Skool weier Engelse leerders: Saak wel dringend, sê hof

Kumbirai Toma, regsverteenwoordiger van die Gautengse departement van onderwys, praat met Steve Mabona (blou pak), woordvoerder van die departement, en ander beamptes. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Donderdag beslis die saak tussen die Gautengse departement van onderwys en Hoërskool Overvaal oor die toelating van Engelssprekende leerders by die skool vir die akademiese jaar 2018 is dringend.

Dié beslissing is gemaak nadat Kumbirai Toma vir die departement aangevoer het die saak moenie op dringende grondslag aangehoor word nie, maar met koste van die rol geskrap word omdat nie-Afrikaanssprekende leerders nie ʼn bedreiging vir die skool inhou nie.

Hoërskool Overvaal, ʼn Afrikaanse skool, het die hof genader nadat die departement opdrag gegee het dat 55 bykomende Engelssprekende leerders in 2018 by die skool toegelaat moet word. Die leerders is toegang geweier en die skool voer aan hy is vol en het nie die nodige hulpbronne om vir Engelse leerders voorsiening te maak nie.

Toma het aangevoer die leerders, wat nog wag om in ʼn skool geplaas te word, moet toegelaat word om by Hoërskool Overvaal skool te gaan. Sy het gesê die departement is bereid om die skool te ondersteun met onderwysers vir die Engelssprekende leerders.

Regter William Prinsloo het Toma gevra wat gaan van die leerders word as die skool oor drie maande die hofsaak wen.

“Dit sal ʼn baie moeilike posisie wees. Dit is net so moeilik nou, want die leerders word toegang tot onderrig geweier,” het Toma geantwoord.

Adv. Albert Lamey, vir die skool, het gesê die saak is dringend en dit sal in die beste belang van die kinders wees as die saak afgehandel word voordat skole heropen. “Indien hierdie hof bevind dit was teen die wet om hierdie leerders in hierdie skool te plaas in stryd met die skool se taalbeleid, sal dit ʼn belangrike hofuitspraak wees,” het hy gesê.

Regter Prinsloo het opgemerk die departement het ʼn brief, wat die skool in kennis stel van die 55 leerders, aan die skool gestuur nadat die toelatingstydperk reeds geëindig het. Hy het ook opgemerk dat daar verskeie kere was wat die departement nie gereageer het op briewe van die skool nie.

Hy het gesê hierdie dokumente is belangrik. Prinsloo het genoem dat die skool in van die briewe aangedui het dat hulle ʼn regsgeding wil vermy, maar die departement het nooit reageer nie. Die regter het gesê hy is tevrede dat die skool behoorlik opgetree het toe dit die aansoek by die hof ingedien het.

“Gevolglik word die argument dat die saak nie dringend is nie van die hand gewys,” het hy gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

toy ·

Daar is mos genoeg engelse skole vir die leerlinge hoekom so “demanding” wees!!!!!

Cherokee ·

toy is Engels en demanding is veeleisend. Julle wil Afrikaanse skole hê maar sukkel om dit te praat.

Ag Kom Nou ·

Cherokee, jou naam klink nou ook nie juis te danig Afrikaans nie. Die naam Toy bestaan wel, maar sover ons weet, is niemand se naam Speelding nie. Verder het Toy het die woord “demanding” in aanhalingstekens geplaas, wat dit onder omstandighede ‘n gepaste tong-in-die-kies-opmerking maak.

Cherokee ·

Ag Kom Nou, as terugvoering op wat jy sê, wil ek ‘n paar punte uitstippel. Eerstens is daar hoegenaamd nie ‘n manier waarop jy ‘toy’ kan verafrikaans nie. En dit was wel in aanhalings geplaas maar nooit sien ek Engelssprekendes in sinsnedes Afrikaanse woorde in aanhalings plaas om klem te lê nie. Dit word immers gedoen omdat die alternatief nie geken word nie. Daar is so raak ‘n stelling wat vertel ‘hoe regser die spreker, hoe swakker die Afrikaans’. En wat my naam aanbetref (waarna jy ook verwys), as watter taal sou jy dit beskou? Dit verwys immers na my toy want wanneer ek Cherokee sê praat ek nie van Noord Amerika se eerste inwoners nie en ek praat ook nie Toyota nie. Ek praat Piper.
Terloops, dit gebeur somtyds dat my kennisse en my vriende verbaas is om te hoor dat ek Afrikaans kan praat. Ek is meer Engelssprekend as Afrikaanssprekend en Maroela se forums dien as ‘n platform waar ek my Afrikaans in stand kan hou, want ek woon op ‘n plek waar Afrikaans onbekend is.

