‘n omsendbrief aan ALLE skole gestuur om ELKE hoof in kennis te stel dat GEEN skool onder enige omstandighede meer daardie oord mag besoek nie vanweë bg redes? Die Departement van Onderwys is nie onskuldig in hierdie saak nie. Die skool en personeel is een kant van die saak; die Departement die tweede sy en die kinders is ‘n derde sy van die saak. (Die vierde sy van die saak is dié van die oord.) Wees realisties. Uitgelate, opgewonde seuns wat wil swem, storm normaalweg die water in sonder om te dink…voordat onderwysers kan toesig hou, presensie neem of probeer keer… ‘n Regverdige ondersoek sal oor al vier kante van hierdie saak deeglik moet besin. Die skuld lê beslis nie net by die hoof of onderwysers nie.

Hennie ·

Totale chaos op hierdie kamp. Weet nie wat die doel van hierdie aktiwiteite, behalwe om as ontgroening te dien, is nie.

Sandra ·

Wanneer mens met kinders op ‘n skoolkamp gaan, spesifiek een waar water betrokke is, moet jy anaal wees oor hulle veiligheid, en hulle konstant dophou. As die “toesighouers” wat ek glo leerlinge was, toesig gehou het, sou hulle sien dat een kind of onder die water verdwyn, of vermis is. Ek dink die mense moet strafregterlik verantwoording doen. Die kamp, wat ek meen het in al die ander verdrinkings, nie hulle les geleer wat reddingsbaadjies aanbetref nie, moet summier gesluit word. Hulle is ‘n micky mouse kamp wat geld uit skole vat en nie omgee oor wat verder gebeur nie.

Lolla ·

Moet geen aktiwiteite meer aanbied nie. Geen kampe ouers kan self hulle kinders na sulke kampe stuur en self toesig hou.

Onnie ·

Skokkend nalatig en ongeorganiseerd. Laat ons almal uit hul foute leer, want môre is dit my of jou kind, my of jou skool. Ons moet meer oplettend en paraat wees, want n ongeluk gebeur so gou. Ek weet niemand het bedoel dat Enoch moet sterf nie, maar om n skoolkamp te reël by n onveilige oord, en sonder die nodige goedkeuring van die departement en sonder ordentlike presensielyste?? Dis baie nalatig. Jy speel met kinders se lewens. Kinders met ouers, vir wie hulle onmisbaar is. Dis baie hartseer. Hoop en bid so iets gebeur nooit met my nie. Ek sal van nou af ekstra versigtig wees.

Johan Venter ·

Baie tragies, maar ek het tot op hierdie stadium in die land gekom dat ek eers sal glo na ek self al die bewyse, regulasies, tersaaklike dokumente en verklarings onder oë gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.