Skoolhoof kry Covid-19 toe sy man wou red

Carinda Habig (44), hoof van Rietvlei Akademie in Pretoria (Foto: Verskaf)

“Dit was nie eens vir my ʼn opsie om nié die man te help nie.”

Só vertel Carinda Habig (44), hoof van Rietvlei Akademie in Pretoria, ná sy ’n man met Covid-19 se lewe probeer red het deur kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op hom toe te pas. Ondanks die reddingspoging het die man op die toneel omgekom. Die man het op die skool se perseel saam met een van die onderwysers en hul vier jong kinders gewoon.

Habig het geweet die man het Covid-19, maar het steeds haar lewe gewaag om hom te probeer help. Sy het deur dié barmhartige daad self Covid-19 opgedoen, maar sê as sy kon kies, sou sy dit weer doen.

Habig vertel sy het op 31 Augustus klas gegee toe die betrokke man se seun haar na hul huis toe roep. Habig het dadelik gegaan, al kon die seun nie vir haar sê wat presies fout is nie.

Sy het egter geweet die gesin het almal ʼn ruk gelede positief vir Covid-19 getoets. Van die kinders is ook leerders aan die skool.

Nadat die kinders se ma as onderwyseres by die skool aangestel is, het die gesin verblyf benodig en die skool het die wooneenheid op die perseel vir hulle aangebied.

Habig vertel toe sy in die huis kom, het sy die man in die kamer halflyf van die bed af aangetref. Hy het reeds sy bewussyn verloor.

Sy het vir ongeveer 15 tot 20 minute lank CPR op hom toegepas en alles probeer doen om die man se lewe te red. Die nooddienste is ook in die proses ontbied.

“Ek kon hom egter nie bybring nie. Toe die ambulans opdaag, het paramedici hom ongelukkig op die toneel dood verklaar.”

Habig het net ná dié gebeurtenis self positief vir Covid-19 getoets.

“Mense verstaan nie waarom ek my eie gesondheid in gedrang gebring het om die man te help nie. My passie vir mense is te groot om anderpad te kyk as daar iemand in nood is.”

Habig sê sy het nie erge simptome gehad nie en het reeds van die virus herstel.

“Ek het tipiese verkouesimptome getoon – hoes, moegheid en lyfseer. Ek is reeds ingeënt en glo dit het gehelp dat ek nie die virus so erg kry nie.”

Volgens ouers en onderwysers van die skool is Habig altyd beskikbaar om iemand in nood te help. Een ouer sê sy het by Habig geleer wat dit beteken om werklik vir jou medemens om te gee. “Sy het alles gedoen in ’n poging om ’n ander mens se lewe te red, ten koste van haarself,” vertel die ouer.

Habig het Rietvlei Akademie 16 jaar gelede gestig. Dít is ’n privaat skool wat fokus op kleinklas-onderrig vir aandagafleibare kinders of kinders wat sukkel om in die hoofstroomskole aan te pas weens sekere emosionele of sielkundige uitdagings.

Habig is self aandagafleibaar en het daarom ’n groot passie vir kinders met dieselfde toestand. As jong onderwyseres het sy gou besef daar is ’n behoefte aan ’n skool vir kinders met hierdie toestand of wat nie heeltemal in die hoofstroomskole kan aanpas en ontwikkel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maggies ·

Sy klink na ‘n wonderlike mensie. Ek wens haar net voorspoed en seën toe.

Harley Davidson ·

Die vrou is regtig baie dapper maar haar besluitneming is te emosioneel, maar ja sy verdien ‘n medalje.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.