Skoolaansoeke vir Gauteng binnekort oop, maar…

Panyaza Lesufi. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn skoolaansoeke vir die 2022-akademiese jaar open oor tien dae, maar slegs vir ’n beperkte groep leerders.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Sondag aangekondig dat die aanlyn registrasieproses vanjaar in twee fases sal geskied nadat die sogenaamde ou manier van doen “baie probleme” gegee het.

Slegs gr. 7 leerders wat tans in ’n openbare skool in Gauteng is en wie se besonderhede reeds op die departement se aanlyn stelsel is, sal dus van Dinsdag 10 Augustus om 08:00 aanlyn aansoek kan doen vir die hoërskool van sy of haar keuse.

Aansoeke vir dié leerders sluit op 3 September om middernag.

Aansoeke vir alle gr. 1- sowel as gr. 8-leerders wat nie tans in ’n openbare Gautengse skool is nie, sal op 13 September om 08:00 open en op 8 Oktober om middernag sluit.

Die plasing van fase 1-leerders sal tussen 15 Oktober en 30 November plaasvind terwyl fase 2-leerders tussen 15 November en 30 November in skole geplaas sal word.

Lesufi meen die verandering sal die proses makliker en hanteerbaarder vir ouers, voogde en openbare skole in Gauteng maak.

Dit sal volgens die LUR ook die stortvloed aansoeke wat in die verlede ontvang is voorkom.

“Ons glo dat dié nuwe manier die oorgang gaan vergemaklik,” het Lesufi tydens ’n mediakonferensie gesê. Die LUR het daarop gewys dat die betrokke leerders wat tydens die eerste fase aansoek kan doen se besonderhede al jare lank op die stelsel is.

“Ons kan hulle nie net versaak en sê hulle moet maar sien waarheen hulle moet gaan nie. Ons moet daardie oorgang bestuur.”

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Lesufi het bygevoeg dat almal terselfdertyd die reg het om aansoek te doen by ’n openbare skool in Gauteng. Leerders van private skole en skole in ander provinsies word dus in die tweede fase geakkommodeer.

Onderwyskenners is egter nie daarvan oortuig dat die fases die beste manier van doen is nie en bevraagteken waarom vanjaar se skoolplasingsproses so laat afskop.

Riaan van der Bergh, onderwystegnologiebestuurder by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), is bekommerd dat gr. 7-leerders wat eers in die tweede fase aansoek sal kan doen, in die proses benadeel word.

“Dit is moontlik dat die gr.7-leerders van openbare skole voorkeur kan geniet bo dié van private skole.”

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê Gauteng begin vanjaar weer eens te laat met sy skoolplasingsproses, inaggenome dat die Wes-Kaapse departement van onderwys reeds in Februarie met sy aansoekproses begin het.

Die SOS voorspel dat daar oudergewoonte in Januarie geskarrel gaan word om alle leerders betyds in ’n skool geplaas te kry.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, wys onder meer daarop dat skole baie minder tyd gegun word vir beplanning. “Veral laerskole doen vreeslik baie moeite om die nuwe leerders tuis te laat voel.” Dit sluit in die beplanning van interne opedae sodat leerders hul onderwysers kan ontmoet.

Van der Bergh sê Fedsas is veral baie bekommerd oor die laat plasing van gr.1’s aangesien dié leerders die meerderheid van aansoeke uitmaak.

Hy meen dit plaas onnodige druk en spanning op ouers en veroorsaak onsekerheid.

Op die vraag waarom Gauteng soveel later as die Wes-Kaap met sy skoolplasingsproses afskop, antwoord Buys: “In die Wes-Kaap fokus hulle op die beste belang van kind. In Gauteng is dit ʼn  ideologiese oefening om beheer te sentraliseer en skole word in die proses benadeel.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, het ook by navraag gesê die departement se aandrang om die skoolplasingsproses te sentraliseer wek kommer. “Die stelsel moet só opgestel word dat ’n skool beheer het oor die stelsel. Sentralisering werk nie. Die departement moet skole vertrou.”

Volgens Klopper gaan dit wel nie net die departement se skuld wees as daar talle leerders is wat in Januarie nog in ’n skool geplaas is nie, maar ook ouers wat op die laaste nipper aansoek doen.

“Daar is altyd ouers wat op nommer 99 aansoek doen. Dit maak dus nie saak of jy die aansoeke nou in Januarie, Mei of Augustus open nie.”

Lesufi het tydens vanoggend se mediakonferensie gesê vanjaar se skoolplasingsproses is nie onnodig vertraag nie. Volgens hom wou die departement eers sekerheid kry oor die huidige Covid-19-situasie sowel as die verkiesingsdatum aangesien die provinsie se skole as stempunte ingespan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jo-Anne

Duidelike diskriminasie teen privaat en ander skole sodat openbare skole heel beste plek kry in skole.

JohanR

Is maar goed die ou bly nie in die Wes-Kaap en in bevel van onderwys. Daar is nog soe baie Afrikaanse skole in die Wes-Kaap, die ou se hart sou sommer ingee van skrik!

Leonard

Wat van ANDER PROVINSIES?
Wat GEBEUR dáár?

Janine

Dis baie onregverdig. Bly hulle onder ‘n klip? Weet hul nie hoe pvt skole werk nie???? Jy moet 3 maande kennis gee as jy jou kind uit ‘n pvt skool wil haal. Ons kyk na R26000 vir die 3 maande wat ons dan moet betaal omdat hul fase 2 eers plaas tussen 15Nov – 30 Nov. Dis ‘n gemors

Martie Smartie

O wee hier kom die jaarlikse gemors weer, Lesuffie is aan die gang. Teen Jan is hy weer doodstil …