Yolandi ·

Hulle weier nie engelse leerlinge nie hulle weier te veel leerlinge! Hoekom alles verdraai moet word om sensasie te kry weet nugter alleen

Yolandi ·

Ek was my hele Hoërskool loopbaan daar. Nooit was daar enige sprake van diskriminasie nie daar was talle leerders wat ander tale as engels gepraat het. Alamal was dieselfde behandel en het dieselfde hulp ontvang. ‘N ekstra 50 leerlinge is baie om eweskielik te akkomodeer en daar is ‘n engelsr skool naby aan Overvaal as ook nog ‘n afrikaanse Hoërskool wat die ekstra leerlinge kan akkomodeer. Hierdie gaan oor iets anders ek ruik ‘n stink rot

Cherokee ·

Yolandi, terwyl ek hou van wat jy sê en die manier waarop jy dit sê, verskil ek met jou. Hulle weier nie (net) te veel leerlinge nie maar weier wel Engelse leerlinge (hoop ek) en met ‘n goeie rede. Indien Engelse leerline in ‘n Afrikaanse skool geakkomodeer word, moet ‘n hele nuwe anderstalige leerplan geimplimenteer word en dit gaan geld kos. Geld wat uit die sakke van ouers geput word (in ‘n free for all tyd..!). Geld in die vorm van digitale programmering, klaskamers en personeel. Onderwysers word wel aangebied maar ons ken hulle goed genoeg om te weet die onderwysers kan verplaas word terwyl die leerlinge bly waar hulle is, met die sak patats is die skoot van die skool. Jy en ek weet die motivering is haat teen Afrikaans terwyl die ingelse begin het met apartheid en niè die boere nie. Ek hoop jy gaan my nie uitvra or laasgenoemde stelling nie want dit behoort algemene kennis te wees.

JoeV ·

Die plasing van Engels sprekendes is net ‘n gekoggel om reaksie uit te lok. Dit kan later as propaganda gebruik word. Sal ook goed lyk in die liberale media as die saak dalk verloor word.

Yolandi ·

Ek het vergeet om te noem dat dat die ander talliges wel opvoeding in afrikaans ontvang het en nie in Engels nie. Soos jy terregtelik se dit sal onnodige probleme veroorsaak as so ‘n klein skool moet voorsiening maak vir ‘n 2de medium onderrig as dit ‘n enkel medium skool is. Wat ek nie verstaan nie is dat daar engels medium skole in die nabye omgewing reeds is wat plek het vir die leerders?

Tazi ·

Ek sou dink die rede vir die aansoek was dat dit nader aan die kinders se huise is? Ongeag mens se taal, is dit belangrik dat mens jouself moet afvra hoe jy as ouer sou optree as dit JOU kind was wat nie toegelaat was nie. Mens moet ook verhoed dat hierdie in ‘n rasse oorlog ontaard, veral ter wille van Afrikaanse kinders en ouers wat hulle distansieer van hierdie tipe dinge.

Andrea ·

Hoe gaan die kinders akademies oorleef in n Afrikaans-medium skool? Dít behoort die ouers se kommer te wees, nie afstand, ens nie.

Cherokee ·

Afrikaanse ouers wat hulle distansieer van hierdie dinge is buitendien te liberaal om vir enige behoud van kultuur te veg. Geskiedenisboeke praat van hensoppers.

Andre Els ·

Elke jaar is dit dieselfde eentonige storie. ANC regering en ampetanare is totaal onbevoeg om iets reg te doen …dan val hulle Afrikaanse skole aan en skree “eks benadeel en Afrikaans is die oorsaak. Laat my met n maagaandoening..

Mossie ·

Ek stem 110% saam met wat jy sê, Andrè. Dis een van die weinige woorde wat ‘hulle’ ken – en dit is apartheid, Afrikaners, rassisme en boere.

