Skoolaansoeke vir Gauteng eers in Julie oop

Panyaza Lesufi (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Gautengse departement van onderwys se aanlyn skoolaansoeke vir die 2023-akademiese jaar open op 22 Julie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Maandag aangekondig dat die aanlyn registrasieproses vanjaar in een fase sal geskied, anders as verlede jaar. Hy het ouers ook gerusgestel dat daar verbeterings aan die stelsel aangebring is om die aansoekproses te vergemaklik.

Die departement het die aanlyn stelsel asook die tweefasebenadering hersien en bevind dat dit beter is om ʼn enkele aansoekproses te volg. “Met hierdie aansoekproses stel dit alle aansoekers in staat om op dieselfde tyd aansoek te doen,” het Lesufi gesê.

Lesufi sê aansoekers sal ook vanjaar ingelig word oor die taal waarin ʼn bepaalde skool klasgee wanneer hulle aansoek doen. Die onderrigtaal, huistale en addisionele tale wat deur elke skool aangebied word, sal tydens die aansoektydperk op die stelsel sigbaar wees.

“Alle aansoekers sal ʼn geleentheid gegun word om aansoek te doen by ʼn skool van hul keuse, volgens die soort aansoek wat hulle bring. Dit is ʼn verbetering aan die stelsel, aangesien vorige klagtes wat ons ontvang het verklaar dat die skool van hul keuse soms nie vir applikante beskikbaar was om te kies nie. As sodanig sal alle skole vir alle leerders kiesbaar wees gedurende die aansoektydperk.”

Aansoeke vir alle gr. 1- sowel as gr. 8-leerders sal op 22 Julie om 08:00 open.

Volgens Lesufi moet ouers van gr. R-leerders- ook aansoek doen en kan dié leerders nie outomaties na gr. 1 oorskuif nie, selfs al doen hulle aansoek by die skole waar hulle tans ingeskryf is.

“Alle leerders wat teen 30 Junie 2023 ses jaar oud word en tans in gr. R by ’n skool of onderrigsentrum ingeskryf is, moet net soos ander voornemende leerders by ʼn minimum van drie en ʼn maksimum van vyf skole aansoek doen om toelating.”

Ouers en voogde sal kans kry tot 26 Augustus (sewe dae nadat aanlyn aansoeke gesluit het) om die nodige dokumente op die stelsel te laai of by die skool in te dien.

Ouers wat dokumente ná die aansoektydperk oplaai of indien, se aansoeke sal as onvolledig beskou word. Dié leerders sal dan eers van 1 tot 15 Desember by beskikbare skole geplaas kan word.

“Ouers sal tot sewe dae nadat die aanlyn proses gesluit het, ʼn outomatiese kennisgewing ontvang om hulle te herinner om die nodige dokumente op te laai,” sê Lesufi.

Elektroniese boodskappe sal per SMS gestuur word om ouers en voogde te herinner om hul aansoeke te voltooi en dieselfde kennisgewings sal op die ouer se profiel op die stelsel geskep word. SMS-kennisgewings wat aansoekers inlig of hul aansoek suksesvol of onsuksesvol was, sal vanaf 3 tot 31 Oktober gestuur word.

Ouers en voogde wat by kosskole in Gauteng aansoek doen, moet direk by geïdentifiseerde skole aansoek doen. Aansoeke by kosskole sal van 1 Junie tot 19 Augustus plaasvind.

Ouers van voornemende gr. 1- en gr. 8-leerders kan van 08:00 op Maandag 22 Julie aanlyn registreer by www.gdeadmissions.gov.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Weens onkunde het hierdie departement ‘n eenvoudige stelsel wat al die jare deur die skole sonder fout of flater bedryf is opgefoeter. Noudat die regering skool toelatings bedryf is hul altyd agter die skedule, die skole is altyd te klein en kinders word ver buite hul woonareas geplaas en dan word werksmetodes opgemaak soos hul teen struikelblokke vasloop. Pateties.

Owlie ·

Kan daar werklik verbetering in enige stelsel wees? Stop hierdie wye aansoeke in totaliteit en keer terug na kinders gaan skool in die area waar hulle tuisgaan en daar sal minder probleme wees met aansoeke, aanvaardings en plek in skole

Harley Davidson ·

Die lezufi karakter het so baie wit mense wat in sy kop verniet bly dat hy nie sy werk behoorlik kan doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.