Skoolhoof moet weer leer loop ná ongeluk

Phillip du Plessis sterk in die hospitaal aan. Foto: Verskaf

ʼn Lang pad van herstel lê nog voor vir Phillip du Plessis (55), die hoërskoolhoof van die Oos-Rand wat vir lank soek was terwyl hy in ʼn kritieke toestand in ʼn hospitaal gelê het.

Hy het onder meer bloeding op die brein opgedoen, sy linkerbeen gebreek, nek beseer en sal vir rehabilitasie moet gaan voordat hy weer sal kan loop nadat hy op 4 Julie tydens die skoolvakansie deur ʼn voertuig raakgery is.

ʼn Grootskaalse soektog is op 17 Julie na Du Plessis, skoolhoof van die Sandringham High School in Johannesburg, van stapel gestuur nadat hy nie vir die nuwe kwartaal by die skool opgedaag het nie. Die personeel het ook opgemerk dat een van die skool se voertuie nie daar is nie. Dié bakkie is by Carnival City deur middel van ʼn opsporingtoestel gevind.

Kringtelevisiebeeldmateriaal het gewys hoe Du Plessis op 4 Julie omstreeks 18:40 in die skool se bakkie daar opgedaag het.

Anrie Saunders (30), Du Plessis se susterskind, het destyds aan Maroela Media gesê die familie kon daarna vasstel haar oom het omstreeks 22:00 dieselfde aand verward by Carnival City uitgestap. Die bakkie is daar gelaat.

Du Plessis het alleen gewoon en daar was ook geen teken van hom by sy huis nie. Sy familie het hom uiteindelik op 20 Julie in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal aangetref nadat hulle al die lykshuise en hospitale in die omgewing gaan besoek het.

“My oom is ʼn diabeet. Sy bloedsuiker het erg geval en hy was verward en het nie geweet wat om hom aangaan nie. Daar is ná die tyd bloedtoetse op hom gedoen wat gewys het sy suiker was baie laag. Hy het besluit om na sy huis in Impalapark te stap toe hy omstreeks middernag in Trichardstraat deur ʼn voertuig raakgery is.”

Van daar is Du Plessis deur ʼn ambulans na die Tambo Memorial-hospitaal geneem waar hy gestabiliseer is voordat hy na Charlotte Maxeke oorgeplaas is. Daar is hy onder verdowing gehou aangesien hy tydens die ongeluk bloeding op die brein opgedoen het. Hy het ook geen vorm van identifikasie aan hom gehad wat hospitaalpersoneel na naasbestaandes kon verwys nie.

“Toe ons hom daardie Vrydag [20 Julie] vind, was hy nog onder verdowing, maar het nou en dan wakker geword en het ons herken. Ons was so dankbaar dat ons hom opgespoor het,” het Saunders Woensdag aan Maroela Media gesê.

Du Plessis is intussen van Charlotte Maxeke na die Life The Glynnwood-hospitaal oorgeplaas en word tans in ʼn neurologiese saal behandel.

“Hy word nie meer onder verdowing gehou nie en is van die asemhalingsmasjien af. Hy sukkel egter om te praat, is by tye deurmekaar en raak gou moeg en slaperig. Hy word tans behandel om ʼn infeksie te beveg en as dit eers beter gaan, moet hy na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas word sodat hy weer kan praat en behoorlik kan beweeg.”

Saunders het gesê daar is vrese dat Du Plessis verlam is aan sy regterarm en -been. “Hy moet drie dringende skanderings vir sy nek en rug ondergaan maar die geld vir radiografie in sy mediese fonds is uitgeput. Hy sal eers na die rehabilitasiesentrum oorgeplaas kan word as die skanderings gedoen is.”

Sy het gesê die familie poog nou om met die hulp van ʼn prokureur ʼn fonds te begin om Du Plessis met sy mediese en rehabilitasie-onkoste by te staan.

“Hy sal minstens eers oor ses maande ligte diens kan begin verrig en dit sal tussen ʼn jaar of twee neem om ten volle te herstel. Hy het ʼn swaar hou weg en ons moet poog om vir hom ʼn versorger te kry.”

Saunders het gesê die ondersteuning wat Du Plessis en die familie van die skool en die gemeenskap ontvang is oorweldigend.

“Omdat hy so alleen gebly het, het ʼn mens nie begryp hoe baie mense daar buite vir hom omgee en besorgd is oor hom nie. Ons wil graag almal bedank vir hul ondersteuning en gebede. Alle eer gaan aan die Here wat hom beskerm het en lewend gehou het sodat ons hom kon kry,” het sy bygevoeg.

Phillip du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.