Skoolfonds: Dís hoeveel ouers sal moet opdok

(Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Ouers wie se kinders vanjaar gr. R begin, kan verwag om R1,6 miljoen oor die volgende 15 jaar op te dok vir hul kinders se laerskool-, hoërskool- en universiteitsonderrig. Dit volgens berekeninge wat die beleggingsgroep Old Mutual gedoen het.

Dit is boonop indien jou kind in ʼn openbare skool skoolgaan. Indien jy ʼn private skool of universiteit kies, kan dit jou tot R3,7 miljoen uit die sak jaag. Die maatskappy het die berekeninge gebaseer op ʼn 9%-inflasiekoers, wat tans vir die onderwyssektor geld. Die koste van onderwys groei dus jaarliks met meer as inflasie.

Volgens Old Mutual se berekeninge sal jou kind se laerskool- of hoërskoolloopbaan in ʼn openbare skool gemiddeld R41 100 per jaar kos indien hy vanjaar vir die eerste keer skool toe gaan of in gr. 8 is. Indien jou kind in ʼn private skool is, sal dit jou jaarliks gemiddeld R100 700 kos, dus dubbeld soveel as ʼn openbare laerskool. ʼn Private hoërskool sal ouers jaarliks R161 000 uit die sak jaag.

Indien jou kind oor vyf jaar eers skool toe gaan (2025) sal jy R1,9 miljoen betaal net om hom of haar deur matriek te kry in ʼn openbare skool. Indien hy of sy eers oor tien jaar skool toe gaan, is die bedrag R2,3 miljoen oor 12 jaar.

Volgens navorsing wat die Skoleondersteuningsentrum in 2019 gepubliseer het, vermeerder sommige openbare skole se skoolfonds jaarliks met meer as 10%. Van die spogskole se skoolfonds beloop meer as R40 000 ʼn jaar.

“Dit beteken jy moet begroot vir R3 500 se skooluitgawes ʼn maand indien jou kind vanjaar skool toe gaan. Dit sluit nie in uniforms, skryfbehoeftes of buitemuurse aktiwiteite in nie,” sê Marius Pretorius, ʼn bestuurder by Old Mutual. “Indien jou kind in ʼn private skool is, moet jy vir meer as R8 000 ʼn maand begroot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Dan moet mens elke dag hoor hoe hierdie wesens kerm en kla dat almal skoolopleiding moet kry! Waar gaan dit eindig en wat word gedoen as jy dit nie kan bekostig nie. Almal kry nie alles verniet nie en moet net betaal sodat hulle vet salarisse kan ontvang. Ry die nuutste motors en bly in die mooiste huise terwyl die op soolvlak vergaan van ellende.

Wikkels ·

Elize, wie is die HULLE wat vet salarisse ontvang, na wie jy so verwys? Indien dit onderwysers is, moet jy asb jou woorde tel. Onderwysers verdien n staatsamptenaar-salaris op n glyskaal van ondervinding en kwalifikasies. Dit mag dalk anders werk by privaatskole. Jou kind se skoolfonds gaan aan fasiliteite, water en ligte en om ekstra personeel te betaal waarvoor die staat nie voorsien nie. Skole wat nie begroot vir ekstra personeel nie sien klasse met tot 55 leerders in. Ek hoop en glo jy verwys na die besluitnemers soos Lesufi ens. Jou skoolfonds kom nie by hulle uit nie.

netMYopinie ·

Ja nee, nou verstaan ek baie mooi dat party mense nie kinders wil hê nie. Dis letterlik n huis of klein plot se prys oor amper dieselfde tydperk.

Moedeloos ·

En weereens betaal baie skole se kinders geen skoolgeld nie of baie min. Op die einde kry almal dieselfde tipe onderrig en werk as jy gelukkig is. Kan dit nie aldag verstaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.