Skoolaansoeke vir Wes-Kaap maak Maandag oop

skool-21.jpeg

Argieffoto

Aansoeke vir staatskole in die Wes-Kaap vir die 2021- akademiese jaar maak Maandag oop.

Die aansoekproses begin met aansoeke vir toelating wat van 17 Februarie tot 17 Maart 2020 beskikbaar is. “Die maand lange venster bied ouers voldoende geleentheid om hul aansoeke af te handel,” het Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Inskrywingsproses:
Aansoeke vir toelating maak oop: 17 Februarie 2020
Aansoeke vir toelating sluit: 17 Maart 2020
Ouers word in kennis gestel van die uitslag: 15 – 22 Mei 2020
Ouers moet bywoning bevestig teen: 5 Junie 2020

“Ek moedig ouers aan om by minstens drie skole aansoek te doen, insluitend hul naaste skool en om so vinnig as moontlik aansoek te doen – moenie tot die laaste minuut wag nie!” het Schäfer bygevoeg.

Ouers word aangemoedig om die aanlyn stelsel te gebruik om aansoek te doen. Dié stelsel is in 2019 van stapel gestuur en sal vanjaar na alle skole in die Wes-Kaap uitgebrei word.

Skole sal ouers help om aanlyn aansoek te doen as hulle nie in staat is om dit self te doen nie. “As dit nie moontlik is nie, dan sal die skool ʼn papier-aansoek verskaf.”

Die vereiste dokumente om mee aansoek te doen is:
– Gesertifiseerde afskrif van ID/geboortesertifikaat
– Immuniseringskaart/’Road to health’-kaart (slegs laerskole)
– Die leerder se jongste rapport (as die leerder reeds in ʼn skool was)
– ʼn Studiepermit wat deur die departement van binnelandse sake uitgereik is (as die leerder ʼn uitlander is).

Indien ʼn ouer nie toegang het tot die vereiste dokumente nie, kan hulle hul distrikskantoor kontak vir raad.

“Skole kan ook verdere inligting van ouers versoek afhangend van hul toelatingsbeleid, solank dit met die Suid-Afrikaanse Skolewet ooreenkom en voldoen aan die nasionale en provinsiale toelatingsbeleide,” het sy gesê. “Ek raai ouers aan om skole te kontak as hulle voor die tyd hul toelatingsbeleid wil nagaan om seker te maak hulle verskaf alle dokumente wat dié skole vereis.”

Sy het gesê registrasie op die toelatingswebwerf of deur ʼn aansoek in te dien beteken nie dat die leerder by ʼn skool ingeskryf is nie. “Ouers sal tussen 15 en 22 Mei 2020 deur e-pos of SMS in kennis gestel word van die uitslag van hul aansoek. As die leerder ʼn plek gekry het, moet die ouers voor 5 Junie 2020 bevestig dat hulle dit aanvaar. As hulle ná 5 Junie ʼn aanbod ontvang, moet hulle binne drie dae bevestig.”Ouers kan die departement van onderwys in die Wes-Kaap se webwerf besoek en gereelde vrae hier lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Nou hoe maak jy as jy eers 15 Desember 2020 hoor jy is van woe weet waar verplaas Kaap toe. Dan kan jou kind nie daar skool gaan nie want jy het nie in Maart aansoek gedoen vir plasing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.