Skool wil R1 miljoen insamel vir behoeftige leerders

(Foto: Hoërskool Centurion/Facebook)

Hoërskool Centurion wil R1 miljoen insamel sodat leerders wie se huishoudings gebuk gaan onder die verwoestende gevolge van die Covid-19-pandemie steeds wêreldgehalte-onderrig sal ontvang.

Dié geldinsamelingsprojek is vandeesweek van stapel gestuur nadat ʼn donateur vanuit die gemeenskap beloof het om R1 miljoen aan die skool te skenk indien hy dieselfde bedrag binne die volgende jaar kan oplewer.

Volgens die skool, wat Vrydag meer as 60 jaar gelede sy deure vir die Afrikaanse gemeenskap van Centurion oopgemaak het, kan meer as ʼn kwart (27%) van sy leerdertal se ouers nie die skoolfonds bekostig nie.

“Ons het ook amper 30 leerders wat in pleegsorg geplaas is van wie skoolfonds nie verhaal kan word nie. Ons moet die skool op 100%-bekwaamheidsvlak bestuur met 70% van die inkomste en die staat staan slegs vir 3% van hierdie tekort in, wat nouliks ʼn verskil maak,” het Johan Koekemoer, hoof van die skool, gesê.

Dié skool, wat eens op ʼn tyd Hoërskool Verwoerdburg geheet het, het al verskeie uitdagings trotseer en is onder meer al twee keer onderwerp aan ʼn ongevraagde naamsverandering. ʼn Voedingskema word ook by die skool bestuur wat talle honger mae in die klaskamer stil.

“Vir baie leerders bied ons die enigste veilige vesting wat hulle ken, die enigste plek waar hulle raakgesien en gekoester word,” het Koekemoer gesê.

“Nietemin het Hoërskool Centurion besluit dat ons nie so maklik gaan lê nie. Terwyl die staat se strukture verval, sal ʼn gemeenskap wat saamstaan nie verval nie.”

Die skool is verlede jaar aangewys as die beste akademiese hoërskool in Centurion en het ʼn 100%-slaagsyfer onder sy gr. 12-leerders opgelewer. Al 165 van dié matrikulante het ook toelating tot tersiêre instansies verkry.

Die skool se alumni-stigting het ʼn hulpfonds gestig en vir Artikel 18A geregistreer sodat sakeondernemings ʼn belastingvoordeel kan geniet wanneer daar skenkings gegee word.

Volgens Koekemoer kan lede van die publiek selfs so ver gaan om ʼn maandelikse skenking aan die skool te maak of ʼn kind se skoolfonds gedeeltelik of ten volle te subsidieer.

“Ons nooi elkeen uit om saam met ons, deur middel van ons gemeenskapsfonds, aan die toekoms te bou. Die volgende generasie is ons verantwoordelikheid, so ons hoop lê in húlle.”

  • Klik hier om ʼn skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.