Skoolaansoeke vir Gauteng dié week oop

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn skoolaansoeke maak na verwagting eerskomende Donderdag oop. Ouers sal dan vir ’n maand lank hier kan aansoek doen om ’n plek vir gr. 1‑ en gr. 8-leerders vir volgende jaar.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het aan Maroela Media gesê die departement sal Dinsdag meer besonderhede hieroor bekendmaak. Die aanlyn aansoekproses sorg jaarliks vir grootskaalse verwarring en ontevredenheid onder skole en ouers.

Verlede jaar het die aansoekproses reeds in Mei begin. Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê sy nie juis bekommerd daaroor dat Gauteng soveel later as die Wes-Kaap hul aansoeke oopmaak nie.

Volgens Buys behoort daar genoeg tyd te wees vir alle leerders in Gauteng om aansoek te doen en geplaas te word aangesien die proses aanlyn plaasvind. “Dit natuurlik mits die departement skole toelaat om die plasings self te bestuur en nie inmeng en dit wil sentraliseer nie,” het Buys bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig skole in Gauteng het verlede jaar teen einde Oktober gespook om hul gr. 1- en gr. 8-toelatings vir die komende skooljaar uit te sorteer nadat die departement se gesentraliseerde aanlyn toelatingstelsel die provinsie se 2020-toelatings in chaos gedompel het.

Daar was onder andere verskeie probleme met die stelsel wat telkens nuwe probleme uitgegooi het.

Wes-Kaapse skole

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys doen ’n beroep op ouers om so gou as moontlik hul kind se plek in ’n skool in dié provinsie te aanvaar.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het Sondag in ’n verklaring gesê dié provinsie het reeds sowat ’n maand gelede die hersiene datums vir die toelatingsproses vir 2021 in dié provinsie aangekondig. Die departement het in die afgelope maand 382 169 aansoeke ontvang.

“Ons is nou in die eerste fase van skole wat aanbiedinge maak en ouers kan verwag om die uitslag van hul aansoeke teen 22 Junie te ontvang. Dit is uiters belangrik dat ouers hul aanbiedinge van plekke teen 3 Julie aanvaar. Hoe gouer hulle dit doen, hoe gouer kan skole bepaal hoeveel plek hulle oor het,” het Schäfer verduidelik.

Volgens die LUR kan ouers hul kind se plek by die skool van hul keuse aanlyn op die departement se webtuiste aanvaar of ’n bevestigingsbrief by die betrokke skool indien. Indien ’n kind by meer as een skool aanvaar is, moet ouers aanvaarding by slegs een van die skole bevestig.

“Dit is ongelukkig die werklikheid dat ons nie genoeg plek het vir al die leerders wat aansoek doen nie,” het sy bygevoeg.

Volgens Schäfer is dit dus baie belangrik om slegs een skool se aanbod te aanvaar. “As daar verskillende plekke vir ’n enkele leerder gehou word, maak dit dit baie moeiliker vir ander leerders om plek in ’n skool te kry. Indien ouers nie hul keuse teen 3 Julie maak nie, sal die departement die leerders aan hul hoogste keuse toewys en hulle verwyder van die lyste van ander skole waarop hulle aansoek gedoen het, ” het Schäfer afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oe la la ·

Ag asb… laas jaar was so groot gemors ons het eers November uitgevind of ons kinders plek gekry het… ek wil nie eers sien wat die jaar gaan gebeur nie…

Alida ·

Chaos soos altyd. Het die skole nou al lopende water en spoeltoilette?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.