Basjan ·

Hi Tammy, ek stem 100% saam met jou. Die departement wil hul probleem iemand anders s’n maak. As hulle nie in hul doel slang nie, kan ek jou waarborg dat die “raskaart” uitgepluk gaan word.

Ertjiepit ·

In Vereeniging het hulle die afrikaanse tegniese skool geannekseer wat gelei het tot ‘n samesmelting van Hoerskool Vereeniging en HTS nou bekend as Gimnasuim. Hierdie superskool waar die afrikaanse leerders soos erjiepitte ingedruk is gaan binnekort dubbel meduim word. Die tegniese skool wat nou ‘n engelse hoerskool genaamd Phoenix is, is nie tot kapasiteit vol nie, dit wil blyk asof die skool semi privaat is en daar van die ouers verwag word om skoolgelde te betaal. Die engelse hoerskole in die omgewing is tot oorlopens toe vol….behalwe Phoenix( model C skool gewees) , wat groot sportvelde en baie klaskamers het. Overvaal is ‘n klein skooltjie. Ons moet die mense steun ten minste baklei hulle vir ons kinders se regte, die reg om in hulle moedertaal onderrig te ontvang

Tannie Stienie ·

Ai nee rerig Dept van onderwys! Julle het klaar HTS Vereeniging se ou skoolgronde oorgevat, Phoenix High is nou daar. Stuur die kinders soontoe? Wat meer wil julle hê?

PJC ·

Die regter se kommentaar tot dusver lyk baie belowend. Ek hoop van harte die skool wen hierdie rondte. Die manier waarop hierdie lot nou prbeer om Afrikaans op alle vlakke dood te druk is nou al verby irriterend.

Oom Piet ·

Is dit nie opmerklik dat kinders altyd gebruik word deur sekere mense ,as hulle ‘n ander doel wil bereik wat nie verband hou met waarvoor die kinders nou gebruik word nie.

FM ·

Laat ons nou maar eerlik wees: dis teen AFRIKAANSSPREKENDES en BLANKES gemik. Dit gaan oor niks anders nie. Dept het n verskuilde agenda. Hulle sal nooit met die waarheid vorendag kom nie. Hulle wil AFRIKAANSE skole na hul minderwaardige onderpresterende skole laat daal. Staan vas manne!!!

Mossie ·

FM – jy ‘slaat’ die spyker so oppi kop! Hulle kan doen wat hulle wil, Afrikaans sal NOOIT uitsterf nie – nie in hierdie leeftyd nie. Viva Afrikaans! Viva!

Cornelia ·

Die ANC is sy enigste beste bewys dat hy verleë bly en bakhande staan met die afdwing van onbegryplike dwars boming van regverdige en prakties uitvoerbare beleid. Dit is tyd dat die Bewind, hand in eie boesem steek. Sy erns met Onderwys word afgewentel op die Afrikaner se eeue oue infrastrukture, versiende insig en daadkrag wat nie geprut het totdat die pap aanbrand en die pot omval nie! Die Land kan nie ‘n “blinde een oog koning langer bekostig nie. Bevry die Onderrig van kinders, van sleepvoet anargiste en duimsuiers. IT IS TIME.

indigogirl ·

Word daar voorsiening gemaak vir Afrikaanse kinders in Enbelse skole?

Yolandi ·

Ek het vergeet om te noem dat dat die ander talliges wel opvoeding in afrikaans ontvang het en nie in Engels nie. Soos jy terregtelik se dit sal onnodige probleme veroorsaak as so ‘n klein skool moet voorsiening maak vir ‘n 2de medium onderrig as dit ‘n enkel medium skool is. Wat ek nie verstaan nie is dat daar engels medium skole in die nabye omgewing reeds is wat plek het vir die leerders?

Mev. S, Jordaan ·

Die sg. ander skool is net nog 10km verder en dit huisves die Engelse leerders. H/s Overvaal is heeltemal uit die hoofroete na di Eng. hoërskool geleë. Daar is ook genoeg Engelse skole in al die omringende suburbs vir al die Engelse kinders! Die skoolgebou en klaskamers laat net ‘n sekere getal leerders toe en indien die skool sê hul het nie ekstra plek nie dan is dit die waarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.