Skoolgeveg-webtuiste ‘kweek gewetenlose wreedheid’

'n Skermskoot van die webtuiste

‘n Skermskoot van die webtuiste

Hettie Brittz, hoof van Immergroen Ouerskap, sê die webtuiste wat video’s van gevegte tussen skoolkinders oplaai ‘kweek ‘n gewetenlose wreedheid onder die volgende generasie’.

Maroela Media het vroeër oor die webtuiste www.schoolfights.co.za berig. Die webtuiste nooi mense uit om video’s van skoolgevegte in te stuur.

Brittz sê volgens navorsing wat deur Tall Trees Profiles en Immergroen Ouerskap onder tieners in skole gedoen is, is Afrikaanse tieners nie geneig om betrokke te raak wanneer daar boeliegedrag plaasvind nie. “Hierdie passiewe kultuur is reeds ongesond. Voeg daarby ‘n bietjie aanmoediging om nie net eenkant te staan nie, maar boonop die slagoffer se verleentheid en magteloosheid uit te buit deur dit te verfilm en op die internet te plaas, en ons kweek ‘n gewetenlose wreedheid onder die volgende generasie.”

Brittz sê dis ondenkbaar dat iemand selfs die voorstel sou maak dat kinders ‘n geveg moet begin of moet aanhits ten einde “goeie” beeldmateriaal te bekom. “Dit wil lyk asof hierdie webwerf en Facebookblad presies dit doen. Sulke optrede deur die persone agter die webwerf en deur diegene wat daar video’s oplaai, laat my dink aan mensehandel en gedwonge prostitusie, want dit deel dieselfde siek denkpatroon. Jou waardigheid en regte tel nie. Jy is geen hulp werd nie. Ek hoef nie na jou krete of trane te luister nie. Ek kan jou gebruik. Ek kan geld uit jou maak. Besigheid is besigheid.”

Volgens Brittz sou dit ‘n skandelike versuim wees as daar nie ten sterkste teen alle betrokkenes opgetree word nie. “Opvoeding is ook uiters noodsaaklik. Sommige skole het reeds ‘n beleid dat omstaanders saam met boelies gestraf word. Kinders wat ‘n geveg sien, mag net een van twee reaksies kies: Help, of gaan roep iemand wat kan help. Die opsies vir slagoffers om hulleself te verweer, moet ook deel van hierdie opvoedingsproses wees.”

Lees ook:
Videowebtuiste van skoolgevegte ‘hits geweld aan’
Onderwysdepartement veroordeel skoolgeveg-webtuiste

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.